GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/crmfmc-x-no-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

“x no”

— HOOFSTUK 1 —

Olga voel die selfoon vibreer in haar baadjiesak en kners op haar tande. Nie al weer nie! Sy kyk vinnig rond in die klas, maar sien niemand wat in haar rigting loer nie, alle gesigte is vorentoe gerig. Skynheilig leergierig luisterend na wat die onnie daar voor die klas staan en verduidelik. Selfs die voorbokke van die Kayla-kliek sit handjies gevou soos soet kindertjies. Ja, reg.

Olga verskuif op haar stoel. Miskien is dit tog belangrik. Haar hand glip so onopsigtelik as moontlik in haar sak en sy vat die foon raak, trek dit stadig uit en draai dit op haar skoot sodat sy die skerm kan bykom.

Vervlaks!

Woedend tel sy haar kop op, net betyds om te sien hoe Kayla skuins agtertoe na haar kyk met ’n skelm glimlaggie om haar mond. Olga prop die foon terug in haar sak sonder om die boodskap af te vee, om die eenvoudige rede dat sy nog steeds nie weet hoe nie. Op die dorp waar sy grootgeword het, het nie een van haar maats ’n selfoon gehad nie. Hulle was maar altyd in ’n bondel, saam op laerskool en toe daar later vir hoërskool ’n klompie leerlinge uit ’n nog kleiner buurdorp in die koshuis kom bly het, was hulle nog steeds so te sê altyd roepver van mekaar af weg. En as mens moes bel omdat jy skielik saans aan iets gedink het, was daar die landlyn se huistelefoon. Of Facebook se kletshoekies. Dis eers toe hulle na die stad getrek het en sy na die vreemde skool moes oorplaas, dat haar pa besluit het sy moet ’n selfoon kry. Vir veiligheid, het hy gesê, en enige gebeurlikheid. Dit was ’n spoggerige plat dingetjie met allerhande prentjies op en haar ouer broer, wat al op universiteit is, het haar op syne gewys hoe dit werk.

“Verstaan?” het hy na ’n minuut gevra en toe sy beteuterd haar kop skud, bygevoeg: “Toemaar, dis maklik, jy sal gou leer.”

“Wat van sms’e?” Daarvan weet sy darem. “Hoe moet ek dié skryf?”

“Los net ’n paar klinkers uit, hou dit kort, en dan’s jy reg,” het hy haar gerusgestel.

Hier sit sy dus nou en al wat sy weet is hoe om haar foon aan en af te skakel en hoe om ’n boodskap te stuur of te beantwoord. Sy oorweeg haar opsies. Toe sy daardie eerste sms gekry het, het sy nie geweet dis van Kayla af nie, dit het sy eers later agtergekom toe hulle begin ophoop het agter haar skermpie. Sinnelose boodskappe, beledigende aanmerkings en kennisgewings van partytjies met ‘ O ja, en jy is nie genooi nie ’. Elke dag drie of vier, of selfs meer. Sy het hulle geïgnoreer, want sy kon nie dink dat dit vir haar bedoel was nie, niemand ken haar mos nog nie.

Een dag, vroeg in hierdie week, het sy tydens pouse by een van die meisies wat in haar klas is en wat alleen op ’n bankie haar toebroodjie geëet het, gaan sit en haar selfoon uitgehaal.

“Ek wonder of jy my gou sal help,” het sy gesê, en inwendig verskoning gevra vir die wit leuentjie wat gaan volg, maar sy wil darem nie soos ’n algehele gaip lyk nie, “ek het ’n nuwe foon en hy werk anders as my oue. Weet jy dalk hoe om hierdie boodskappe af te vee? Dis nie myne nie,” verduidelik sy vinnig agterna.

“Gee, la’k sien,” en die meisie het die foon gevat, ’n oomblik na die skerm gestaar en ’n paar keer met haar vinger daarop gedruk. “So ja, dis af. Lyk na Kayla se werk, wat het jy haar aangedoen? Ogies gemaak vir haar kêrel?”

“Ek ken Kayla skaars en ek weet nie eers wie haar kêrel is nie,” het Olga verward gesê.

“Wel, jy’t iets gesondig, anders sou sy jou nie so getempteer het nie.” Sy gee die foon terug terwyl sy opstaan. “Ek beter padgee voordat Kayla my by jou sien, anders is daar moeilikheid.”

So het Olga agtergekom dat Kayla die septer swaai en as sy nie haar toestemming gee dat jy kan inkom nie, bly jy uit. Kayla, beeldskoon met haar pikswart hare en potblou oë. Kayla, met die houding wat ’n skoolrok na ontwerpersklere laat lyk. Kayla, wat blykbaar daarop uit is om haar te treiter. Om die een of ander rede, waarvan die onwaarskynlikste een sweerlik is dat sy dink Olga wil haar kêrel afvry. Of miskien is dit bloot omdat sy kán.

Olga besef dis ook haar eie skuld, maar hoe moes sy weet? Dit was so vanselfsprekend, op daardie eerste dag in die skool toe een van haar nuwe klasmaats met ’n lys op ’n knyperbord na haar gekom en gevra het vir haar selnommer.

“In geval van nood, weet jy,” het sy verduidelik, “sodat ons onmiddellik kan vasstel waar almal is.”

En sy het dit gegee, hoewel haar pa en haar broer al twee gewaarsku het om dit nooit te doen nie. Sy het gedink dis maar die prosedure wat hier gevolg word en wie sê nou nee vir ’n knyperbord?

Intussen het Olga nog steeds nie geleer hoe om die boodskappe af te vee nie, en sy kan nie vir Nico vra nie, want dan sal hy wil weet wat aangaan en sy sal hom moet sê van Kayla en hy sal skool toe kom en haar regsien. Dis hoe Nico is, sonder om aan die gevolge te dink vir haar, Olga.

Sy weet nou die boodskappe is op haar gemik, dus sal sy self iets moet doen om dit te stop. ’n Hele protesbrief is te naff, sy sal moet sms-taal gebruik. Dit wat Kayla haar stuur is almal in daardie kriptiese bewoording wat Olga leer ken het uit boeke en sy kan goed genoeg uitmaak wat dit beteken. Jammer net dat niemand ooit die reëls daarvan verduidelik het nie. Selfs die internet, waar sy gewoonlik haar navorsing doen, het nie juis gehelp toe sy dit daar gaan opsoek nie.

Lank peins sy, toe onthou sy wat haar broer gesê het en stuur een antwoord: ‘ x no ’

Kayla vergeet dat Olga nie moet weet van wie die sms’e kom nie, maar verraai haarself toe sy na ’n vinnige kyk op haar foon haar gesig na Olga draai. Haar blou oë is wyd oop gesper en haar blink bo-lip – lipglans, sweer Olga – krul op in ’n verdwaasde uitdrukking.

“Eksno?” vorm haar mond geluidloos.

Maar Olga het gesien dat die onnie na Kayla kyk, en met ’n breë glimlag vestig sy al haar aandag op die bord wat vol calculuskrabbels is. Sy wil nie nou uitgevang word met ’n selfoon in haar hand nie.

“Is daar miskien iets wat jy nie verstaan nie, juffrou Brits?”

Kayla se gesig vertoon blitsvinnig ’n gretige lus na kennis. “Nee, Meneer het alles baie goed verduidelik.”

“Jy moet net sê as dit te moeilik is, dan kan jy altyd na skool bly.”

Kayla skud haar kop.

“Jammer, Meneer, my ma kom haal my en sy sal nie kan wag nie.” Sy lyk nie juis jammer nie, maar hy aanvaar die verskoning.

“Nou goed dan, maar let op asseblief en sit jou selfoon weg.”

“Ja, Meneer,” sê Kayla vroom en lek stadig haar lippe af sodat dit lyk asof sy haar tong uitsteek vir sy rug wat weer na die klas gekeer is terwyl hy op die bord begin skryf. ’n Gedienstige gegiggel klink op van die ander meisies. Olga besef dat Kayla gebluf het en snuif minagtend. Wel, dit het haar aanhangers plesier verskaf. Soos ’n trop skape hardloop hulle agter haar aan. Swape! Skwape? Sy sien daarna uit om vanaand met haar maats op Facebook te klets oor alles, oor Kayla en haar aanhangers – net nie oor hoe alleen sy hier voel nie. Dit sal nog regkom, hoewel sy nie kan verstaan hoekom almal so afsydig is teenoor haar nie. By haar ou skool op die dorp was alles so anders! Sy sug en bepaal haar by wat meneer Dippenaar verduidelik van calculus. Dis vir haar nuut en sy vind dit baie interessant.

Skielik kry sy daardie gevoel dat iemand haar dophou. Dis nie Kayla nie, want dié is besig met haar selfoon en terwyl Olga kyk, sien sy steelse bewegings by die Kayla-kliek na fone wat uitgehaal en beloer word. Koppe word geskud en skouers opgetrek. Kayla kyk na Olga en frons haar winkbroue voordat haar hande besig raak onder haar lessenaar se blad. ’n Oomblik later vibreer Olga se foon weer.

Een boodskap: ‘ wts xno ’

’n Proesgeluid ontsnap onwillekeurig, maar dan vergaan die pret haar as ’n harde stem sê: “Jy, nuwe meisie!”

Meneer Dippenaar! Stadig staan Olga op.

“Ja, Meneer?”

“Wat is jou naam?”

“Olga Steyn, Meneer.”

“Nou ja, Olga Steyn, as jy calculus so snaaks vind, moet jy maar ná skool bly en vir my ook daarvan vertel. Sit!”

Olga sak op haar bank neer, te skaam om ook ’n verskoning uit te dink, en haar kop draai onwillekeurig in die rigting waarvandaan sy vroeër die blik gevoel het. ’n Seun wat skuins agter haar in die ry langsaan sit kyk in haar oë vas, ’n effense glimlag om sy mond. Hy knipoog vir haar en sy voel haar gesig warm word.

Michael.