GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/crmjxw-slaaisous-vir-die-liefde-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Slaaisous vir die Liefde

— HOOFSTUK 1 —

Froon Froneman smyt moedeloos die foon neer.

“Ag tog!” sug hy.

Agtienjaar-oue Ané Scheepers, sy niggie aan moederskant en deeltydse hulp by die Groen Bistro, blaas ’n kougomborrel.

“Vrou Hoogenboezem van die tiende?”

“Wie anders.” Hy boots ’n pieperige sopraanstem na: “Bring vir my ’n ham-en-mosterdtoebroodjie asseblief en dit moet rogbrood wees.”

“Wat maak dit nou eintlik saak as sy elke dag dieselfde eet?”

In sy eie stem probeer Froon redelik wees.

“Sy weet miskien nie van beter nie. Kom ons maak ’n slag vir haar iets anders, wat van smeltkaastuna en ’n slaaitjie? Dan kry ek sommer iemand anders as jy om my slaaisous te proe.”

Ané se oë rek.

“DIE slaaisous?” Sy loer soos ’n wafferse spioen rond om kamma te kyk of niemand afluister nie. “Is dit uiteindelik perfek?”

Froon grinnik goedig.

“Lag maar, ek gaan die wêreld wys dat my slaaisous verkoop, ons gaan skatryk word.”

“Asof dit vir jou belangrik is. Al wat jy wil doen is om eens en vir altyd aan oom Ruup te bewys jy hoef nie in sy voetspore te volg nie.”

Froon se gesig versomber.

“Dit ook, ja. As ek regkom sal hy sien … ” Hy trek sy skouers op. “Jy sal nie verstaan nie.”

Ané sit haar hand op syne.

“Tog wel.”

Sy weet maar alte goed hoe gefrustreerd Froon is. Sy ouer broer, Rupert junior, is nou al amper vyf jaar oorlede en dis hoog tyd dat sy pa uiteindelik aanvaar dat Froon nooit die leë plek sal kan, of wil, vol staan nie.

“Wat ook al,” maak Froon die gesprek af, en begin slaaiblare in stukkies pluk. “Ek gaan dit hierdie keer sommer self aflewer, jy sal mos vir vyf minute alleen kan regkom.”

Nog elke dag sedert twee maande terug toe Froon die Groen Bistro oorgeneem het, het Brumhilde Bauer van die Bauer Advertensiemaatskappy ’n hamtoebroodjie mét mosterd vir middagete bestel. Vir ’n epikuris soos Froon is dit onuitstaanbaar.

Hy pak die borrelende gesmeltekaas-op-tunabroodjie in, vat die houer met slaai in sy ander hand en stap na die hysers. Weldra kom een af, volgeprop met die etensuurskare wat vinnig koers kry buitentoe. Net toe hy in is en met sy elmboog die tiende verdieping se knoppie druk, roep ’n stem: “Wag vir my!”

’n Jong vroulike persoon hardloop in en leun uitasem teen die agterkant van die hyser. Sy lyk vaagweg bekend. Werk seker hier in die gebou, dink hy. Sy vermy sy blik en hark ongemaklik met haar vingers deur muisvaal krulhare sodat dit in alle rigtings begin staan.

Moenie staar nie, betig hy homself soos sy ma dit al hoeveel keer gedoen het, dis onbeskof. Hy kyk op na die flitsende syfers bo die deur totdat die hyser stilhou op die tiende verdieping. Toe die deur oopskuif draf die meisie vinnig uit en verdwyn in wat duidelik ’n kleedkamer is. Regoor die hysers, teen die muur, is ’n groot bord met Bauer Advertensiemaatskappy in verskeie tale daarop geskryf, maar sonder enige aanduiding waar mevrou Bauer self haar bevind. Froon stap deur ’n lang gang met baie oop deure en leë kantore en hy gaan by die eerste die beste in waar hy ’n lewende siel sien, een wat voor ’n groot tekenbord staan en dit aandagtig beskou.

Froon kug om sy aandag te trek.

“Ek soek mevrou Bauer, asseblief?”

’n Potlood in sy mond maak spraak onmoontlik en die man beduie met sy hand. Regs by die deur uit, met die gang af, derde deur links.

“Dankie,” sê Froon, maar die man is al weer verdiep in sy sketse.

Die derde deur links is oop, soos al die ander.

Mevrou Bauer volg blykbaar ’n oopdeurbeleid, flits dit deur Froon se gedagtes

Hy gaan na binne. Dis ’n kleinerige vertrek, met net ’n lessenaar waarop ’n rekenaarskerm die meeste plek inneem, en ’n lae outydse liasseerkabinet met ’n plant bo-op. Die plant, sien hy tot sy verbasing en vreugde, is eg en goed versorg. ’n Malva, bloedrooi in die blom.

Aan die sykant is ’n deur, ’n toe een hierdie keer, met B. Bauer daarop geskryf, in goue letters sonder enige frilletjies.

Hierdie is dus die poortwagter se kantoor, reken Froon, die een wat die draak bewaak. Hy sit die slaai op ’n liasseerkabinet en klop op die deur.

’n Vrouestem antwoord: “Ja?”

Hy gaan in en stap tot voor haar lessenaar. Brumhilde Bauer kyk op van haar werk en lig ’n wenkbrou.

“U middagete, Mevrou.”

Haar neusvleuels roer.

“Ek het ham bestel. Hierdie ruik na vis.”

“Tuna. Ek het gedink u sal vir die verandering hou van ’n smeltkaastunabroodjie.”

Hy wys sy mooiste glimlag, maar Brumhilde Bauer het lankal immuun geraak vir die glimlagge van aantreklike jongmans.

“Vat dit terug en bring my wat ek bestel het,” sê sy en gaan aan met haar werk. Dan kyk sy fronsend op. “En moenie die mosterd vergeet nie.”

Froon trek ’n gesig, swaai om en verlaat haar kantoor. Hy merk op dat iemand in die voorste kantoor ingekom het en steek vas. Sy streel die plant se gekrulde blare. Eers herken hy nie die gesig nie, dan besef hy dat dit die meisie is wat die hyser met hom gedeel het. Onbewus skud hy sy kop toe hy haar rietskraal lyfie raaksien. Sy hart gee ’n skop en sonder om twee keer te dink druk hy die kos in haar hande.

“Hier, eet jy dit.”

Verbaas vat sy dit aan en voordat sy nog iets kan sê is hy al vort.

· · ·

“Moenie vir hom val nie, Mart.”

Brumhilde, wat gesien het wat gebeur, staan in die deur van haar kantoor.

“Hoekom nie? Ek bedoel – wat?” stamel Mart.

“Hy’s baie aantreklik, maar hy’s ook ’n Froneman.”

“Ek verstaan nie?”

“Sê ‘eiendomme’ jou iets?”

Skielik klink die naam bekend.

“O, dáárdie Fronemans!”

“Presies. Ek het al besigheid gedoen met sy pa en ek verseker jou Fronemans is slegte nuus.”

Mart knik haar kop, maar kan nie help nie om te vra: “Hoekom werk hy dan in ’n eetplek as hy so ryk is?”

Brumhilde trek ongeërgd haar skouers op.

“Hoe moet ek weet hoekom bedorwe brokkies iets doen? Seker maar moeg vir sy polo-ponies en rondvaar op sy jagte en besluit toe om iets te doen wat nog nie een van sy soortgenote geprobeer het nie – werk,” sê sy minagtend. “Hy sal gou genoeg ophou as die nuutjie daarvan af is.”

“Hy werk darem al meer as twee maande daar.”

“Ons sal sien.” Maar sy dink sy verstaan wat in Mart omgaan en onwillig voeg sy by: “Jou kos drup. Gaan jy dit eet of wil jy dit raam?”

· · ·

Die Groen Bistro is nie veel meer as ’n eetplek vir naburige kantoorwerkers nie. Die naam wil daarop dui dat die kos wat bedien word organies en vegetaries is, maar daardie goeie voorneme is al lankal die nek ingeslaan deur klante wat spek en eiers bo sojaworsies en tofu verkies. Die naam het egter bly hang omdat dit klaar geregistreer was. ’n Pretensieuse binnenshuisversierder het dit vir die vorige eienaar uitgedos in pers en pêrelgrys vloerteëls, mure en toonbank, terwyl ligpienk kunsleerbanke en ronde tafeltjies met grys lappies die sitplekke uitmaak. Op elke tafeltjie is ’n glasbakkie waarin gekleurde plastiekvissies hang, met bo-op ’n lampie wat seker bedoel is om ’n intieme atmosfeer te skep, maar slegs daarin slaag om die eters te irriteer omdat hulle teen die lig vaskyk in plaas van in hul metgeselle se oë.

Toe Froon terugkom, sien Ané die donderwolke op sy gesig en hoewel sy weet sy moet liewer stilbly, kan sy haarself nie keer nie. Terwyl hy agter die toonbank instorm en die rogbrood gryp, vra sy belangstellend: “En het sy toe daarvan gehou?”

Verwoed plak hy botter op die dun snye brood en val die ham met ’n vlymskerp slagtersmes aan. Ané kou haar kougom en blaas ’n borrel om sy aandag te trek.

“Moenie dit doen nie,” grom hy.

“Nou ja, vertel dan.”

Sy hande bly stil en hy staar oor haar heen met ’n skielike sagte trek op sy gesig.

“Om die waarheid te sê, daar was ’n meisie — ”

“Is vrou Hoogenboezem ’n meisie?”

Froon skud ongeduldig sy kop.

“Nee, man, nie sy nie, ek bedoel … ek dink sy werk daar, ons het saam opgery in die hyser.”

“En?” Ané kan skaars haar opwinding bedwing en sy parkeer die kougom in haar kieste sodat sy aandag nie afgelei word nie.

“Sy hét nie eers ’n boesem nie, hoog of laag, so maer is sy. Die arme ding het sweerlik jare laas ordentlik geëet, ek is seker niemand kyk na haar nie.”

“Maar jy het darem na haar boesem gekyk,” sê Ané hoopvol. Froon is ’n wonderlike man, maar so saai soos ’n sak semels. Sy hele lewe bestaan uit goeie dade. Hy voed die hongeriges en red die wêreld, vind tuistes vir optelkatjies en -hondjies, sit tafelreste uit vir muise en ander wilde diertjies en alle goeie oorskietkos uit die kombuis gaan na tehuise vir die armes.

Ané het niks teen liefdadigheid en omgewingsbewustheid nie en gaan inderwaarheid gewoonlik saam as daar optogte gehou word vir sulke sake, maar sy wens hy wil ’n slag bykom. Sewe-en-twintig jaar oud en die enigste vroumens in sy lewe is Vreeslike Vanessa wat deur sy ouers gekies is omdat so ’n huwelik die familie se geldkoffers nog voller sou maak. Froon hou nie eers van haar nie!

En hier is nou weer ’n meisie en hy staan en droom oor kos pleks van kus.

“Is sy mooi?”

“Wie? O, die meisie. Ek weet nie, so muisvaal en skrikkerig — ”

“Jy hóú van muise.” Ané vroetel haar kougom terug, net ingeval.

Froon wil nie hap nie en sy begin kou.

“Kry daardie gemors uit jou mond,” sê hy en sny met mening die vleis.

“In alle snelrestaurante kou kelsone kougom, ek pas maar net in die prentjie.” Om hom te irriteer blaas sy ’n borrel wat hard klap.

“Jy klink nou nes Vanessa,” grom hy, “maak ’n stereotipe van almal wat nie minstens drie pelsjasse besit nie.” Die afsku in sy stem is amper voelbaar. “As jy jou nie beter gedra nie gaan kry ek ’n regte kelnerin.”

“Moenie so seksisties wees nie, dis kelsoon.”

“Wat?”

“Nie kelnerin nie. Kelsoon, kort vir kelnerpersoon. En jy kan my nie afdank nie, want jy betaal my nie.” Die logika is onweerlegbaar.

“Ja toe, vryf dit in. Gee liewer vir my die mosterd aan.”

“Watter een, die Dijon?”

Froon oorweeg dit.

“Nee,” sê hy dan met ’n skewe gryns, “die sterk Engelse een, dis iewers daar agter die tamatiesous. Sy wíl mos mosterd hê.”