GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/fxkdxf-die-bekende-vreemdeling-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Bekende Vreemdeling

— HOOFSTUK 1 —

NOOIENTJIE VAN DIE BERGE

In die grou môrelig is sy skaars sigbaar. Etlike minute sit sy nou al roerloos op haar appelblou-skimmel; met wakker, grys-groen oë bespied sy die wêreld om haar heen. Die ligte oggendluggie wat van die Rooiberge se kant af waai, streel verkoelend teen haar gesig en hare aan.

In die grys oggendskemering is die geel blomme van die soetdoringbome reeds sigbaar. Verder teen die hang van die berg op is die swarthaak en die vaal kameeldorings egter nog steeds een donker vlek.

Agter die kliprante en die bosse in die ooste word ’n paar vlieswolkies reeds in ’n karmosynkleur gedoop; sy weet dus dat die son binne ’n halfuur vuurrooi agter die horison sal uitbol.

Die geur van heuning en wilde malva hang skerp in die lug. Sy asem dit diep in en voel tegelykertyd die polsing van jong lewenskrag deur haar are. Dit is asof sy haar vanmôre meer as ooit tevore een voel met die natuur, of sy die groeikrag en lewensdrang in elke geluid, in elke geur kan ontwaar.

Sonja Peterson sit dwars op die saal en haar een hand omklem die saalknop. Sy luister aandagtig na die geluide; en vaagweg dring die hees gerunnik van wilde perde nou tot haar deur. Sy stuur dadelik haar perd vorentoe tot onder ’n vaal kameeldoring, waar die lig nog flou-grys lê.

Sonja klop haar perd gerusstellend teen sy gespierde nek, want hy het sy ore dadelik gespits. Daardie gerunnik van perde, ongetemde perde, diep uit die klowe, maak hom ook altyd lewendiger. Dit is dan asof hy, soos sy nonnie, verlang om wild en na aan die natuur te lewe.

Tydens die rit van die huis af hierheen het Sonja se rok tot vlak onderkant haar knieë geskuif, maar hier waar sy alleen is, ver van mense af, hinder dit haar nie; haar oë soek net teen die hang van die Rooiberge op, dan rus hulle verwagtend op ’n digbegroeide kloof. Sy wag met ’n intense spanning; dit is asof daar iets moet gebeur, nou-nou moet gebeur, ’n groot natuurwonder. Sy word ongeduldig. Vinnig spring sy van die perd af en stap haastig na ’n groot rotsstuk voor haar. Moepelbosse, katbosse en stoppelgras groei om die rotsblok. Sy klouter teen die rots op, beur tussen die katbosse, met hul fyn, geniepsige dorinkies, deur, maar haar grys-groen oë bly steeds op die donker skaduwees wat in die kloofdieptes lê, gerig. Dit is asof sy verwag dat die natuurwonder dáár moet plaasvind.

Vaagweg dring die ander veldgeluide nog tot haar deur – die geroep van ’n boskorhaan, die gekekkel van uitbundige tarentale, die waarskuwende gefluit van ’n vaalribbok, die veraf gebulk van beeste, die geraas van die rivierwater wat hier al teen die berg langs in ’n suidwestelike rigting vloei.

Sonja maak die leergordel om haar middel effens vaster en haar hand streel oor die kolf van ’n rewolwer wat by die holster aan haar gordel uitsteek.

Die meisie is kaalkop en haar swart hare hang in sierlike kartels op haar skouers. Sy vee nou ’n lastige krul wat dreig om oor haar oë te val en haar uitsig te belemmer, agteroor, dan trek sy haar vuurwapen uit sy holster. Sy hou dit ’n oomblik in haar handpalm; dit voel lig en koel.

Opeens vaar daar ’n rilling deur haar liggaam.

Dáár is die geluid weer waarop sy gewag het: die lang, roepende gerunnik van ’n perd, ’n wilde perd. Dit is die geroep van die leier van ’n trop. Sonja ken sy stem al, daardie triomfgeroep, die geroep van die baas van die Rooiberge. Die gerunnik weergalm lank deur die klowe.

Hy sal nou-nou – soos elke oggend – tussen die bosse te voorskyn kom. Fier en groot en sterk sal hy op die swart doloriet tussen die hoë volstruisbosse verskyn om die wêreld onder hom te bespied.

Net ’n oomblik wag sy ademloos en in spanning, dan klink die gerunnik weer op, helder, luid, uitdagend.

Tjaka roep; Tjaka het sy trop beveel om hom te volg; om uit die bosse af te kom na die koel waters van die rivier om hul dors te les, om af te daal na die bosvlaktes, om die rosyntjiebosse by te dam, daar te wei en te baljaar – en weer die klowe in te vlug wanneer die gevaar van mense dreig.

Sonja se gesig voel warm van opwinding.

Sy sien eers die dier se groot kop, die wakker oë, die lang maanhare; dan staan hy daar op die swart doloriet asof dit sy troon is, waarvandaan hy soos ’n koning afkyk na die vlaktes. Al is dit nou al lig, smelt sy swart gestalte byna ineen met die swarthaak agter hom; ook die dolorietrots, waarop sy gestalte fier staan, lyk asof dit aan hom behoort; die rotsbeeld van ’n perd op ’n swart voetstuk! Tjaka staan roerloos. Hy kyk af na die gehuggie waar ’n paar mense – fortuinsoekers, beesboere en diewe – saamdrom langs die rivier wat by ’n paar winkels, enkele huise, ’n hotel en ’n smidswinkel verbyvloei.

Ja, dit is al gevaar wat Tjaka vrees, peins die meisie. Hy vrees die mense van die gehuggie wat hom van sy vryheid wil beroof, hy vrees die skietgoed van gewetenloses wat al etlike lede van sy trop in die berge doodgeskiet het. Hoe dikwels het ’n dosyn of meer ruiters nie al geprobeer om hom in die klowe by steil kranse vas te keer en hom met vangtoue vas te woel nie! Maar Tjaka is hul bobaas. Dit is sy Rooiberge en sy klowe.

Dan swaai Tjaka sy kop en sy sien hoe die swart maanhare skud. Nou is sy volle gestalte sigbaar. Die eerste strale van die son skyn op die gladde vel van die dier, byna asof hy elke dag versorg word, elke dag deur iemand geroskam word. Die lang, swart stert swaai sierlik heen en weer om lastige perdevlieë te verdryf.

Nou kom daar ander perde uit die bosse agter Tjaka te voorskyn. Die toneeltjie hier voor haar laat Sonja stom van verbasing. Sy wonder weer hoe hierdie diere hier kom; hoe Tjaka wild geword het. Miskien het Tjaka jare gelede toe sy voorouers saam met trekkers hierdie ontembare half-woestyngebied binnegetrek het, as vulletjie wild die berge ingebaljaar. Miskien is daardie trekkers, met wie Tjaka se voorouers saamgetrek het, deur Boesmans of Korannas uitgemoor. Of miskien het die trekkers van dors omgekom, het hul diere wild geword en aangeteel en is Tjaka as ’n vry perd, wat die mens as vyand beskou, hier in die ontembare woesteny gebore.

’n Onweerstaanbare drang om Tjaka te kan besit pak Sonja beet. Was sy ’n man, sou sy heeldag in die veld boer, hier tussen die klowe, besig om planne te beraam om Tjaka hare te maak. Sy sou nie rus voordat sy op sy gespierde rug sit nie. Sy sou nie rus voordat sy die ontembare van die Rooiberge getem het nie. Maar miskien moet hy nie getem word nie, miskien sal al sy mooiheid en sy grasie dan verdwyn. So ’n mooi dier se eie, woeste wil moet ’n mens nooit vernietig nie; dit sal soos ’n veldlelie wees wat jy afbreek en in jou huis in jou blompot sit, en wat na enkele ure sy skoonheid en prag verloor.

Haar verbeelding ruk skoon handuit. Sy sien haar op Tjaka se rug en sien hoe sy deur die enigste straat van die gehuggie ry, by die mense verby wat dikwels met soveel veragting op haar neersien. Ja, veral verby die vrouens van Kuruman wat haar so fel haat, juis omdat hul mans haar nie haat nie, haar selfs vriendelik groet en alte graag sommer baie wil gesels as die vrouens nie by is nie. Hoe haat sy die huigelary van dié mense! Dikwels het van die jongmans wat dit nie waag om in die openbaar met Sonja Peterson te praat nie, haar hier in die veld teengekom, en dan was haar lewe baie onveilig. Dan sien hulle nie meer met ’n veragtende oog op haar neer nie, maar hulle vertel haar hoe mooi sy is, nooi hulle self uit om te kom kuier, of probeer haar soen. Maar sy vermy die paaie waarlangs die Kurumanners wat net aan beeste, diamante, drank en vroue dink, ry. Sy soek liewer die bosse op – en sy dra altyd ’n vuurwapen by haar.

Hoe baie het haar vader haar nie al gewaarsku om nie alleen te perd veld toe te gaan nie. Hy is hoofsaaklik bang vir die Boesmans met hul gifpyle, maar Sonja vind hulle minder lastig en minder bloedlustig as sommige van die manne wat uit Kuruman dikwels met troppe beeste die klowe deur trek, tot ver in die Kalahari en dan met sakke vol geld en sonder die beeste uit die woestyn terugkeer. Sy, wat hulle dikwels hier van die klowe af, verskuil tussen die bosse, bespied, weet dat daar grootskaalse diewery aan die gang is.

Ja, as die bosse en die berge en die geluide van die groot natuur roep, kan niks Sonja teenhou om Moskou op te saal en hierheen te kom nie. Sy wens dat sy so wild kon wees soos Tjaka, so ontembaar, so sterk, so taai, so onbreekbaar soos die harde graniet wat hier en daar bonkig en byna onverweerbaar langs die rivier lê.

Sy hoor die geproes van die perde bo teen die hang. Hulle het nou al tot baie naby aan haar beweeg, Tjaka voor, kopspelend, pronkend op pad na die rivier toe.

Versigtig klim Sonja Peterson van die rots af, geruisloos beweeg sy van boom tot boom. Sy wil nog nader aan die diere kom. Sy wil hulle sien water drink waar die rivier wyd oor die klippe spoel.

Wonder bo wonder Tjaka het haar nog nie gewaar nie. Hy is nou so naby dat sy hom met ’n klip sal kan raakgooi. Net die rivier lê tussen hulle. Sy kan die dier se wydgesperde oë sien, die spiere op sy bors sien uitbuit.

’n Paar tree van die water af steek Tjaka egter skielik vas. Hy ruk sy kop omhoog asof hy iets gewaar het; sy ore trek vorentoe en agtertoe. Hy besnuif die volgende oomblik die lug en stoot ’n gedempte gerunnik uit, hierdie keer waarskuwend, hees, asof die geluid diep in sy buik teruggehou word.

Daar is dadelik onrus onder die trop te bespeur. ’n Paar merries met wakker vullens swaai al om, staan dwars en kyk na die oorkant van die rivier.

Daar is ’n sagte geklik toe Sonja die haan van haar rewolwer oorhaal. Tjaka kan haar enige oomblik gewaar, maar sy wil graag sien hoe vertoon die heerser van die Rooiberge as hy regtig op vlug gaan, skrik en ooplê teen die berg op.

Sy trek die sneller van die rewolwer; die koeël klap luid en sing die lug in. Die kranse weerklink daarvan. Sonja hoor net ’n enkele snorkgeluid en dan swaai Tjaka om. Enkele lang hale en hy is verby ’n paar merries en verdwyn tussen die bosse waaruit hy so flussies te voorskyn gekom het. Daar volg ’n oorverdowende hoewegeklap en skril, angsbevange runnikgeluidjies van verskrikte vullens. Die takke raas en kraak soos die trop vlug; spoedig kan sy hulle glad nie meer sien nie.

Sonja se grys-groen oë lag, dit jubel van lewensvreugde binne-in haar. Dit was mooi, daardie lang hale, daardie trillende spiere, die kop wat vooroor gedruk word, amper tussen die bene; ’n enkele bokspring en toe is Tjaka weg. Sonja se blik is nou op ’n rotstoring gevestig, byna op die kruin van die berg regoor haar. Die trop moet daar verby, oor die berg, om in die ander klowe af te beweeg.

Maar opeens is Sonja se gesig die ene verbasing. Die trop verskyn nie op die bergrug nie. Net Tjaka staan daar, asof hy soos ’n swart gees uit die buik van die aarde opgedoem het. Hy staan met sy bene wyd uitmekaar en sy oë is op Sonja daar oorkant die rivier. Die immer waaksame Tjaka! Die trop is veilig in die bosse, en hy staan daar oop en bloot langs die kranse as bespieder en beskermer van sy trop.

Etlike oomblikke kyk hy af na die meisie; daar is geen vrees in sy houding nie. Sy stert swaai en hy runnik, kort maar skerp, amper asof hy te kenne wil gee dat hy nie meer bang is nie. Dan staan hy opeens op sy agterpote, kap na ’n onsigbare vyand voor hom, swaai om en verdwyn agter ’n kameeldoring – en Sonja staan alleen langs die rivier, met geen geluid wat tot haar ore deurdring nie.

Nou weet sy dat hulle nie sommer sal terugkeer nie, nie sommer gou nie. Hulle sal agter die berge gaan water drink en seker eers so teen sononder terugkeer. Daar kom weer die diep verlange in Sonja op om Tjaka te kan besit.

Sy steek haar rewolwer in die holster terug en draai om om terug te stap na haar perd toe. Nou, in die eerste strale van die son, is sy ’n toonbeeld van jeugdige frisheid en skoonheid. Haar swart hare is effens deurmekaar; enkele kartels lê sag op haar skouers en een weerbarstige krul lê op haar voorhoof. Daar is lewe in die wakker, grys-groen oë. Sy stap met ’n vinnige tred terug na haar perd toe; die swaai van haar heupe is grasieus.

Die son belig reeds die gehuggie daar onder in die vlaktes tussen die doringbosse en rante. Daar is egter geen teken van lewe te bespeur nie.

Uit ’n noordelike rigting waar die Rooiberge hoër opskiet, kom die gebulk van beeste, sommer baie beeste. Dit is ’n deurmekaar, paniekerige, hees gebulk, asof ’n groot trop in allerhaas êrens heen aangejaag word.

Bokant die rotskoppie wat Sonja self Skilpadkoppie gedoop het, draai ’n lammervanger reeds lui in die wolklose lug.

Sy moet nou gou speel anders sal haar vader dalk nou-nou na haar kom soek. Sy is altyd betyds by hul sinkdakhuisie met die skewe skoorsteen – waar hulle soos uitgeworpenes ver buite die dorp woon – om ontbyt te maak en dan die bokke en die skape uit hul takkrale te jaag hier na hierdie kant toe, waar hulle teen Skilpadkop kan uitwei, totdat sy hulle teen die middag weer kom haal.

Sy draf vinnig na haar perd toe, maar steek skielik vas; haar hart bons onmiddellik hewig.

’n Endjie van Moskou af staan ’n man met ’n groot snor en met rybroek en kamaste aan. Daar is ’n breërandhoed op sy kop. Hy staan doodstil en staar na haar. Sy herken hom dadelik. Dit is Lou Badendorff, die man wat haar al verskeie kere gemolesteer het, maar wat nietemin in Kuruman hoog aangeskrewe staan. Saam met ’n paar ander handlangers ís Lou Badendorff wet en orde in Kuruman. Hy is sedert die dood van Hannes Naudé, meer as twee weke gelede, die spil waarom alles draai en uiters bedrywig.

’n Bang gevoel maak hom van haar meester. Sy dink aan ’n paar dae gelede toe sy die oggend alleen by die skaapkraal was. Haar vader was nog die ene hartseer oor Naudé se skielike en gewelddadige dood en is vroeg die oggend reeds dorp toe. Badendorff was daardie oggend baie vriendelik en sy swart oë het feitlik dwarsdeur haar gekyk. Hy het aangebied om haar te help om die trop veld toe te jaag, maar sy het dit van die hand gewys. Toe het hy allerhande suggestiewe aanmerkings oor haar skoonheid gemaak en aan haar gevra, “Hoekom kom jy nie saam met my nie, mooi ding? Hoekom sit jy dag-in, dag-uit hier in die ou flenterhuisie saam met ou dronk Jack Peterson? Kom saam met my op my toere na die woestyn en na Duits-Wes. Daar wag rykdom en erkenning op jou, en die mense sal nie agterkom … sal nie weet dat jy Peterson se dogter is nie.”

Die ryk spekulant, Lou Badendorff, lag toe hy haar vas in die oë kyk en haar vrees bespeur.

“Skiet jy dan perde ook, Sonja?” vra hy skertsend en vertoon sy wit tande.

Sy antwoord nie, beweeg nie. Lou staan tussen haar en haar perd. Sy sal nie kan wegkom nie. Vanoggend is sy in die mag van hierdie wellusteling. Sy voel lus om te skree, maar bedink haar. Tot haar verdere ontsteltenis merk sy op dat hy nou stadig naderkom, tree vir tree, terwyl sy glimlag verbreed.

“Ek het toevallig in hierdie rigting gery, Sonja; wou hier bo deur die water waar die perde gewoonlik drink; dit is vlakker daar. Toe hoor ek ’n skoot. Ek wis nie dat dit jy was nie, nooientjie.”

Sy stem is stroperig, vleiend.

“Ek het na die wilde perde staan en kyk,” sê sy effens hakkelend. “Ek het Tjaka bietjie skrikgemaak deur te skiet. Nou weet ek dat hy die vinnigste perd in die wêreld is,” kom dit naïef.

Lou lag; hy lyk nou vriendelik. Lou is verbaas dat die meisie hom nie toesnou nie. Hy skep moed. Hy koester nog altyd die hoop dat hy haar eendag sal kan inbreek, hierdie begeerlike meisie van die velde.

Die volgende oomblik staan hy vlak langs haar; ’n man van meer as ses voet lank, breedgeskouerd, gespierd en sterk. Sy moet opkyk na hom, want sy is maar ietsie meer as vyfvoet-vierduim lank.

Sonja staan haastig effens troei. Lou kyk af in haar grys-groen oë. Sy sien die wellus en die hunkering in sy oë. “Wie is dié Tjaka, lelie van ons sink- en sakhuisie?”

Sonja vererg haar vir hierdie woorde: dit is of hy enersyds neersien op haar armoede, haar afkoms, die feit dat Jack Peterson haar vader is, maar andersyds is dit duidelik dat hy haar begeer. Sy bedwing haar en antwoord dan ewe kalm, “O ja, natuurlik, jy weet nie. Dit is die leier van die wilde perde in die Rooiberge, ’n swarte, en die wonderlikste dier wat ek nog ooit gesien het. Julle het hom mos almal al probeer vang, jy ook, maar julle kon nie. En julle sal ook nooit daarin slaag nie.”

“Is jy so verlief op perde?” vra hy en vat haar terselfdertyd aan die bo-arm.

“Ek wens dit was my ryperd – laat my asseblief nou gaan, Meneer Badendorff. Ek is haastig.”

Maar hy laat haar nie los nie. Skielik is sy ander hand om haar lyf en druk hy haar vas teen hom.

Sy draai haar kop vinnig van hom af weg, want hy het gebuk om haar op haar lippe te soen. Hy los egter die greep om haar bo-ann en vat haar ken in die palm van sy ruwe hand vas. Hy druk dit op sodat sy moet opkyk in sy gesig.

“Nie so afjakkerig nie, Sonja. Jy weet almal bewonder jou skoonheid. Maar jy bly sku en terughoudend. Jy kan al die mans in Kuruman en omstreke verlief maak op jou, as jy net wil … al weet almal wie se dogter jy is.”

“Laat my vader met rus, Lou Badendorff!” is die bitsige antwoord. “Ek is trots op my vader en het nie die gunste en gawes van Kuruman nodig nie. Ek is heeltemal onbekommerd en gelukkig.”

“Jy is ’n rissie. Ek doen weer daardie aanbod van verlede keer, Sonja. Ek gee nie om wat jy is nie, wie jy is nie en waar jy vandaan kom nie. Jy is mooi en begeerlik, te begeerlik, en dit is oorgenoeg vir Lourens Badendorff,” en die volgende oomblik druk hy haar styf teen hom aan. Hy lig haar ken weer ru op en bring sy lippe nader. Sy probeer haar gesig wegdraai toe sy sy warm, jagende asem op haar wang voel. Hy soen haar nie op haar lippe nie, maar sy voel hoe hy met onkeerbare hartstog sy lippe teen haar nek aandruk.

“Neem jou pote van my af … of … of … !”

Sy skrik toe sy ’n enkele oomblik lank die uitdrukking in sy oë sien – sy bespeur die hewig-opgelaaide emosie daarin.

“Ek laat my nie hierdie keer so maklik van stryk bring nie, Sonja. Hier is niemand in die nabyheid wat jou kan help as jy probeer skree nie. Dit is nou net ek en jy. Ek gaan jou nou soen en voordat ek jou gaan los, gaan jy my sê dat jy saam met my na die hartjie van die Kalahari toe sal gaan, waar jy ryk gaan word – saam met my, Sonja.”

Sonja worstel om aan sy greep te ontkom.

“Laat los my, in hemelsnaam. Ek sal nooit met jou trou nie, met geen man van hierdie omgewing nie. As julle bymekaar is, kyk julle kastig met veragting op my neer, asof julle my verfoei en verag, maar wanneer julle my alleen aantref, is julle erger as dierlike barbare. Jul huigelagtige houding walg my. En as jy my nou nie laat los nie, sal ek hierdie voorbarigheid van jou by die vrederegter op Barkly gaan aanmeld.”

Maar hy maak asof hy haar nie eens hoor nie. Hy lag effens en sê, “Ek vra jou nie om met my te trou nie. Jy moet net saam met my gaan, net asof … asof jy werklik my vrou is.”

Sonder waarskuwing het hy haar weer styf teen sy liggaam aan en voordat sy kan wegdraai of keer, is sy lippe op hare, vas, gulsig. Dit voel of haar asem wegraak; sy walg en haar hele liggaam sidder. Sy stoei, maar dit voel asof sy vasgeskroef is.

Eindelik trek hy sy lippe weg. Met bomenslike inspanning ontkom sy vir ’n oomblik aan sy greep en skree luid om hulp. Dit weergalm teen die steiltes aan, maar sy besef dat dit miskien net enkele Boesmans in die rotsskeure is wat haar angsgeroep hoor.

Lou lag egter net asof hy sadistiese genoeë in haar verleentheid en vrees vind. Haar woede kry egter op hierdie oomblik die oorhand en voordat hy reg besef, tref sy hom met haar gebalde vuis in sy gesig. Sy wring haar liggaam die volgende oomblik heeltemal los van sy greep en hardloop val-val na haar perd toe. Die dier staan lewendig en rondtrippel asof hy reeds gemerk het dat alles nie pluis met sy nonnie is nie.