GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/ewbcyk-vreemde-ruiter-4.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Vreemde Ruiter

— Hoofstuk 4 —

Die nadeel daarvan om in ’n vreemde plek aanwysings te vra is dat jy gewoonlik ná daardie ‘en dan die vierde straat links’ die pad hopeloos byster raak. En dit help ook nie as daar drie mense in die motor is nie, want elkeen het sy eie ore en die een wil beter onthou as die ander.

‘Kyk,’ sê Mildred nadat sy die Volvo vir die hoeveelste keer langs ’n sypaadjie ingetrek het omdat die straatname net nie wou ooreenstem met dié wat die laaste persoon hulle verseker het reguit na die lughawe voer nie, ‘ons moet nou maar hier sit en kyk waarheen die vliegtuie gaan.’ Sy wys na bo waar ’n wit streep die baan van ’n straler volg.

‘Dalk is hulle op pad Europa toe,’ wys Ruan uit en Mildred sug, ‘Is waar. Nou toe, gaan jy en vat ’n pen en papier en gaan vra by daardie kafee.’

Dit duur ’n hele ruk, maar toe Ruan weer in die motor klim, sê hy, ‘Ons is aan die verkeerde kant van die stad, maar toemaar, ek weet nou presies hoe ons moet ry.’

En hoewel nie een van die ander twee hom glo nie, kom hulle uiteindelik by die lughawe aan, net betyds om die Britse vliegtuig te sien aangery kom op die landingsbaan.

Roy sien ’n oop parkeerplek en so kom hulle darem voor die eerste passasiers in die ontvangslokaal aan, al is dit uitasem. Gespanne hou hulle die mense dop wat van die vliegtuig afklim.

‘Hulle sal haar heel laaste uitbring,’ sê Mildred en dit is ook so, want toe dit lyk asof die vliegtuig nou dolleeg moet wees, verskyn die rolstoel met haar vriendin in die deuropening. Die trappies word eenkant toe gerol en ’n vierkantige voertuigie kom aangery en hou by die vliegtuig stil, waar dit ’n klein platform oplig tot by die deur. ’n Vlugkelner stoot die rolstoel daarop en stadig word dit laat sak tot op die grond, met passasier en al. ’n Jongman wat gestaan en wag het, beduie hy sal regkom en stoot die rolstoel die lughawegebou binne. Die vrou in die stoel sien vir Mildred en roep opgewonde, ‘Mildred! Ek is nou daar!’

Hulle sien nou dat die persoon by haar eintlik nog ’n seun is, van min of meer Ruan se ouderdom. Hy het ’n byderwetse stukkende jeans aan, en ’n swart onderbaadjie wat nogal afsteek by ’n valerige T-hemp wat lyk asof dit uit die wasgoedmandjie opgediep is voordat dit die masjien kon haal. Aan sy voete is rooi enkeltekkies met die veters net vir die helfte opgeryg sodat hulle loshang om hom vir seker enige oomblik te pootjie, en op sy welige bos swart hare is ’n bofbalpet waarvan die klep laag oor sy oë afgetrek is.

‘Ek wonder wie’s dit.’ Daar is bewondering in Roy se stem. Hy vind die uitrusting blykbaar uiters kaas.

‘Seker maar ook ’n passasier,’ veronderstel Ruan.

Mildred luister nie eers nie, sy is te besig om haar vriendin te verwelkom wat vinnig deur die formaliteite van die lugdiens weggehelp is. Ruan en Roy staan intussen ’n ent verder rond en beskou met aandag al die mense om hulle totdat Roy sag sê, ‘Die outjie is nog steeds hier.’

Ruan kyk nou ook na Mildred en Elsa. Die seun staan agter die rolstoel en staar in die niet, asof hy salig onbewus is van die feit dat hulle eintlik in almal se pad is.

‘Dit lyk asof hy by haar hoort.’

Roy stem saam. Dit lyk beslis so, maar Mildred het niks gesê van so iemand nie. Nuuskierig stap hulle nader sodat Mildred nie anders kan as om hulle raak te sien nie.

‘O, hier’s julle. Elsa, dit is Ruan en Gerhardus.’

Elsa steek haar hand uit en die seuns gryp tegelykertyd daarna, maar die groetery word darem uitgesorteer, waarna Elsa sê terwyl sy half omdraai, ‘En dit is Trevor, my kleinseun.’

Trevor brom iets en tel sy een hand op en Ruan en Roy doen maar dieselfde.

‘Hoi,’ sê Ruan. Hy wil darem nie ongeletterd voorkom nie.

Mildred maak haar mond oop, maar Elsa sê vinnig, ‘Dit was ’n skielike besluit, jy gee mos nie om nie?’ en Mildred maak haar mond weer toe en skud woordeloos haar kop.

Gelukkig het die Volvo ’n bagasierak en nadat Elsa op die voorste sitplek gehelp is, vou die seuns haar rolstoel op sodat dit maklik bo-op die motor vasgebind kan word, met nog plek oor vir ’n koffer en Trevor se dra-sak. Elsa se spesiale saal en die ander tasse word in die kattebak gelaai en met die drie seuns op die agterste sitplek ry hulle na die hotel toe.

 · · ·

‘Kyk,’ vertel Ruan twee dae later toe die vyf lede van die Poniehoewe-klub weer bymekaar is, ‘julle sal dit nie glo nie, maar daardie mannetjie het die hele ent pad van die lughawe af tot hier nie ’n dooie woord vir ons gesê nie. Ek en Roy het nog gedink ons praat maar Engels met mekaar sodat hy nie moet uit voel nie, nè Roy — ’ Roy knik bevestigend sy kop, hulle hét, ‘ — maar nie ’n geluid nie. Nee,’ verbeter hy homself, ‘hy het ’n geluid gemaak as ons hom uit pure beleefdheid iets gevra het, so ’n kortaf grom in sy keel soos Tjello maak as hy nie van iets hou nie, maar gesels gesels die ou nie ’n letter nie.’

‘Miskien is hy stom?’ wonder Anneke, maar Ruan sê, ‘Nee, hy praat met tannie Elsa. Sulke hoogdrawende Engels, glad nie soos ons s’n nie.’

‘Is jy seker hy kon julle verstaan?’

‘Wat dink jy?’ antwoord Ruan verontwaardig, ‘Ons kán mos darem Engels praat al klink dit ’n bietjie anders. Daardie oom Ian het ons goed genoeg verstaan.’

‘Wie’s oom Ian?’ vra Dommie en toe moet die seuns nou eers alles vertel van die polo­wedstryd en hoe hulle gedink het Mildred gaan teruggelok word na die stadsmense toe en ‘O ja, ek het vir julle elkeen iets saamgebring,’ sê Ruan en haal Anneke en Tessa se presente uit ’n inkopiesak. Dommie het hare al die vorige dag gekry toe Mildred hom by hulle huis afgelaai het.

Tessa glip vinnig by die skuurtjie in en kom ’n oomblik later terug met die pienk T-hemp aan.

‘Dis pragtig, dankie!’ sê sy en draai na Anneke om haar te wys. Dié sit egter plat op die grond teen die muur, klaar verdiep in die boek en kyk skaars op om te mompel ‘Mooi,’ voordat sy na die volgende bladsy blaai. Skielik onthou sy haar maniere en bedank vir Ruan.

‘Dis die beste present wat ek kon kry, hoe het jy geweet?’

Maar voordat Ruan kan antwoord, sê Roy, ‘Sjuut, hier kom hy!’

Op die pad van Mildred se huis af kom Trevor aangeslenter, kop-onderstebo en met sy hande in die sakke van sy jeans. Al wat ’n klippie in die pad is, word met ’n agtelose tekkie weg­geskop. Tessa, Anneke en Dommie het hom nog glad nie gesien nie en bekyk hom nuuskierig. Niemand sê ’n woord nie, totdat hy by hulle is en gaan staan.

‘Wie’s julle?’ vra hy effens uit die hoogte.

Ruan vervies hom sommer.

‘Makeer jou geheue iets? Ons het gister die hele pad van die stad af langs jou gesit.’

Trevor trek sy skouers op.

‘Ek bedoel wie’s hierdie — méísies.’

‘Ek’s Tessa,’ sê Tessa.

‘Anneke.’

‘Dom— ’ ’n Oomblik aarsel Dommie, toe maak sy klaar met, ‘ —inique.’

Roy is nog steeds beïndruk met die kaas ou en sê vinnig, ‘Ek is Roy, jy onthou mos, nè?’

Trevor verwerdig hom egter nie met ’n antwoord nie en vra vir Ruan, ‘Maar wat máák julle hier?’

‘Wat het dit met jou te doen?’ wil Ruan opstandig weet. ‘Dis nie jou plek die nie.’

‘Ons kyk na die perde,’ probeer Roy weer, en Tessa stamp hom hard in die ribbes sodat hy moet stil bly.

‘Ons ponies loop hier,’ sê sy kortaf.

Anneke het intussen opgestaan.

‘Kan jy ry?’

Trevor maak ’n minagtende blaasgeluid wat enigiets kan beteken.

‘Wel, kán jy?’ hou Anneke vol.

‘Natuurlik kan ek ry.’ Smalend voeg hy by, ‘Maar nie op pónies nie.’

‘Op wat dan? Kamele?’ Ruan kan homself nie keer nie en dit besorg hom ’n ekstra vuil kyk van die vreemde seun.

‘Om die waarheid te sê, ja,’ is die neerbuigende antwoord, ‘maar as ek perdry is dit net op rasegte Arabiere.’

‘Gits, dis nou toevallig,’ sê Anneke moedswillig, ‘ek ook.’

Trevor se winkbroue skiet die hoogte in, skoon tot onder sy pet se klep.

‘Jy? Wat sal jy weet van Arabierperde?’

‘Ek het een, gestamboek en gepapier, kyk, daar loop hy,’ en Anneke wys met haar een hand na die perde wat ’n ent verder rustig wei. Die ander hand is agter haar rug, met die vingers gekruis om die wit leuentjie te besweer.

‘Watter een, nogal?’ Asof die fyngeboude Dapper nie sy opreggeteelde afkoms wys nie!

Anneke trek haar skouers op.

‘As jy moet vra, weet jy ook maar nie baie van Arabiere af nie.’

Maar dit laat die Engelse Arabierperdruiter hom nie sê nie.

‘As jy daardie witte bedoel — ’

‘Dis net hy,’ val Roy hom gretig in die rede, ‘ — dis Dapper, mens kan sommer sien dis jou soort perd daardie, nè?’

Asof hy hom nie gehoor het nie, gaan Trevor voort, ‘ — daardie ponie is nie ’n Arabier se agterkant nie.’

Skielik draai hy om en stap weg, terug huis toe. Die vyf staar hom verstom agterna.

Ruan is die eerste wat sy stem terugkry.

‘Die vermételheid!’

Dis net Anneke wat dit lig opvat.

‘Ag wat, hy is eintlik reg, Dapper het nie regtig papiere nie. Ek het dit maar net gesê om hom te beïndruk.’

‘Maar hy is ’n Arabier!’ protesteer Tessa.

‘Dis wat die oom gesê het by wie Pa hom gekoop het, maar wat maak dit nou eintlik saak?’

‘Baie,’ sê Ruan. ‘Ons moet daardie ventjie op sy plek sit en Dapper gaan ons help.’

‘Nee!’ Anneke skud beslis haar kop. ‘Hy gaan nie aan Dapper vat nie, vergeet dit. Ek wil hom nie verniel hê nie.’

Dommie begin lag.

‘Vir wie? Dapper of Trevor?’

Terstond besluit die vier om hulle nie verder aan die snob te steur nie en begin hul dagtaak sodat hulle kan klaarmaak en gaan opsaal. Net Roy bly staan en kyk totdat die seun in die huis verdwyn.