GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/crosey-nagloper-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Nagloper

— Hoofstuk 1 —

Nog voordat Dawid die oggend in die kombuis kom, weet hy daar’s weer moeilikheid. Hy hoor sy pa se diep stem, ‘Dis nou al die hoeveelste keer!’ en sy ma wat antwoord met die klap van ’n pan wat hard neergesit word op die marmer werksoppervlakte. Vinnig loop hy by die deur in.

‘Wat het gebeur, Pa?’

‘Vyftig skape is weg – ’

‘Alweer!’ roep Dawid verskrik uit en sy pa gaan voort, ‘ – en ek moet jou seker maar nou al sê jou hansskaap is een van hulle.’

Dawid staan asof versteen. Wolletjie, met die sagte oë en die blêrstem wat hy uit honderde ander sal uitken as sy na hom toe aangehardloop kom waar sy saam met die trop wei. Wolletjie met die verkeerde naam, want sy pa sê mos sy het hare, nie wol nie.

Sy tong voel dom. ‘Maar – maar sy moet haas lam.’

‘Sy en al die ander. Ons moet hulle terugkry of ons word nog gebreek. Ek gaan net na ontbyt opsaal en kyk of ek die spoor kan volg, maar ek wed jou dit lei reëlreg na die plakkerskamp toe.’

‘Ek gaan saam,’ sê Dawid.

Sy pa kyk hom streng aan en sy stem klink koud toe hy antwoord.

‘Dit gaan nie ’n plesierrit wees nie, ek gaan hard ry en nie vir jou wag as jy nie verder kan nie. Jy’t lanklaas gery.’

‘Ek is reg, Pa. Ek belowe ek sal byhou,’ verseker Dawid hom.

‘Nou maar goed, jou poon is darem nie te uitgevreet nie want hy is gereeld agter die skaap gery. Gaan roep vir Martiens dat hy solank die perde regkry.’

‘Gaan dit nie beter wees om die bakkie te vat nie?’ wil Dawid se ma weet, maar haar man antwoord, ‘Nee, dis wat hulle verwag en die skaap van die pad af die koppe ingejaag het. Dit sal makliker wees met die perde.’

‘Wees net versigtig,’ sê sy bekommerd en hy stel haar gerus, ‘Toemaar, ek sal niks onverantwoordeliks doen nie. Ek vat my geweer en Dawid kan my rewolwer by hom hou.’

‘As hulle hom daarmee vang – ’ begin sy aarselend maar hy val haar in die rede.

‘Ek het mos ’n liksens daarvoor, hy gee dit bloot vir my as dit nodig is.’

Daarmee moet sy tevrede wees, maar sy sug terwyl sy die waterbottels volmaak en ’n bietjie kos in hulle saalsakke pak om langs die pad te peusel.

· · ·

Tiaan Muller se skerp oë volg maklik die spoor en hy en Dawid ry op ’n egalige kortgalop die veld in. Die diewe het geen moeite gedoen om die spore te probeer uitwis nie, want hulle het geweet die voorsprong is groot genoeg dat hulle nie ingehaal kan word nie. Hul enigste oogmerk sal wees om die diere in ’n kraal te kry en so te bewerk dat dit moeilik sal wees om te bewys wie s’n dit is. Tiaan se bloed kook as hy dink aan die skape wat hy al sonder ore teruggevind het soos die merkers afgesny is.

Hulle is al lankal van sy eie plaas af weg toe hy sy perd intrek om te kyk na ’n aantal skape wat in die verte wei. Dawid hou by hom stil en hulle betrag die trop deur hul verkykers. Tiaan verwag nie dat dit die skape is wat hulle soek nie, maar skielik sê hy, ‘Kyk daar, agter links, dis daardie hanslam van jou ma wat laas gesteel is!’

Dawid tuur deur die lense en knik opgewonde sy kop.

‘Dit is! Wat gaan ons maak, Pa?’

Tiaan aarsel nie ’n oomblik nie. Hy haal sy selfoon uit sy sak, en kliek vinnig deur die nommers tot by die een wat hy soek, kyk dan na die res van die skerm en sê, ‘Verdomp, die sein is weg. Kom, dit behoort beter te wees daar anderkant op die koppie.’

‘Wie gaan Pa bel?’ wil Dawid weet.

‘Die polisie, vir wat dit werd is. Alleen kan ons nie daar ingaan nie, dan word ons self daarvan aangekla dat ons skaap steel.’ Sy pa se stem klink bitter. ‘Kom.’

Hy kry koers na ’n nabygeleë hoogtetjie, maar Dawid sê, ‘Pa, ek wil solank na die kamp toe gaan. Ek het nog nie vir Joon gegroet nie – ’

Sy pa val hom bars in die rede, ‘Vir wat staan en lol jy nog met daardie klong? Ek sou gedink het teen hierdie tyd het jy genoeg vriende van ons eie klas mense.’

‘Ja, Pa, maar miskien weet hy wie die skape gesteel het.’

‘Tien teen een hy self ook nog,’ meesmuil sy pa en toe Dawid nie antwoord nie, ‘Nou ja, gaan dan maar, maar moenie net daar invaar nie. Onthou jy kan daardie gespuis nie vertrou nie.’

‘Nee, dis reg, Pa,’ en die volgende oomblik ry Dawid in volle galop na die informele nedersetting wat langs die dorp teenaan die rante ontstaan het.

Ondanks sy kommer oor die skape sien hy daarna uit om sy maat weer te sien. Die skoolkwartaal is lank as daar nie tuisnaweke is nie. Hy en Jonatan was met die ander plaaskinders deur die plaasskooltjie, maar toe hy hoërskool toe is en in die koshuis op die dorp moes gaan bly, wou Joon nie saam nie. Hoewel klein van postuur het hy ouer gelyk as sy amper vyftien, en hy wou gaan werk en geld verdien. Daar is lank gepraat, maar dit was verniet en Joon se pa het ook nie gehelp nie. Boekgeleerdheid was nie vir hom belangrik nie en dit sou beter wees as sy kinders op die dorp werk kry, het hy gesê. Joon het by sy ouma in die lokasie gaan bly en los werkies verrig vir die dorpsmense, want vaste werk was daar nie te kry vir hom nie.

Dawid ry sy poon tot by die eerste hutte en klim af. ’n Paar jong kinders het al aangehardloop gekom en hy gee die perd se teuels vir die grootste enetjie.

‘Mooi kyk na hom, hoor,’ sê hy en kyk die ander deur. Hy ken die meeste van hulle en keer al gou speel-speel ’n paar kamma-bokshoue af wat na sy lyf gemik word.

‘Ho-nou!’ roep hy met ’n huilstemmetjie, ‘dis mos seer!’

Die kinders skaterlag, maar na ’n ruk gaan staan Dawid en vra, ‘Waar is Jonatan?’

Die kinders kyk hom met groot oë aan, onwillig om op te hou met die spel. Dan begin van hulle om hom ronddans.

‘Jonatan? Waar is Jonatan?’ roep een en al gou volg die ander. Met hul wyd-oop monde en skril stemme lyk dit asof hulle hom koggel en skielik pak ’n onverklaarbare beklemming hom beet. Hy skud die enkele kleintjie wat nog aan hom hang af, en stap met lang treë na sy perd waar hy die teuels uit die kind se hande gryp en in die saal spring. ’n Oomblik wik en weeg hy om in die stat na Jonatan te soek, dan trek hy die perd se kop om en kap hom met sy hakke in die lieste sodat hy vervaard wegspring in die rigting waarvandaan hulle gekom het. Agter hom word die skel spotsang dowwer en vervaag dan geheel en al.

‘Jo-na-tan! Jo-na-tan! Jo-na-tan!’

· · ·

Dawid ry sy pa tegemoet waar hy van die koppie afkom, sy selfoon in die hand.

‘Geen sein.’

Hulle trek die perde in en Dawid haal ook sy foon uit net om seker te maak. Dan skud hy sy kop.

‘Snaaks, gewoonlik is hier,’ sê hy terwyl hy die foon op sy hand kap. ‘Seker weer iets met die toring verkeerd.’

‘Nou ja, laat dit maar so wees. Het jy hom gekry?’ Dawid weet dat hy Jonatan bedoel.

‘Nee, daar was net die klomp kinders en hulle wou nie sê nie,’ antwoord hy.

‘Nou wat het jy dan verwag? Hoog tyd dat jy besef hulle sal altyd vir mekaar skerm.’

‘Wat gaan ons nou maak?’

Sy pa rek hom op in die saal en tuur in die rigting van die nedersetting.

‘Die probleem by die plakkers is die spul kinders wat oral is en die diewe dan waarsku,’ sê hy. ‘Jy kan maar weet jou maatjies het gaan vertel dat jy hier is nog voor die stof van Generaal se hoewe weer gelê het.’

‘Gaan ons in?’ vra Dawid, maar sy pa skud sy kop.

‘Nie sonder die polisie nie, dis te gevaarlik. Hulle sal bloot beweer ons steel hul skaap en voor jy kan sê “mes” sit ons in die tronk. Nee, ons sal moet wag.’

Dawid kan sien dat sy pa omgekrap is en sê, ‘Ek is nie bang nie, Pa.’

Sy pa antwoord nie, maar draai sy perd en sonder om verder te praat ry hulle huis toe.

· · ·

Die polisie belowe om die volgende dag een of ander tyd iemand te stuur en Dawid word aangesê om die heinings na te gaan en te herstel waar hulle geknip is.

Laat die middag kom Jonatan daar aan en soek vir Dawid op.

‘Goeiendag!’ roep hy al van ’n ent weg. ‘Wanner ’t jy gekom?’

‘Dag vir jou ok,’ lag Dawid en loop sy vriend tegemoet. ‘Gistermiddag al, ek het jou vanoggend gesoek maar jy was ’ie by die huis nie.’

Saam stap hulle al met die heining langs.

‘Wat maak jy?’ vra Jonatan.

Dawid swaai die draadtang in sy gesig.

‘Die heinings is alweer geknip en daar’s ’n klomp van ons skape weg.’ Sy gesig versomber. ‘Wolletjie ok.’

‘Ag nee, jammer man, dis ’ie lekker ’ie.’

Dawid trek agteloos sy skouers op om nie sy gevoelens te wys nie, selfs nie teenoor sy beste vriend nie.

‘Ons sal hulle terugvind,’ sê hy. ‘Help my nou die heining klaar span, dan gaan swem ons.’

Terwyl hulle besig is praat hulle nie baie nie, totdat Dawid sê, ‘Kom óns gaan soek ’ie skape.’

Jonatan kyk hom verbaas aan.

‘Ons twee?’

‘Ja, hoekom nie? Die polisie praat net altyd, maar hulle het nog nooit ’n enkele skaap teruggekry nie, het hulle?’

Jonatan skud sy kop. Hy weet dis waar.

‘Nou ja,’ gaan Dawid voort, ‘ek het nou drie weke vakansie en jy ’t in elk geval nie werk ’ie, dus het ons alle tyd om te gaan spoorsny. Ons ken die wêreld hierlangs mos goed genoeg. Ek nog beter as jy,’ voeg hy by.

Jonatan staan stil en herkou aan die voorstel. Dit klink lekker.

‘Wat van jou pa ’le, sal hulle jou laat gaan?’ vra hy.

Dawid trek ’n gesig.

‘Ons sê mos ’ie wat ons gaan maak nie, ons sê ons gaan jag of iets. Dis net ’n klein lieg.’

‘Ja, daarvoor sal hulle seke’ nie omgee nie,’ reken Jonatan, ‘solank jy belowe ons bly op ’ie plaas.’

‘Net so. Ek vat vir Generaal en jy kan Laslap ry,’ beslis Dawid en die res van die heining word vinnig klaargemaak terwyl die twee planne beraam vir hul soektog.