GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/gtbbqd-hemelsblou-seegroen-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Hemelsblou & Seegroen

― Hoofstuk 1 ―

“Ek wens ek was jy.” Mia trek ’n toppie uit die hoop klere op Tanya se bed en hou dit voor haar bors. “Twee weke by die see, opper salig!”

“Jy bedoel twee weke in ’n simpel woonwa saam met Altus!” Tanya spoeg haar jonger broer se naam uit soos ’n suur lekker wat per ongeluk in haar mond beland het. Sy vat die toppie uit Mia se hande, “Gee hier, dit moet saam,” en prop dit in ’n swart sak.

“Hierdie ook?” Mia hou ’n stukkie bikini in die lug op. “Dis mos laas jaar s’n, ek sweer jy peul uit. Jy’t dikker geword.”

“Dan moet ek maar peul.”

Die gesprek haper, maar lank kan Mia die stilte nie verduur nie.

“Is iets verkeerd? Jy’s so grommig soos ’n brombeer met vlooie, is dit oor julle see toe gaan? Julle gaan mos altyd elke Desember.”

“Presies. Elke jaar dieselle-ouselle vervelige staanplek in ’n vervelige karavaanpark vol vervelige oumense wat heeldag sit en bier suip en vleis braai. Waar ons gaan was laas nie eers Wi-Fi nie!”

“Dis stukkend,” gee Mia toe, “maar eintlik gaan mens mos see toe om op die strand te lê en die oulike ouens uit te kyk, dan nie?”

“Watter oulike ouens? Ek moet hulle nog sien.”

Mia skud ongelowig haar kop.

“Dis doodgewoon onnatuurlik, jy’t nog nie een keer ’n vakansieromanse gehad nie, en ek weet ek het dit al voorheen gesê maar ek sê dit weer, dis hoog tyd dat jy ’n slag op my skouer kom huil oor ’n ou. Was jy nou regtig nog nooit ooit verlief nie?”

“Seker maar nie. Die ouens wat ons ken is almal so kinderagtig.”

“Is daar niemand van wie jy hou nie?”

“Wel, ek is mal oor prins Harry,” erken Tanya, maar dit, sê Mia, geld nie want almal is mal oor prins Harry.

’n Rukkie is al twee besig met hul eie gedagtes terwyl Tanya werktuiglik klere in die swart sak stop en Mia ’n groot pienk teddiebeer knuffel. Skielik gooi Tanya die sak op die vloer en plak haar langs Mia op die bed neer. Sy kan nie meer stilbly nie, sy móét deel.

“Dis nie die ellendige vakansie nie, dis net dat ek nie meer weet wát om te dink nie. Alles is so anders – ” Haar stem skiet uit en haar gesig trek op ’n huilplooi.

Verskrik laat val Mia die teddiebeer en sit haar arm om Tanya se skouers.

“Wat gaan aan? Kan ek help? Toe, vertel vir Mamma Mia,” sus sy.

Tanya hik en snuif die dreigende nattigheid weg voordat sy antwoord.

“My ma’le steek iets vir my weg. Toe ek laas week kla oor die alewige woonwavakansies sê Pa vir my ek beter dit geniet want dit sal die laaste een wees maar hy wou nie sê hoekom nie. En hulle stry, en ek kan nie agterkom waaroor nie.”

“Luister jy dan nie af nie?”

“Kan nie, hulle hou op as ek naby kom.” Tanya vee oor haar neus en gryp Mia se hand vas. “Ek is so bang, Mie, sê nou maar hulle gaan skei of iets? Almal se ma’les skei deesdae.”

“Ag nee, man, dis seker nie so erg nie. Dalk gaan jou pa net sy werk verloor – of,” bedink Mia skielik met groot oë, “miskien beplan hulle om te emigreer Australië toe. Dink net, dan kan jy weer met Suzi maats wees!”

“Nee, ek glo nie.”

“Nou wat dan? ’n Dodelike siekte? Jy weet daardie boek wat my ouma my nou die dag gegee het? Dit het gegaan oor iemand wie se pa besig is om aan kanker dood te gaan, ek kon dit nie eers klaar lees nie so aaklig was dit. Ek dog nog ewe Ouma gee dit om my voor te berei, jy weet, op die ergste, maar gelukkig was dit net oor sy gedink het dis opvoedkundig. Ek kry nou nog koue rillings as ek daaraan dink!”

“Hou op!” Tanya maak haar ore met haar hande toe.

Mia gee Tanya se skouers ’n drukkie.

“Volgens daai boek is die kinders altyd die laaste om te weet.”

Tanya laat sak haar hande en staar voor haar uit.

“Hulle gaan skei, en dis my skuld.”

“Hoe kan jy so sê?” Mia trek ’n snesie uit die boks op Tanya se bedkassie en gee dit vir haar.

Tanya blaas haar neus.

“Dit is. Ek sweer Pa wil my nie meer hê nie, hy dink ek is onhebbelik en nou gaan hy van Ma skei om van my ontslae te wees.”

Mia se oë rek amper so groot soos pierings.

“Waar kom jy daaraan?”

“Jy weet mos hoe hy altyd kla oor my klere en my hare en naellak en alles, nou ja, gister toe ek ’n tat op my enkel gehad het raak hy skoon ballisties. En hoe meer ek sê dis nie ’n regte een nie, net so ’n plakdingetjie uit die krispieboks, hoe meer gaan hy tekere en wil niks hoor nie. Al my sondes is opgehaal, tot by my punte vir skeinat laas eksamen, my sogenaamde onverdraagsaamheid teenoor Altus, my laat-uitblyery van die ander aand – ”

“Jy’t mos goed gedoen in skeinat.”

“Ja, maar afgesien nou daarvan. Op die ou end sê hy vir Ma sy moet haar kind, dis nou ek, ’n slag vasvat en regkry – ” Tanya byt op haar lip.

Mia wag, want dis duidelik nie al nie, maar toe dit te lank duur, vra sy, “En wat sê jou ma toe?”

“My ma sê toe, wel dis jou kind ook, en toe – ” Sy hik en tussen ’n paar nat snikke deur stamel sy, “En toe – toe snork hy – en sê net – hy sê net ‘Ha!’”

“‘Ha!’? Dis al, en toe loop hy?”

Tanya knik haar kop. Sy sug dat haar onderlip eintlik bewe en sluk haar trane weg.

“Jy weet wat dit beteken, nè?”

Mia se mondhoeke trek af en haar wenkbroue lig op terwyl sy dink.

“Nee,” sê sy na ’n rukkie. “Wat beteken dit?”

“Dit kan net een ding beteken.” Tanya is duidelik baie ontsteld. “Ek is nie my pa se kind nie.”

Dit vat ’n oomblik om in te sink, dan, “Jy reken jy’s aangeneem?”

“Nee, sot, dis nie wat ek bedoel nie. Ek bedoel dat Ma – ” Maar Tanya kan nie die woorde verder uitkry nie en sy laat haar kop sak. Mia vryf oor Tanya se hare en haar vingers raak verstrengel in die lang slierte.

“Eina!”

“Jy moet ’n slag jou boskasie borsel,” maan Mia.

“Jy klink nou nes my pa. Ek bedoel – ”

“Jy bedoel die man wat jy nog altyd gedink het is jou pa.” Mia het gesnap wat Tanya vermoed. “Jy reken jou ma het ’n affair gehad en jou pa – ek bedoel haar man, het uitgevind?”

“Wat anders? En ek was die gevolg daarvan, en nou wil hy skei want hy is moeg vir my. Hy sal seker vir Altus saamvat, dié is mos sy eie ou witbroodjie,” voeg sy bitter by. “Kan nooit iets verkeerds doen nie, ek kry altyd skuld vir alles.”

Mia kyk haar onseker aan.

“Dit klink na ‘n drama in drie bedrywe. Vier.”

“Jy sou nie so sê as jy daardie ‘Ha!’ gehoor het nie.”

Mia gryp weer die pienk teddiebeer en druk dit teen haar bors vas. Tanya hou haar dop.

“Ek dink ek moet maar wegloop.”

“Waarnatoe?”

“Weet nog nie. Miskien Australië, ek is seker tannie Elise sal nie omgee om my te hê nie.”

“En dan?”

“Dan niks. Dan is ek uit my pa – ek bedoel, uit sy pad uit en hoef hulle nie te skei nie.”

“Is jy ernstig?”

“Wat anders?”

“Gee kans laat ek dink.” En terwyl Tanya verwoed klere in die swart sak stop, sit Mia in gepeins versonke. Na ’n ruk sê sy stadig, “We-el, hier’s ’n idee – ”

― Hoofstuk 2 ―

En hier waar sy nou op ’n duin sit en na die see voor haar staar, wens Tanya sy het nooit van Mia se idee gehoor nie. Haar vingers pluk-pluk aan die kakiekleurige kniebroek wat Mia uit haar ma – haar má! – se klerekas opgediep het en wat sy nou al vir die tweede dag dra. As sy loop fladder die ding om haar bene wat gewoond is aan denim-kleefjeans of ’n styfpassende kórtkortbroekie. In plaas van haar toppie met die veterbandjies het sy ’n simpel T-hemp sonder prentjie of slagspreuk aan, en hoewel sy die moue opgestoot het tot by haar skouers, kan sy sommer voel hoe haar sonbruin met die minuut saam aan ’t verbleik is. Met ’n diepe sug dink sy terug aan daardie middag, vier dae gelede –

· · ·

Al die klere wat sy in die sak gegooi het om saam te vat, is vervang deur wat Mia bestempel het as “fatsoenlike goed”, meeste uit haar ma se oorvol kas want, het sy gesê, haar ma is ewe lank en lekker wyd en dan pas dit gemaklik. Min of meer. Ja, het Tanya geprotesteer, maar jou ma is stokoud. Amper veertig!

Maar Mia wou nie hoor nie en het verduidelik dat Tanya se pa – Tanya het onmiddellik met haar vingers in die lug aanhalingstekens gekrap – dat Tanya se “pa” ook al net so oud is en dus sal sulke klere vir hom mooi wees.

“Dra jou ma kleefjeans?” het sy gevra en, toe Tanya antwoord, “Is jy mal!”, gesê dit bewys mos sy’s reg.

“Maar hierdie wye goed is outyds, noupypbroeke is in,” het Tanya desperaat geprobeer. “Gaan kyk by enige winkel.”

“Sal jou ma dit dra?” was Mia se teenvraag, en weer moes Tanya toegee.

“Nee.”

“Nou ja, hou dan op kerm, dis in elk geval net tydelik.”

Dit wat sy nie by haar ma kon “leen” nie, het uit die vergete pakplekke gekom van ’n winkel wat trots die datum 1848 op sy gewel vertoon. Mia het presies beduie wat hulle soek.

’n Donkergrys seunskortbroek (met deugdelike pype, volgens Mia se vereistes), ’n paar rokke (rókke!), ’n wit toeknoop-bloese met moue en ’n kragie –

“En seker sokkies en toerygskoene?” het Tanya opstandig-sarkasties gevra, maar Mia het nie gedink dis nodig nie.

“Sandale is reg. Of Crocs, ons kry vir jou Crocs. Pienkes.”

Tanya was nog nie herstel van die amper-floute nie toe Mia vra vir swemklere.

“Eenstukke is weer hoogmode,” het die verkoopsdame haar verseker en ’n paar op die toonbank uitgestal.

“Ingeboude boebies,” het Mia verruk gekraai, “en sulke grotes!”

Die dame het krities na Tanya se nog amper plat voorkant gekyk.

“Hmm, ja, jou vriendin is eh – petite.”

“Twee ertjies op ’n plank,” het Mia beaam. Sý het al in graad ses haar eerste bra gekry en toe Tanya haar ma daarvan vertel het, het dié gesê Tanya moenie jaloers wees nie, sy was nog altyd ’n laatkommertjie. Het glo op drie jaar eers geloop en op vier begin praat, die boesem sal nog kom. Ja, reg, groot troos!

Intussen ’n simpatieke kopknik van die verkoopsdame en, “Miskien ’n kleiner nommertjie?”

“Nee!” het Tanya hees gemompel.

Maar sy het geweet die stryd is verlore toe Mia ’n blink gedoente in helder turkoois voor haar hou en dit krities bekyk.

“Hmm, ja, dis beslis jy. Wil jy eers aanpas?”

“Nee, ek gaan dit in elk geval nie dra nie.” Tanya het omgedraai en begin wegstap terwyl Mia vir die aankope betaal.

“Jy kan my dit maar skuld,” het sy goedgunstig gesê toe hulle weer op die sypaadjie is op pad huis toe.

“Wat van my bikini?”

“Dié bly by my. Jy kan dit later terugkry, as alles uitgesorteer is en dit dan nog pas.”

“Jy meen as ek klaar is met skool en uit die huis uit en so vet soos ’n ou antie van al die melkterte wat ek moes bak en opeet.” Tanya se stem was bitter.

Mia het bly staan. En nadat Tanya hiernatoe en daarnatoe gestry het, het sy op die ou end gevra, “Wil jy hê jou ma’le moet skei of nie?”

Tanya het haar kop geskud. Nee, sy wil nie hê dat hulle gesin opgebreek word nie, en dit deur haar skuld. Dalk is Mia reg en sal haar pa – “pa” – haar leer liefkry of in elk geval verdra as sy ophou om altyd dwars-in-die-weg te wees en haar, soos Mia dit stel, fatsoenlik aantrek.

Ook geen ooggrimering, geen lipstiffie, geen moderne haarstyle en veral geen tatoes nie, het Mia voorgeskryf.

En Tanya het belowe.

· · ·

Tanya sit so diep ingedagte dat sy wip soos sy skrik toe iemand skielik by haar sê, “Is hierdie sand vry?”

Sy kyk vas in ’n paar vonkelende groen oë. Die gesig waaraan hulle behoort is glad nie onaardig nie, stel sy onbewus vas, met ’n reguit neus en ’n breë glimlag vol spierwit tande. Geen puisies, inteendeel, ’n sweem van stoppels op die vierkantige ken. Die lyf wat effens vooroor leun is lank en skraal met bruingebrande sterk bene. Kaalvoet. Heel skaflik. En hier sit sy met ’n wye T-hemp en ’n nog wyer broek aan. Tipies.

Sonder verdere seremonie plak hy hom neer op die sand langs haar. By ’n uitgerafelde denimkortbroek dra hy ’n tanktop en op die kaal bo-arm naaste aan haar pryk ’n tatoe. ’n Skedel met twee gekruiste bene daaronder. Tanya vergeet skoon van sy oulike gesig en haar oumensbroek en verkyk haar so daaraan dat sy nie eers hoor toe hy praat nie.

“Ek is Rick.”

Stilte.

“Kort vir Diederick.”

Geen antwoord.

“Halló-ó?”

Tanya pluk haar bewonderende blik van die skedel af.

“Is dit eg?”

“Ja, ek vrees so. Ou familienaam, Diederick.”

Tanya frons verward.

“Wie’s Diederick?”

Rick gooi ’n handvol sand op haar knieë uit.

“Lyk my jy’s suf verby, is jy besig om te mediteer of iets?”

Sy vee die sand van haar af en wys na sy arm.

“Is dit ’n regte tat?”

“Hierdie ou ding? Nee, ek kleur hom elke oggend met spoegies in.” Hy stryk met sy hand daaroor. Tanya maak haar mond oop, maar hy spring haar voor. “Natuurlik is dit ’n regte een, dink jy ek sal prentjies uit vlokkieboksies op my plak?”

Tanya onthou die oorsaak van haar probleme en bloos.

“Nee, natuurlik nie, dis vir kinders. My klein boetie vat hulle altyd.”

“Net so. Het jy ‘n regte een?”

Sy skud haar kop.

“My ‘pa’ slag my af.” Onwillekeurig is die aanhalingstekens daar en Rick sien dit raak.

“Stiefpa?”

Tanya trek haar skouers op.

“Dis ingewikkeld.” Sy is nie lus om haar huislike probleme aan ’n wildvreemde uit te blaker nie. “Wat beteken die tat?”

“Dis mos die seerowers se logo, volg jy nie die Pirates of the Caribbean flieks nie?”

“Ja, maar jy’s tog nie Jack Sparrow nie.” Sy hoor self hoe snipperig dit klink, maar gelukkig neem Rick blykbaar nie aanstoot nie. Hy lag net saggies.

“As jy maar net geweet het!”

“Nou maar sê,” daag sy.

“Nie nou al nie, ek moet eers weet wie jy is en of ek jou kan vertrou.”

“Dis maklik. Ek is Tanya Malan en jy kan my maar vertrou. Sien?”

Hierdie keer lag hy hardop en steek sy hand uit.

“Ons sal wel sien. Ek is Rick Botha.” Hy hou haar hand in sy sterk greep vas en trek haar saam met hom op. “Kom ek koop vir jou ’n koeldrank, dan gesels ons verder.”

Skielik is Tanya weer bewus van haar klere. Daar is geen manier waarop sy só aangetrek saam met iemand van die mansgeslag gesien wil wees nie.

“Nee, dankie, ek moet teruggaan, my ma soek my seker al.” Sy rem aan haar hand, maar Rick hou vas.

“Ek stap sommer saam met jou, is julle in die karavaanpark?”

Eers wil Tanya dit ontken, maar dit gaan nie help nie want waarheen gaan sy dan? Dus sê sy maar ja. Sy hoop net Pa is nie daar nie, want sy sidder by die gedagte aan wat hy gaan sê as hy die kunswerk op haar nuwe vriend se arm sien.

“Kamp julle ook hier?” Miskien sal hy voor die tyd afdraai na hul eie woonwa. Maar nee, hy skud sy kop.

“Ons bly op die dorp, ou ingesetenes. My ouers dink mens het ’n paspoort nodig as jy Gauteng toe wil gaan.”

Tanya lag asof sy nog nooit die ou grappie gehoor het nie, en saam stap hulle verder.