GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/fofzna/2/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Uile

— Hoofstuk 2 —

Die dorp se naam is Donkersloot. ’n Ent voor hy daar aankom, trek Lang Henning sy perd in en staan ’n ruk lank stil om die omgewing te bekyk. Hy was al voorheen hier, in die gehuggie van ’n paar honderd huisies en ’n negosiewinkel, waar boere uit die omtrek bymekaarkom om die nodige inkope te doen, en op Sondae kerkdienste hou in ’n plat klipskuur wat gedurende die week as skool dien vir die kinders van die permanente inwoners.

Agter die dorp rys ’n ruie bos op, ’n lang donkergroen strook soetdoringbome en struike wat strek van horison tot horison. Dit is die walle van ’n kloof, loodreg in die aarde uitgevreet deur vloedwaters en strome wat van verre berge af kom. Dis dan ook hierdie kloof wat die rede is vir die dorp se bestaan juis hier, want in die donker dieptes is altyd ’n stroompie water, wat opdam in ’n groot seekoeigat sodat daar selfs in droogtejare genoeg water is om die dorp se inwoners te voorsien.

Henning grinnik toe hy aan die seekoeigat dink. Daar is sweerlik nie een jongman in die omgewing wat nie al geprobeer het om die diepte van daardie gat te peil nie, om uiteindelik maar moed op te gee en tevrede te wees met die lafenis wat die amper swart water bied. Henning het ook ’n paar maal saam met ander gaan swem. Hy onthou die vermaning van ’n ou oom om nie te vergeet die water word gedrink nie en hulle moet dit skoonhou, maar verder niks gesê het nie omdat hy self in sy jongdae ook maar skelm daar gaan afkoel het op ’n somershitte dag.

Tog het daardie einste kloof nou ook ’n hindernis geword, ’n versperring na die mark van die nuwe diamantdorp Kimberley, waar fortuine betaal word vir skaapvleis. Die ompad oor die kloof is ver en gevaarlik, want rowers lê daar by die oorgang op die loer en skaapwagters moet hul troppe afgee of sterf. Kommandos is al uitgestuur om te gaan skoonmaak, maar het onverrigtersake teruggekom. Die derduiwels is te slim en die boere moet maar hul gal insluk en hoop vir die beste.

Dit alles het Henning gehoor toe hy laas hier was, en hy wonder of daar al ’n oplossing gevind is. Hy merk op dat hoewel daar huise bygekom het en een of twee strate, dit nog steeds net ’n gehuggie is, wat hom laat twyfel of die Uile hier iets sal soek. Gewoonlik teiken hulle stede; tog, volgens die brief het die penning uit hierdie omgewing gekom.

Henning skud onbewus sy kop en tel die perd se teuels op sodat dié vinnig begin stap in die rigting van die dorp, belus op die emmertjies hawer wat hy weet altyd volop is by sulke plekke. Na ’n paar passe slaan hy oor in ’n draf wat al hoe vinniger word en Henning keer hom nie, want hy is nou self haastig. So bereik hulle al gou die dorp.

Die hoofstraat is breed, maar met geen sigbare groei nie. Enkele besighede staan tussen die huise; ’n algemene handelaar, ’n eetplek by ’n losieshuis, en die Standard-bank. ’n Nuwe winkel met ’n vertoonvenster vol ysterware, met daarlangs die bekende ou hotel, kleinerig in vergelyking met sommige ander dorpe s’n, maar darem.

Henning se skerp oë sien alles raak, en dan word sy aandag getrek na ’n beweging aan die onderkant van die straat, by die hoek van ’n smal stegie. ’n Vrou is besig om met kort, vinnige hale die kleistoep voor ’n gebou met ’n grasbesem te vee en iets in haar houding laat Henning regop sit. Daardie mens is kwaad, sommer baie kwaad, en hy kan nie help om te wonder nie, hoekom.

Toe hy verby ry, hoor hy haar binnensmonds mompel. Beleefd lig hy sy hoed.

‘Goeiemôre, Nig,’ groet hy.

Sy kyk op en vir ’n oomblik rek haar oë, dan spoeg sy ’n enkele woord soos ’n vloek uit, ‘Jý!’

Henning skrik hom amper uit die saal toe sy met besem en al op hom afstorm en begin uitvaar, ‘Jy moenie my nog kom staan en Nig nie, jou vuilgoed, ek is g’n jou Nig nie! Jy kan maar vir jou vriend gaan sê hy sal my nie onderkry nie, nie met tien van jou soort as handlanger nie!’

Sy swaai met haar besem na hom sodat die perd vervaard sywaarts spring. Henning klim vinnig af en kalmeer hom met ’n paar sagte woorde voordat hy sê, ‘Luister, Juffrou, ek weet nie waarvan jy praat nie, maar dis duidelik dat jy my verwar met iemand anders.’

‘Ek weet maar te goed wie jy is, gee pad hier voor my!’ snou sy hom toe en dreig om met die besem sy voete onder hom uit te slaan. Hy sien nou eers dat sy besig was om glasskerwe op te vee, glasskerwe van ’n groot ruit wat gebreek het. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om te vra of hy kan help, dan trek hy sy skouers op en lig weer sy hoed voordat hy op sy perd klim en sonder omkyk op ’n stappie na die hotel toe ry.

Omdat hy al voorheen hier was ry hy sommer agterom die gebou waar die stalle is. Hy ken die stalkneg en weet dat Fortuin in goeie hande is toe hy terugstap na die ontvangstoonbank van die hotel.

Daar word hy hartlik begroet deur Hans Buchwald, die eienaar van die hotel.

‘Lank nie gesien nie!’ roep dié uit terwyl hy blad skud. ‘Waar dwaal jy orals rond?’

‘Hier en daar,’ lag Henning. Nou moet hy eers vertel, ‘want,’ sê die ander, ‘jy’s darem maar gelukkig om so ’n vry lewe te hê.’

Hulle gaan sit en dis eers na ’n lang tyd dat Henning kans kry om te vra, ‘En hoe gaan dit hier?’

Skielik kry Buchwald ’n geheimsinnige trek op sy gesig en sy stem word sagter, ‘Nee man, net vorentoe!’

‘Wat dan?’

‘Ek wil liewer nie nou te veel praat nie, jy weet hoe word dinge altyd uit verband geruk en ek wil nie in die moeilikheid kom nie. Hang af hoe lank jy bly, dan sal jy wel self sien.’

‘In daardie geval bly ek totdat ek dit gesien het,’ verseker Henning hom. ‘Ek is mos maar ’n nuuskierige ou. En daarvan gepraat, wat het met die venster daar anderkant gebeur? Die vroumens het amper my kop afgebyt toe ek haar net groet.’

Die ander krap sy kop en tuit sy lippe voordat hy antwoord.

‘Dis Karlien Havenga, sy het nogal ’n humeur op haar, ja, dis nie altemit nie. Daardie venster is, wás liewer, nogal die voorruit van die drukkery wat deesdae aan haar behoort.’

Henning dink terug en onthou nou. Vir alle sekerheid vra hy darem, ‘Die een van oom Viviers?’

‘Dis reg. Oom Basie is mos laat laasjaar oorlede en ’n niggie aan sy oorle vrou se kant het die besigheid geërf omdat daar nou nie eie kinders was nie. Sy het juis kort vantevore by hom gekuier daardie tyd en nou bedryf sy dit, op haar eie nogal.’

‘Is sy nie getroud nie?’

‘Nee, glo ’n weduwee hoewel niemand seker weet nie. Sy het ’n seunskind, maar sy’s nog bloedjonk en die kêrels lê aan, maar tot dusver wil sy niks weet nie. Werk dag en nag om alles aan die gang te hou. Dis mos maar die enigste drukkery in die hele distrik en Basie het baie klante gehad.’

‘En die koerantjie?’

‘Die Herald, ja, dié gee sy ook nog uit. Skryf sommer alles self en klokslag elke week en Vrydag is hy op straat. Baie uitgesproke, die kind, maar ’n ieder en ’n elk op die dorp koop dit.’

‘En toe breek die venster,’ por Henning.

‘Net so. Maar ek wil nie te veel daaroor sê nie. Soek jy blyplek?’ verander Buchwald die onderwerp.

Henning staan op.

‘As jy het, ja. Ek wil ’n paar dae hier oorstaan, ou vriende opsoek.’

‘Ag, jy weet mos ons is nie op die deurreis nie, so af van die poskoetsroete af. Hier’s altyd plek. Kom.’

By die toonbank teken Henning die register en gaan na die gang waar ’n paar deure oopstaan. Hy stap by die eerste die beste leë kamer in en gooi sy saalsakke en kombersrol op die bed neer voordat hy op ’n stoel gaan sit en nadenkend by die venster uitkyk. Hy wonder oor Karlien Havenga. Dis heeltemal verstaanbaar dat sy omgekrap is oor die gebreekte venster, maar hoekom vir hóm invlieg? Sy het iets gesê van ’n vriend wat moet vertel word dat hy haar nie sal onderkry nie, maar wat dit beteken sal hy nog moet gaan uitvind. Haar hele houding slaan hom dronk.

Van waar hy sit kan hy die straat sien en toe hy vooroor buig gewaar hy die voorkant van die drukkery. Karlien is nog steeds besig, en het nou ’n skoppie waarin sy die glasskerwe opvee om te gaan weggooi. Selfs van hier af kan Henning sien dat haar gesig soos donderweer lyk toe sy in die gebou verdwyn.

Op daardie oomblik speel die ghong sy deuntjie vir middagete.

 · · ·

Henning het skaars aan sy sop begin toe Karlien die eetsaal binnekom. Nog voordat hy kan opstaan, gaan sit sy al by ’n tafeltjie in die verste hoek sonder om eers in sy rigting te kyk. Gelate trek Henning sy skouers op en eet verder. Hy is honger en die sop is lekker.

Tog kan hy homself nie keer om haar dop te hou terwyl hy eet nie. Sy het haar voorskoot afgehaal, maar verder blykbaar nie moeite gedoen met haar voorkoms nie, want haar hare het hier en daar uit hul bolla ontsnap en warrel speels om haar gesig. Ondanks die nors uitdrukking op haar gesig is sy ’n mooi mensie, sien Henning, en as dit nou nie was dat sy so ’n humeur op haar gehad het nie sou hy nogal graag wil weet waarvandaan sy dink sy ken hom, en dié kennis hernuwe. Nou twyfel hy egter nie daaraan dat hy net weer afgejak sal word as hy enigsins probeer nie. Hy sal maar moet wag tot ’n geleentheid hom voordoen.

Dit kom gouer as wat hy gedink het. Terwyl hy nog in sy sop sug oor die onredelike vroumens, kom ’n seuntjie die eetsaal binnegestorm en steek vierspoor vas toe hy vir Henning sien. Hy lag dat omtrent al sy wit melktandjies wys en groet, ‘Goeiendag, Oom!’

Henning steek sy hand uit.

‘Goeiendag, Neef,’ sê hy ernstig.

Die kind se handjie verdwyn in Henning se groot vuis terwyl hy sê, ‘Ek is dwie.’ Hy hou drie van sy vingertjies in die lug op.

‘Sjoe, dis groot,’ verwonder Henning hom, maar voordat hy nog iets kan sê, sis ’n stem vanuit die hoek, ‘Kallo! Kom hier!’

‘Ek geséls, Ma,’ kom die eiewyse antwoord en Henning bars uit van die lag.

‘Ek dink jy moet liewer vir jou ma luister, Grootman,’ raai hy aan. ‘Ons kan mos later gesels.’

‘Nou goed dan,’ sê Kallo teensinnig. ‘Belowe?’

‘Belowe.’ Henning knipoog vir die kind en tevrede hardloop dié na sy ma toe. Henning kyk belangstellend hoe hy op ’n stoel klouter en netjies gaan aansit vir ete. Nog een keer draai hy om en waai sy handjie vir Henning. Karlien verwerdig hom egter nie met ’n enkele blik nie.

 · · ·

Later die middag loop Henning die seuntjie weer raak toe hy verby die drukkery stap. Kallo is besig om handevol sand van die straat op te skep en na ’n hoop op die stoep toe aan te dra. Henning staan stil en toe Kallo hom sien kondig hy aan, ‘Die wuit het gebweek.’

‘Dit lyk so, ja,’ sê Henning en kan nie help om te vra nie, ‘Wat het gebeur?’

’n Groot stuk in die middel van die venster is uit en ’n kombers is van binne daarvoor gehang sodat hy nie kan inkyk nie. Hy onthou dat op die glas oom Basie Viviers se naam gepryk het, saam met DRUKKERY en KAROO HERALD, en dat die kamer daar agter die werkplek was met die groot drukpers en laaie vol letters wat met die hand een vir een gerangskik is om woorde en sinne uit te spel. Sou Karlien dit net so vinnig kon doen?

Intussen lyk dit nie of Kallo mooi weet wat om te antwoord nie en dit staan hom duidelik nie aan nie.

‘Ma sê — ’ begin hy, maar voordat hy kan vertel wat Ma sê, kom sy juis by die deur uit en gryp hom aan die arm.

‘Hoeveel maal moet ek jou nog sê om nie met vreemde mans te staan en ginnegaap nie!’ raas sy. ‘Kom onmiddellik na binne!’

‘Dis seker nie so erg nie, Mevrou,’ paai Henning vinnig. ‘As dit sal help laat my toe om my voor te stel dan is ek darem nie ’n vreemdeling nie. Ek is — ’

‘Los my en my kind net uit!’ val sy hom in die rede en trek Kallo ru na binne. Sy smyt met mening die deur agter haar toe om geen twyfel te laat oor haar bedoeling nie.

‘Eina!’ sê Henning en skud dronkgeslaan sy kop. Iemand sal hom moet vertel wat met die vrou aangaan, dink hy terwyl hy aanstap.