GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/cwifnu/0/

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Die Kruipende Dood

— Hoofstuk 1 —

Die Kruipende Dood

Donker spits sy ore, hy trippel rond, sy neusgate bewe, maar die wind bring niks wat verdag is tot sy reukorgane nie. Dit is net ’n soort sesde sintuig wat hom onrustig maak. Eenkant, onder ’n boom, sit sy gemaskerde tweebeenmaat ’n bok se vel en afslag.

Die Swart Luiperd is dood op sy gemak. Die mes is nie skerp genoeg nie en hy soek totdat hy ’n klip kry. Nou kras die mes teen die graniet.

’n Hele paar treë van die Swart Luiperd af lê Spikkels, die wyfie-luiperd, en Simson, die mannetjie, waterbek na die afslagproses en kyk.  Simson lê met sy groot gespikkelde kop op sy stewige voorpote, terwyl Spikkels minder op haar gemak is. Die houding van die perd laat haar na ’n rukkie orent kom. Sy tuur die bosse in, grom gedemp en draai haar sierlike kop in die rigting van die meer waarvandaan die wind aangestu kom. Dit klop groot branders op. Maar die wind bring vir haar ook niks wat gevaar inhou nie.

Opeens runnik Donker gedemp. Die Swart Luiperd kyk op, net betyds om ’n geel gedaante uit die bosse digby hulle te sien spring.

Die gestalte pyl op die perd af. Die twee luiperds sien die aanstormende tweebenige ook en hul vluginstink kry hierdie keer die oorhand. Met ’n benoude, verskrikte gegrom verdwyn hulle in ’n oogwenk in die bosruigtes aan die oorkant.

Onmiddellik besef die Luiperdman dat sy getroue ros in gevaar verkeer. Daar is net tyd om te sien dat nog ’n geel gedaante met ’n kreet uit die ruigtes op hom afstorm. ’n Lang, skerp spies flits in die sonlig in die hand van die vreemde aanvaller. Die volgende oomblik seil die spies deur die lug op die Swart Luiperd af. Op dieselfde oomblik duik Leon egter woes vorentoe. By die aanskouing van die afskrikwekkende swart luiperdmasker van die persoon wat hy aanval, deins die spiesgooier ’n siedende oomblik effens terug.

Hierdie aarseling red Leon se lewe. Die moordwapen fluit bokant die hoof van die Swart Luiperd verby. ’n Geringe gedeelte van ’n sekonde daarna omklem die arms van die Luiperdman die bene van sy aanvaller. Met ’n hik kom hulle albei op die grond te lande, en op daardie oomblik flikker daar weer iets blinks in die skerp stekende sonlig. Die Swart Luiperd se mes flits met ’n kragtige kaphou op die borskas van die vreemdste aanvaller wat hy nog ooit aanskou het, neer.

Die Luiperdman wag egter nie om die sluiper verder te beskou nie. Hy spring haastig orent. In ’n oogwenk sien hy die rooi bloed aan die knie van die ros. Die hings runnik boosaardig en kap ongenadig met die voorpote na sy aanvaller wat met ’n tweede spies gereed staan om die dier met die neerkomslag ’n steek in die bors toe te dien.

’n Oomblik lank hou die Swart Luiperd sy asem op. Die vreemde aanvaller ontwyk die kappende hoewe behendig en steek die volgende oomblik reg na die breë gespierde bors van Donker, maar dan tref ’n pyl uit Leon se boog hom in die maag. Daar was nie kans om te mik nie en dit is dadelik duidelik dat dit nie ’n doodskoot is nie.

Met verbasende uithouvermoë en krag-inspanning raap die snaakse man hom op, trek ’n dolk uit ’n skede aan sy sy en waggel na Leon in sy afskrikwekkende luiperdmasker.

Donker runnik egter weer soos ’n besetene en die Swart Luiperd laat sy boog, waarin ’n tweede pyl gereed lê, sak. Daardie gespierde voorpote van sy ros kom met ’n klettering op die kop van die dolkvegter neer. Die man stort ineen asof deur weerlig getref. Weer gooi die gitswart perd sy pote in die lug en met ’n onheilspellende, dowwe gerunnik en ontblote vierkantige tande dawer die hoewe op die borskas van die sluiper neer.

Die Luiperdman storm vinnig vorentoe en verhoed net betyds dat die kreunende man op die grond tot ’n pappery getrap word. Sy vangtou swiep vorentoe en dit kronkel soos die slurp van ’n olifant om een van sy perd se voorpote. Hy ruk die tou vinnig styf en die dier slaan hard op die grond neer. Die ros runnik benoud. Dit het hy nie verwag nie, maar die Swart Luiperd is weer by, gryp die sierlike nek beet net toe die perd waggelend orent kom en klop dit troostend onderwyl hy paai.

‘Jammer, ou Donker! Ek weet jy is die josie in, maar ons wil hom glad nie tot ’n bloedkol vergruis nie. Kyk, hy is reeds dood. Toemaar! Wat op aarde se snaakse mense het ons nou mee te doen?’ borrel dit uit asof sy perd alles kan begryp.

Asof Donker werklik elke woord verstaan, proes hy, en kopspelend laat hy sy nek sak en ruik vies aan die bebloede bondel wat sy laaste geluid geuiter het.

Die Swart Luiperd is baie nuuskierig om die twee aanvallers van naderby te beskou, maar hy kyk eers vinnig rond. ’n Onnatuurlike stilte het toegesak, en die moontlikheid dat daar nog van hierdie vyande in die bosse skuilhou is nie uitgesluit nie. Hy pluk sy mes uit die borskas van die aanvaller wat op hom toegesak het. Ook hy is reeds bokveld toe.

Die Swart Luiperd haal hard asem. Die sweet biggel van sy kop en skouers in sy nek af. Leon kan nie begryp waarom sy gewoonlik waaksame luiperdmaats dié keer nie hierdie eienaardige, sluipende spiesmanne eerste gewaar het nie. Dit is vir hom onmoontlik om aan te neem dat hierdie twee manne tot binne drie treë van hulle kon sluip sonder dat selfs sy geoefende oor hulle gehoor het. Dit stem hom onrustig. Dit is net Donker wat blykbaar by wyse van ’n soort sesde sintuig iets gewaar het.

Die twee tiers kon hulle natuurlik nie ruik nie, want die twee sluipers het teen die wind op beweeg. Die Swart Luiperd wou net sy masker afhaal om sy kop te krap, toe sy twee gespikkelde maats versigtig tussen die blare deurgluur, en dan met ongeduldige brulgeluidjies en rondloerend onderwyl hulle naderstap, skoorvoetend na die twee dooie aanranders beweeg.

Die Luiperdman klap sy hande. Dit weergalm deur die stilte van die bosse. Dadelik deins die twee tiers terug.

‘Julle mag nie ’n bekvol van daardie goed kry nie! Julle mag nie eens daaraan ruik nie, hoor!’

Spikkels grom ongeduldig en gaan sit op haar agtervlak onderwyl sy haar stert heen en weer waai asof sy wil sê, ‘So ’n dom tweebenige! Sou hy nou regtig dink ek wil aan so ’n snaakse gedierte hap.’

Die Swart Luiperd draai om en sny die twee boude van die afgeslagte koedoe af en gooi een voor elkeen van sy tiermaats neer.

Daardie vluginstink wat die botoon voer wanneer gevaar sonder die minste waarskuwing op hulle neersak, sal ’n mens moeilik uit hierdie soort roofdier kan kry.

Voordat hy die twee aanvallers deeglik besigtig, stap hy na sy perd. Hy ondersoek die wond aan die knie. Dit is maar ’n skrapie, danksy die ratsheid van sy gespierde maat. Die hou wat na die bors gemik was, het glad nie getref nie.

Die Swart Luiperd buk oor die man waarop die perd al sy wraaksug ontkrop het. ’n Geel leeuvel bedek die boonste deel van die liggaam gedeeltelik. ’n Kort, noupassende stuk leeuvel is soos ’n doek tussen die bene vasgebind. Leon kyk na die verwronge gesig van die dooie. Lang, toiingrige hare bedek sy hoof. Die gesig is glad en haarloos. Die dooie man het ’n ligbruin vel. Langs die linkersy hang die leë skede waaruit hy nounet die agtienduim-lange dolk tevoorskyn gepluk het. Die spies lê eenkant op die grond.

Leon skud weer sy kop. Toe hy hierdie reis al langs die ongebaande weë van Afrika na die hart van die bebosde en bergagtige Abessinië onderneem het, het hy geweet dat sy lewe in gevaar sal wees, maar hy het nie hierdie kreature hier verwag nie. Hy het reeds die binneland met sy ros en tiermaats so ver binnegedring waar nog maar seker weinig of geen avonturiers hulle ooit bevind het nie.

Hy is gewaarsku teen die wrede stam, die Kofas, wat meermale die ‘sluipende dood’ genoem word, maar hierdie bruin, harige mense! En dan die snaakse leeuvelle wat hulle aan het!

Die grootste deel van hul forsgeboude liggame is ontbloot. En nou merk Leon iets wat hy netnou nie gesien het nie. Aan die linkerarm van albei spiesgooiers is ’n tatoeëermerk. Die Swart Luiperd beskou dit aandagtig. Dit is ’n aaklige kop van die een of ander diersoort. Dit lyk soos die smoel van ’n vlermuis, maar skielik besef Leon wat dit is. Hy het hierdie soort gevleuelde nagdiere al in grotte in Oos-Afrika teengekom.

Dit is groot vlermuise, bloedsuiers, vampiere, net hierdie een skrik ’n mens meer af.

Die langdurige stilte werk roekeloos met die Luiperdman se senuwees. Die aandluggie swiep reeds aan van die groot meer se kant af. Die son sak vinnig en die Luiperdman besef dat hy baie gou ’n geskikte plek sal moet kry om te kampeer. Hy weet egter ook dat hier nie net twee van die aanvallers in die omtrek is nie. Daardie tatoeëermerk is ’n duidelike teken van die een of ander bende.

Die Swart Luiperd buk om die spiese van naderby te bestudeer, en die volgende oomblik uiter hy ’n uitroep van verbasing. Hy kyk weer.

Die punt van die spies is goudkleurig. Hy betas dit. Dit lyk werklik asof hierdie hele skerp punt van die spies uit goud bestaan. Sy asem jaag vinniger. Hy draai die spies om en kyk na die agterstel. Hierdie keer laat sy uitroep van verbasing die twee katte haastig opspring waar hulle aan die koedoeboude lê en smul het. Onder die vere wat agter aan die spies vasgeheg is, skitterblink ’n geslypte diamant, so groot soos die kop van ’n vuurhoutjie, in die strale van die kwynende son. Die Swart Luiperd se kop begin draai. Hy probeer die diamant verwyder, maar dit is deur die een of ander stof in die agterstel van die spies vasgesement.

’n Beroering agter hom tussen die bosse laat hom egter vinnig opkyk. Sy vlymskerp jagmes is blitsvinnig in sy hand. Die twee luiperds het platgeval. Hulle spiere span. Donker uit ’n benoude snork, swaai om dat die klippe so onder sy hoewe uitspat en gaan staan agter sy baas onder ’n groot boom. Die beweging kom nader.

Dit is of iemand versigtig die blare wegdu om vorentoe te sluip. Met die geluidloosheid van ’n kat spring die Swart Luiperd met seepgladde bewegings in ’n geelhoutboom digby. Hy klim tot op die hoogste tak. Spikkels het teen ’n skuinsstaande boomstam opgeklouter en Simson het seepglad agter ’n granietblok ingesluip.

Die Swart Luiperd trag om tussen die digte blare deur te sien. Die beweging kom nader. Droë takke kraak hoorbaar. Die vier maats wag ademloos. Binne enkele oomblikke sal die persoon of dier wat daardie beweging tussen die bosse veroorsaak, tevoorskyn tree.

Simson krom sy rug agter die rots, gereed om te spring; Donker kap onrustig voor hom op die grond.

Nog net ’n paar sekondes en die Luiperdman se mond val oop. Uit die bosse kom ’n persoon op sy sy aangeseil. Dit is ’n bejaarde man met ruie, toiingrige hare. Sy voete en bene is met gras vasgebind. Sy lippe is dik opgeswel en gebars. Hy kreun vorentoe waar hy Leon se waterbottel naby die afgeslagte koedoe sien lê. Aan sy voorkop is daar ’n lelike, gapende wond waaruit die bloed vryelik stroom. Sy hande is los, maar aan die stukke grasstengels aan sy bo-arm kan die Swart Luiperd uitmaak dat ook sy arms en hande vasgemaak was.

Die persoon gil skielik ’n wanhoopsklank uit. Dit weergalm deur die bosse.

‘Help! Help! Water! Is hier dan geen mens wat my kan help nie? Help! Die Kruipende Dood sal my weer oorval, die sluipers van Bali sal my weer vang. Gee my water!’

Die Swart Luiperd val-spring uit die boom, net betyds om te verhoed dat Simson die hulpelose man bespring.

Die man met die digte bos hare wat alkante toe deurmekaar staan, skrik toe hy die gemaskerde figuur voor hom sien. Hy bedek sy oë en vra met hortende asemstote, ‘Wie is jy? Wie is jy?’

Die Swart Luiperd antwoord nie. Hy beskou die figuur aandagtig.

Die harige man kyk bang rond. Hy sien die twee dooie spiesgooiers lê en trek sy asem diep in.

‘Hoe – hoe het jy – ?’

Hy praat Engels maar sy mond val weer oop van verbasing toe hy in die maskergesig kyk.

Leon praat.

‘Hoe het ek hulle van kant gemaak wil jy vra. Ek weet nie, maar al wat ek graag wil weet, is wie en wat is hulle? Hulle het my probeer vermoor.’

Die man soek met angstige oë in die omgewing rond. Hy probeer die sweet van sy voorhoof afvee. Die skemerte sak vinnig toe. ’n Koue aandbries klits deur die hoë bome en grasse.

‘Jy is in die land van die heilige monnike, jy verkeer in die gebied wat verbode is vir almal. Bevry my dat ons kan vlug. Daar is meer lede van die bende van die Kruipende Dood wat ons hier sal aantref. Ek – ’

Hy kan egter nie verder praat nie. Skielik klink ’n luide geskree hier digby hulle uit die bosse op en die volgende oomblik klap ’n spies teen die boomstam agter die Swart Luiperd vas.