GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/cmpvhp-katrien-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Katrien

— HOOFSTUK 1 —

Katrien stut haarself teen die naaste boom. Sy is seker haar enkel is gebreek. Sy sal nie verder kan beweeg nie. Sy sit met haar oë toe. Sy gaan nie verder veg nie. As sy hier moet sterf, laat dit so wees.

Sy asem diep in. Die lug is koud. Skemer het reeds neergesak. Sy staar na die omgewing om haar. Die uitsig is mooi hier vanuit die Magaliesberg. Krieke kriek en muskiete zoem-zoem in haar ore. Haar lyf is uitgeput en vuil. Sy hou haar hande voor haar op. Dit is vol skraapmerke en bloed. Die val was nie ver nie, maar dit was hard. Alles is seer. Sy voel haar knieë brand. Sy het nie lus om haar denimbroek op te trek en te kyk of dit stukkend is nie.

Hoe lank sal Herman wag voor hy na haar begin soek? Sal hy aanneem sy het vir Natasha geskakel om haar te kom haal, soos gewoonlik?

Katrien soek rond vir haar selfoon. Haar neus brand en sy snuif. Die foon se skerm is gekraak. Dit wil nie aan nie. Wat het haar besiel om alleen te kom bergklim?

Sy stoei haar rugsak af. Haar water is op.

Sy gooi die foon van terneergeslaenheid so hard soos sy kan af met die berg. Sy skree van frustrasie! Sy skree van moedeloosheid! Sy skree tot dit in huil verander en laat toe dat alles wat haar nou al vir so lank pla, oorneem.

Sy sou bitter graag vir Herman kinders wou gee. Nou, ’n maand voor die troue het alles verander. Al die reëlings is reeds getref. Haar droomrok is net ’n laaste paar verstellings weg van perfek wees. Hoekom het die wete dat sy nooit kinders sal hê saam met Herman haar wêreld so onderstebo gegooi? Dit was nooit iets waaroor sy getwyfel het nie. Tot nou. Sy sluit haar oë vir ’n oomblik. Onrustigheid steeds in haar gemoed. Die enigste manier waaraan sy kon dink om haar kop skoon te kry, was om alleen te kom bergklim. Sy moes haar dink kom dink. Sy moes kom vrede maak met die leemte in haar toekoms.

Dit het vir Katrien voorgekom of Herman lief is vir kinders. Hulle het dit nooit bespreek nie. Sy het aangeneem hy deel haar begeerte. Sy was verkeerd.

Iewers in die bos is daar ’n beweging. Sy hou haar asem op. Die beweging kom nader. Vrees meng met die bloed in haar are. Sy probeer instinktief wegkom van die geluid af. Sy gaan staan regop en ’n steekpyn skiet op in haar been. ’n Onwillekeurige skree verlaat haar mond en sy sak terug op die grond. Sy kyk verskrik om haar rond. Sy kan niks sien nie. Dit is donker. Sy probeer weer opstaan, maar tevergeefs. Skielik kom ’n donker figuur uit die bosse na haar toe aangeloop. Sy skree en knyp haar oë styf toe.

Groot hande tel haar moeiteloos op. Sy hou haar oë toegeknyp. Die pyn in haar enkel skiet deur haar been met elke tree wat hy gee. Sy kerm. Hy ruik soos braaivleisvuur en seep. Sy asem diep in en sak haar kop verslae teen sy boarm. Wat gaan nou van haar word?

Die man stap gemaklik deur die bosse. Hy is duidelik bekend met die omgewing. Waarheen neem hy haar? Die moegheid is besig om oor te neem. Sy raak rustiger met elke diep inasem en sagte uitkreun. Iewers ruik sy die braaivleisvuur en hoor sy ’n hond blaf. Sy hoor ’n diep stem sê: “Gaan lê, Kole.” Hulle stap met trappe op. Sy kerm. Die vloer onder hulle kreun en weergalm hout. ’n Deur kraak en hy laat haar op ’n enkelbed lê. Die koue neem die plek van sy liggaam se warmte in. Sy gee toe aan die slaap wat haar intrek.

· · ·

Katrien skrik wakker van die hond se geblaf. Hulle het nie ’n hond nie? Die son skyn direk op haar gesig. Sy draai op haar sy. Sy skree met die pyn wat deur haar lyf skiet vanaf haar regtervoet. Sy draai vinnig terug op haar rug en asem diep in en uit. Sy staar na die dak. Dit is ’n houthuis se dak. Sy is nie in haar eie kamer nie. Sy lê nie in haar eie bed nie. Gister stroom terug in haar gedagtes. Sy het met haar selfoon geloop en sein soek, nie die los klippe gesien nie en geval. Af met die berg langs. Sy onthou die man wat haar opgetel het. Sy is in sy huis! Waar is hy? Haar hartklop versnel. Die hond blaf weer en dieselfde stem as die vorige nag sê: “Gaan lê, Kole.”

Haar hande voel oor haar lyf. Oor haar hemp en haar borste, af na haar broek tot by die knoop. Alles is nog in plek. Dalk moet sy maak of sy steeds slaap?

Nee. Sy wil sien wie hy is.

Sy hoor die houthuis se vloer kraak. Sy hoor ’n deur oopgaan. Sy hoor voetstappe en dan moet sy sluk. Hy staan in die kamerdeur. Haar oë vasgevang deur ’n paar waterblou oë. Ligte blou. Sy weet nie werklik of hulle blou is nie. Sy dink hulle is naby aan wit wees. Haar asemhaling styg weer. Hy kyk deur haar. Grou in haar siel. Sy hou nie daarvan nie. Dit voel of hy haar oordeel. Dit voel of hy haar blameer. Dit voel of hy kwaad is vir haar oor sy hier lê.

Hy praat nie, kyk net deurborend na haar met sy onverskrokke blik. Haar oë breek weg en bestudeer die res van sy gesig. Hy het lang, ligbruin hare wat skuins oor sy kop lê. ’n Rowwe baard. Die vel aan sy gesig wat wel skoon is, het geen krakies of plooie nie. Dus weet sy dat hy veel jonger moet wees as wat hy met die eerste oogopslag lyk.

Terug in sy veroordeelde blik krimp haar hart ineen. Dit voel of hy alles van haar weet. Asof hy haar met beskuldigings gooi. Moet sy praat? Sy sal nie kan praat nie. Hy beweeg nie. Hy sê nie iets nie. Hy staar net na haar.

Sy hoor Kole weer buite blaf en dan eers tree hy terug. Hy loop na buite en maak ’n ‘sssk’ geluid. Kole is stil. Sy haal diep asem en sluit haar oë. Waar is sy?

Sy probeer beweeg, maar die pyn is onuithoubaar. Sy skree, tot haar spyt. Sy hoor dadelik die voetstappe die huis inkom. Daar is ’n geskarrel in die vertrek langs haar. Wanneer hy weer in die deur staan, het hy ’n blikbeker in sy hand. Hy staar vir ’n oomblik weer na haar voor hy die beker op die kassie langs die bed neersit. Hy bly staan. Sy ruik hom. Hy ruik nie meer soos braaivleisvuur nie, maar steeds soos seep en hout. Hout?

Hy draai om om weg te stap maar sy keer vinnig. “My naam is Katrien. Katrien du Plessis.”

Hy draai nie terug na haar nie. Na ’n paar tellings loop hy verder die kamer uit. Sy ruik koffie en besluit om weer te probeer regop sit. Sy moes harder geval het as wat sy vermoed het. Alles is seer. Sy stoei regop. Versigtig om nie weer te skree nie. Sy byt haar onderlip tot sy regop is. Sy rek na die beker. Dit is warm. Haar mond is droog. Sy sluk huiwerig. Daar is nie melk in die koffie nie, maar baie suiker. Sy sluk swaar. Sy drink haar koffie eintlik met melk en sonder suiker. Haar maag grom. Sy sluk die koffie vinnig af en sit die leë beker op die kassie neer. Sy leun terug teen die koue muur agter haar. Haar oë dwaal deur die vertrek. Alles om haar is van hout gemaak. Dit is net die enkelbed waarop sy lê, met die verbleikte lappieskombers op, wat nie hout is nie. Die bedkassie, laaikas en die stoel is met mooi houtsnywerk versier. Goeie houtwerk. Die geur van gebraaide uie prikkel haar neus. Haar maag grom weer. Sy vou haar hande daaroor. Moet sy opstaan en die man gaan soek? Haar voet is te seer. Seker is hy nie gewoond aan gaste nie.

Sy hoor die geskarrel in die vertrek langsaan bedaar en Kole blaf opgewonde. Sy hoor die man sê: “Daar’s’y, ou maat, nou kan jy lekker eet.”

Het hy dan vir die hond ontbyt gemaak?

Hy staan in die deur met ’n blikbord in sy hand. Sy oë tussen haar en die leë beker op die bedkassie. In haar lewe het sy nog nooit so ongemaklik gevoel nie. Sy weet nie hoe om te reageer nie!

“Dankie vir die koffie.”

Hy loop nader maar antwoord haar nie. Hy tel die beker op en sit die bord neer. Kyk na haar, kyk oor die bed na haar liggaam en uit onsekerheid trek sy die kombers op tot teen haar ken. Hy klim weer in haar oë in met sy blik, maar net vir ’n telling, dan draai hy om en stap weg.

Sy tel die bord op haar skoot en glimlag. Waar is sy? Die ontbyt bestaan uit gebraaide uie, blikbone, eiers en pap. Het Kole dieselfde kos as sy gekry om te eet?

Nog voor sy klaar geëet het staan hy weer by die deur. Daar is ’n kissie in sy hand. Sy hou op met eet en staar na hom. Hy trek die houtstoel nader en sit die kissie daarop neer. Daar is ’n rooi kruis op die deksel. Sy sit haar bord op die bedkassie neer en hou hom onderlangs dop. Hy trek onverwags die kombers van haar af en laat dit langs die stoel val. Hy kyk na haar, oor haar lyf en dan begin hy haar tekkies se veters losmaak.

“Dit is my regtervoet, maar jy hoef regtig nie daarna te kyk nie.”

Dit lyk nie of hy hoor wat sy sê nie.

“As ek dalk net jou selfoon kan leen, dan sal ek iemand bel om my te kom haal?”

Hy hou op met beweeg, staan stadig regop en draai na haar. Dieselfde woede is in sy blik wat haar laat skuldig voel oor iets wat sy nie weet sy verkeerd gedoen het nie.

“Lyk ek vir jou soos iemand wat ’n selfoon besit?”

Sy sluk. Sy stem is diep. Dit klim teen die dak op en sak op haar neer. Sy antwoord nie. Hy weet tenminste wat ’n selfoon is. So sy het nie in ’n tydgat geval en in die verlede beland nie.

Hy buk af en trek beide haar tekkies uit.

Sy hoop haar voete stink nie. Sy dra nie normaalweg toe skoene nie. Ook nie vir solank aaneen nie!

Hy trek haar kouse ook uit en gooi dit langs die bed neer.

Flip! In watter toestand is die naellak op haar toonnaels?

Hy gaan staan regop. Kyk nie na haar terwyl hy praat nie. “Jou voet is nie gebreek nie, dit is net verstuit. Waar is dit nog seer?”

Orals!

Sy weet nie of sy moet antwoord nie. Sy tel haar hande op, palms na bo. Die skraapmerke is nie diep nie. Sy beweeg haar bene en voel dat haar knieë nog brand. “Ek dink my knieë is dalk stukkend?”

Hy vernou sy oë effens en buk dan weer oor haar. Sy hande wat om haar enkel vou is warm en sterk. Hy vat hard. Sy maak haar oë toe. Daar skiet vonke deur sy hande teen haar vel. Sy is seker daarvan. Dit voel so. Haar voet is seer. Sy snak na haar asem – nie oor die seer nie, maar oor die duisende skoenlappers wat skielik en onverstaanbaar in haar maag losgelaat is om vrolik rond te fladder.

Hy vee haar broek op tot bo haar knie, beweeg na die ander been en doen dieselfde. Sy dink terug en onthou dat sy gisteroggend darem beenhare geskeer het, so sy hoef haar nie daaroor te skaam nie.

Haar vel prikkel waar hy aan haar vat. Sy konsentreer op haar asemhaling. Haar hartklop en die skoenlappers wil nie bedaar nie. Sy oë vind hare wanneer hy weer regop staan. Hy skud sy kop liggies, draai om en maak die noodhulpkissie oop. Sy sien hom ’n botteltjie Dettol uithaal en watte. Hy maak dit rustig oop, keer dit om op die watte, draai dit toe en gaan sit dan op die bed by haar voete.

Die oomblik wat hy van die watte teen haar knie druk, asem sy diep in. Sy byt op haar onderlip en voel die trane in haar oë skiet. Sy kyk af en wanneer hy die watte optel, sien sy dat haar knieë nerfaf is. Hy druk ’n skoon watte teen die ander knie en sy maak haar oë toe, duidelik is hy nie bang om haar seer te maak nie.

Hy gooi die stukke watte op die kissie neer en staan op. Hy trek haar broekspype af. “Ek gaan dit nie toeplak nie, dit sal sweer.”

Hy kyk nie weer na haar nie, tel net die kissie op en gaan sit op die houtstoel. Die stoel kraak nie. Hy bêre die Dettol en grou in die kissie rond. Moet sy iets sê? Dalk moet sy dankie sê?

“Kan ek badkamer toe gaan?”

Hy hou op met grou en tel sy oë op na hare. Sy byt haar onderlip. Sy sien sy oë weer vernou en dan kyk hy na haar voet. Sy weet wat hy dink. Sy gaan nie self geloop kry nie. Hy sit die kissie op die vloer neer. “Jy sal in elk geval moet bad voor ek jou voet versorg.”

“Bad? Nee. Nee, ek glo darem nie dit sal nodig wees nie, nee. Jy kan my voet maar los, ek sal bad sodra ek by die huis aankom.”

Hy antwoord haar nie, staar net na haar. Emosieloos.

“As jy nie ’n selfoon het nie, kan jy my net asseblief met die berg afvat met jou bakkie … of wat ook al, na die Groenewalds se huis toe, dan sal hulle my verder kan help?”

Hy gaan sit terug in die stoel en vryf oor sy baard. Sy kan nie help om na sy hand te kyk wat oor sy ken streel nie. Groot hand. Sterk hand. ’n Hand vol merke en sy weet hy het so hard met haar gewerk want daardie hande ken nie van sag vat nie. Van vat aan ’n vrou nie.

“Meneer? Hoor jy wat ek sê?”

Hy maak ’n laggeluid en skud sy kop. Moet sy haarself herhaal? Sy sal, as sy moet. Sy moet hier wegkom! Hierdie ongemaklikheid wat hy veroorsaak deur die manier wat hy sy oë vernou en haar skaamteloos van kop tot tone bestudeer laat haar dink sy moet maar eintlik probeer opspring en weg hop!

“Meneer? Het jy gehoor wat ek sê? Ek sê dat — ”

“Ek besit nie ’n voertuig nie.” Hy klink nog meer onbeskof as wat sy oë sê hy is. “En ek is van plan om môre af te gaan in dorp toe. As jy voor dan die berg wil af, is jy vry om self te loop.”

“S-self te loop?”

“Ja. Ek hou jou nie hier teen jou wil nie. Jy is vry. Om te lóóp.”

Hy is wreed. Hy weet sy sal nie kan loop nie. Sy sak haar oë. Sy kan skaars beweeg sonder om te skree van die pyn. Sy kyk na haar hande. Sy sal graag haar hande wil was. Dalk sal sy beter voel na ’n bad?

“Sal jy my kan help om by die badkamer uit te kom?”

Sy loer na hom, hy sit haar steeds en bestudeer. Sy hoor weer die laggeluid, dan staan hy op en sy volg die voetstappe uit na buite. Sy hoor hom iets sê en neem aan hy praat met Kole. Sy probeer by die venster uit sien, maar dit is te hoog. Hy praat meer ordentlik met Kole as met haar. Sy vou haar arms.

Na ’n ruk tel sy die bord op en eet die kos klaar. Na sy die bord teruggesit het op die bedkassie, bestudeer sy die wonde op haar knieë en sien dat dit nie diep is nie, maar dat daar baie is. Die res van haar bene is nie stukkend nie. Haar voet lyk sleg. Dit is potblou en opgeswel. Sy kry dit nie beweeg nie en as sy haar been probeer optrek, skiet die pyn deur haar lyf en moet sy op haar tande byt om nie te skree nie.

“Die water behoort nou warm te wees.”

Sy skrik vir sy stem en vee verward oor haar hare. “Warm?”

Hy rol sy oë. “Hier is nie elektrisiteit nie. Ek gebruik ’n donkie vir warmwater.”

“’n Donkie?”

Hy skud sy kop, loop tot by haar en kyk oor haar liggaam. Sy voel dadelik ontbloot, al het sy klere aan. Al weet sy sy was die vorige nag reeds in sy arms. Hy tel haar op sonder waarskuwing en sy dink dat hy baie sterk moet wees, want hy maak nie ’n geluid nie. Die vertrek langs die een waar sy in was, is ’n kombuis. Daar is net nog een deur en sy kan sien dat dit die badkamer is. Daar is nie ’n sitkamer nie. Daar is wel die mooiste kombuistafel wat sy al in haar lewe gesien het, ook uit hout gemaak, met vier stoele om.

Kole se kosbakke staan langs die wasbak en die kombuiskaste is ook hout. Alles is hout. Alles is netjies en skoon en sy probeer om nie haar kop teen sy skouer te rus nie, maar soos sy ongemerk probeer rondkyk raak sy met haar wang daaraan.

Hy sit haar versigtig op die toiletdeksel neer. Die vertrek is donker. Daar is net een venster, maar daar hang swaar gordyne voor. “Ek het vir jou ’n skoon handdoek opgehang. Die badkamer het nie ’n deur nie, ek wag buite. Skree as jy klaar is.”

Hy draai om, stap weg en eers wanneer sy die voordeur hoor toe gaan blaas sy haar asem stadig uit. Alles voel soos ’n droom. Al hoe sy weet dat dit nie ’n droom is nie, is die ongelooflike seer wat sy het in haar voet. Sy sien die handdoek hang by die bad. Moet sy nou self sukkel om water in te tap? Een ding is vir seker, die man weet nie hoe om met ’n vrou te werk nie.

· · ·

Na ’n lang gesukkel lê Katrien terug in die bad. Dit is nie ’n groot bad nie. Sy kyk op en staar na die stortkop. Sy moes op haar tande byt toe sy haar seer voet op die rand neersit. Sy het geskrik toe sy na haarself in die spieël gekyk het. Haar maskara was gesmeer. Dit het gelyk of sy haarself gekamoefleer het vir oorlog. Dit het gelyk eintlik of sy reeds deur ’n slagveld was! Haar gesig was vol stof en bloed, al is dit nie stukkend nie. Sy vermoed dit was die skraapmerke op haar hande se bloed. Haar hande het lekker gebrand toe sy dit in die water druk. Sy gebruik sy seep en sy sjampoe. Hy het selfs opknapper. Seker vir sy baard. Sy lag by haarself. So ’n sterk, rowwe, onbeskofte man wat haaropknapper gebruik.

Sy sukkel om uit die bad te kom. Sy kan nie op haar voet trap nie. Haar knieë slaan vars bloed deur, sy dink hy sal dit weer moet skoonmaak. Sy tap die water uit en spoel die bad uit. Sy gaan staan voor die wasbak. Sy kyk eers in die spieël voor sy die badkamerkassie oopmaak. Sy glimlag. Hy het room ook. Sy maak dit oop en ruik daaraan. Dit ruik na niks. Sy smeer haar arms en bene en haar gesig. Sy spoel haar mond uit met sy tandepasta en staar weer na haarself. Sy lyk definitief beter. Dalk het hy haar so aangestaar omdat sy soos ’n bosbewoner gelyk het. Sy kam haar lang, blonde hare met haar vingers deur sodat dit na iets lyk.

Sy trek haar vuil klere aan en sukkel tot net buite die badkamer. Sy gaan staan teen die muur. Hy het gesê sy moet skree? Sy lag. Sy moet erken dat sy beter voel na die bad, al is haar voet en been erg seer.

“Hallo.”

Sy sê dit so hard soos sy kan en hoor dadelik vir Kole blaf. Hy is duidelik ook nie gewoond aan nog iemand hier nie. Kole kom saam na binne en kom ruik aan haar kaalvoete. Kole is ’n pragtige herdershond wat terugtree soos sy eienaar haar met een beweging woordloos opgryp en terugdra kamer toe. Hy laat haar weer op die bed lê, maar bly staan. Dit lyk of hy lank besluit of hy moet praat, voor hy praat.

“Jy moet eintlik daai denim uittrek. Dit gaan jou knieë laat sweer.”

Sy kyk verward na hom. Sy het nie ander klere hier nie! Sy twyfel of een van sy broeke haar sal pas, al kan sy nie veel sien onder die geruite hemp wat vêr oor sy broek hang nie. Sonder om nog iets te sê stap hy weer die kamer uit. Sy kan aflei aan sy voetstappe dat hy net tot op die stoep gestap het voor hy weer terugkom. Sonder om na haar te kyk buk hy af by die laaikas en grou in die onderste laai. As hy opstaan is daar ’n swart kortbroek in sy hande. Hy gooi dit op die bed neer en stap weg.

Goed. Sy is dankbaar dat hy haar nie probeer help om haar denim, wat sy vreeslik gesukkel het om aan te kry na die bad, uit te trek nie. Maar dit sal darem wragtig gehelp het, want dit is onbeskryflik seer en sy kry nie die pyn teruggehou soos sy die broek oor haar seer voet trek en met al haar krag teen die muur vasgooi nie. Sy hoor die voordeur oopgaan en sukkel om net betyds die kortbroek aan te trek voor hy weer voor haar kom staan. Skaamteloos laat hy sy oë oor haar kaal bene gly tot op haar knieë. Die broek is te groot en sy druk dit selfbewus af teen haar bene. Hy haal weer watte en die Dettol uit en gaan sit op die bed. Hy sit die kissie op die vloer voor hom neer en begin die hele ritueel van wonde ontsmet van vooraf uitoefen op haar knieë. Dit brand en haar oë traan. Sy kan dit nie meer terughou nie. Die hele proses om te bad en denim aan en weer uit te kry, was reeds te seer!

Eers wanneer sy moet snuif kyk hy na haar. Daar verskyn ’n ligte frons tussen sy waterblou oë. Hy kyk af na haar wonde en weer terug na haar. Sy vee met die agterkant van haar hand onder haar neus en sak haar oë. Hy moet maar dink sy is swak omdat sy huil. Sy gee nie om nie.

As hy voortgaan voel dit amper vir haar asof hy sagter met die watte druk.

Maar sy reken sy verbeel haar dit.

Hy tel weer die kissie op en haal ’n verband en ’n buisie salf uit. Hy sit die kissie terug op die grond. Hy skuif tot agterop die bed en tel haar voet op dat dit op sy been rus. Sy byt op haar tande en knyp haar oë toe. Sy vee vinnig die trane af, maar maak nie haar oë oop nie. Eers wanneer sy iets koud op haar vel voel val kyk sy na haar voet. Dit is ’n jelsalf en hy smeer versigtig. Haar liggaam slaan hoendervleis uit met sy aanraking soos hy dit versprei en sy dink dit is omdat dit koue salf is. Sy asem diep in en stadig uit, diep in en stadig uit, om die trane weg te dwing.

Hy kyk eers weer na haar wanneer sy weer snuif en die frons is steeds sigbaar.

Sy voel skuldig omdat sy huil. “Ek is jammer.”

Hy antwoord nie.

Herman word altyd kwaad as sy huil. Hy sê dit is aansit en onnodig. Maar die man voor haar skud sy kop liggies en gaan voort met sy taak. Hy begin die verband versigtig om haar voet draai. Stadig en geduldig en sy kan voel die salf wat hy aangesmeer het trek in haar vel in. Eers na hy alles teruggepak het in die noodhulpkissie kyk hy weer na haar. Hy tel haar voet van hom af.

“Dankie.”

Hy antwoord nie, stap net uit. Sy hoor hom doenig in die kombuis en dan staan hy weer met die blikbeker in sy hande. “Drink dié, dit sal help vir die pyn.”

Hy hou twee rooi en groen kapsules na haar uit. Sy huiwer, maar neem dit. Dit lyk soos pynpille. As hy iets aan haar wou doen sou hy seker teen dié tyd al? Sy neem die beker by hom, trek haar skouers op en sluk die pille af met die water wat in die beker is. Sy hou die beker na hom wat dit neem maar bly staan.

“Hoe kom jy in die dorp?”

Geen antwoord.

“Is ons naby die Groenewalds se huis?”

Hy lag hard. Sonder om oogkontak te verbreek. “Nee.”

Nee?

“Ek het verdwaal. Oom Pierre het gesê ek moet op die paadjie bly, maar toe kyk ek nie waar ek loop nie. Toe ek besef ek het afgedwaal, het ek probeer om sein te kry vir my foon en toe het ek geval. My foon is stukkend.”

Geen antwoord nie.

“Oom Pierre is my pa se neef.”

Geen antwoord nie.

“My pa is Karel du Plessis.”

Hy skud sy kop, draai om en stap na buite. Sy sak haar oë. Hoe kan iemand nie reageer as iemand praat nie? Sy stoei om weer plat te lê en wens hy het die kombers vir haar aangegee, want haar bene kry koud. Maar sy het nie krag om te probeer om dit op te tel nie. Dalk moet sy net ’n bietjie lê, haar krag sal seker terugkeer. Die pynpille sal inskop. Sy sluit haar oë. Haar voet klop. Haar knieë voel beter. Haar kop voel beter. Sy voel beter.

· · ·

Katrien trek die kombers tot onder haar ken. Sy asem diep in. Die reuk van braaivleisvuur vul haar longe en dan onthou sy waar sy is. Haar oë spring oop. Sy kyk om haar rond. Sy sien nie haar denim of die leë bord wat op die bedkassie gestaan het nie. Sy stoei regop en is dadelik dankbaar dat haar voet minder seer is. Sy trek die kombers op en kyk na haar knieë. Dit is nie meer smetterig nie. Sy kan aflei aan die son wat die kamer inskyn dat dit laatmiddag moet wees. Alle benul van tyd is van haar gestroop. Watter dag is dit nou weer?

As sy reg is, moet vandag Donderdag wees.

Haar gedagtes dwaal na Herman en sy wonder of hy al na haar begin soek het. Sou oom Pierre agtergekom het dat sy nie die berg afgekom het nie? Of sou hy maar net aangeneem het hy het haar gemis? As sy en hierdie bergman nie naby die Groenewalds se huis is nie, waar is hulle dan? Sal iemand haar ooit hier vind? Hoe gaan hy haar môre die berg afkry? Haar oë skiet weer vol trane en sy moet dadelik snuif. Pleks het sy maar eerder besluit om haar dink op ’n ander plek te gaan dink. Nie op die berg nie. Maar die berg is waar sy as kind vrede gevind het. Sy het wel nooit alleen berggeklim nie. Dit was die enigste plek waar sy werklik haarself kon wees. Sy het nie gedink ’n mens verdwaal so maklik op die berg nie! Mens kan dan af sien? Jy sal mos kan aanneem waar jy is? Af is mos net een rigting!

Sy het nie geweet dat die bome huise kan insluk en almal eenders laat lyk nie. Nou sit sy hier in ’n vreemde, onbeskofte, gevoellose man se bed en … waar het hy geslaap? Sy het nie nog ’n vertrek of nog ’n bed gesien nie?

Sy voel dadelik skuldig. Al wat sy nog in haar gedagtes gedoen het, is om hom te beledig en eintlik help hy haar. Hoekom help hy haar? Weet hy dalk wie haar pa is en verwag hy ’n beloning? Dit kan wees. Al wat lyk of dit waardevol in die plek is, is die houtmeubels. Hy het nie eers ordentlike borde en bekers nie! Maar hy het nie verlede nag geweet wie sy is toe hy haar gehelp het nie. Hoe het hy haar gevind? Dalk het hy haar gehoor skree. Hoekom praat hy nie met haar nie? Hoekom vra hy haar nie uit nie? Is hy nie nuuskierig oor hoekom sy alleen hier op die berg is nie?

Seker as iemand so afgeslote woon, gee hy nie om oor ander mense nie. Hy wil duidelik nie gesteur word nie. Dit is seker die rede hoekom hy haar deurentyd met ’n vurige blik bestudeer. Hoe dit ook al sy, verder hier op die bed sit en wonder, gaan sy nie. Sy sal opstaan al is dit seer en na die stoep loop en as hy daar is, sal sy net antwoorde beveel. Antwoorde op wat? Wat sy naam is, om mee te begin!

Sy help haar been van die bed af en die ander een volg. Dit is minder seer om te beweeg. Sy probeer opstaan, maar val terug op die bed. As sy net ’n kruk of iets gehad het om op te steun. Sy probeer weer en skree soos die pyn deur haar been opskiet wanneer sy op haar voet trap. Sy hou dadelik haar hand oor haar mond. Kole blaf en sy vloek sag omdat sy ore so fyn is. Sy sit stil en luister na die voetstappe wat op met die trappe kom. Die voordeur kraak. Sy oë is dadelik in hare wanneer hy by die kamerdeur gaan stilstaan. Sy byt op haar onderlip. Is sy ore ook so fyn of weet hy dat Kole net blaf vir haar? Moet sy iets sê? Dalk moet sy hom net vra wat is sy naam.

“Jammer, ek wou nie pla nie.”

Sy ruik dieselfde braaivleisvuur reuk aan hom wat daar was gisteraand.

“Mag ek dalk weer iets kry om te drink?”

Hy breek los uit haar blik. Sy oë gly oor haar bene na haar voet en dan draai hy om en sy loer hom agterna. Hy loop na ’n kas, haal ’n blikbeker uit en tap kraanwater in. Drink hy net water?

Sy hou hom dop soos hy na haar toe aangeloop kom. Hy hou die beker na haar uit. “Jy moet jou voet in die lug hou.”

Sy sit die beker op die bedkassie neer en klim terug op die bed. Sy byt op haar tande om nie ’n geluid te maak nie. Hy bly staan. Sy kyk op na hom.

“Waar het jy geslaap?”

Hy antwoord haar nie.

“Wat is jou naam?”

“Wat maak dit saak?”

“Ek wil tenminste weet wat om jou te noem.”

“Meneer is reg.”

Hy lag, draai om en stap na buite. Hy is onbeskof! Sy vou weer haar arms. Sy hoor hom goed rondskuif op die stoep en weer inkom. Hy kyk na die beker water en sy neem dit skuldig en drink dit leeg. Die oomblik wat sy dit weer neersit tel hy haar onverwags op. Sy skrik en hou haar asem in. Hy dra haar na buite waar sy neergesit word op ’n wiegstoel. Hy laat haar voete op ’n bankie rus en stap dan terug die huis in. Sy asem stadig uit.

Haar oë neem ’n oomblik om gewoond te raak aan die buitelug. Die asemsnak prentjie wat voor haar verskyn laat haar vergeet van haar voet wat klop en die ongelukkigheid in haar oor die bergman wat haar so onbeskof hanteer. Kole kom lê langs haar asof hy ook na die uitsig staar. Die son sit al laag bo die berge wat vêr van hulle af lê. Dit lyk asof hulle aan die einde van die ander kant van die wêreld lê.

Daar is wolke in die lug. Mooi gekleurde wolke. Wit en pienk en oranje wolke. Sy asem diep in en stadig uit. Al wat sy hoor is voëls wat vrolik sing en sy wens sy het geweet watter tipe voëls dit almal is. Die braaier is ’n hele paar treë weg van die huis af gebou met bakstene. Daar is ’n houtskuurtjie nog ’n paar treë regs daarvan en dan is dit bosse en bome. Sy kyk om haar rond. Die stoep is onderdak. Reg om hulle is bosse en bome en sy weet mens sal nie die huisie sommer van onder af raaksien nie. Inteendeel vermoed sy mens sal dit eers sien as jy deur die laaste bos gebreek het. Sy skrik wanneer hy weer na buite kom, maar hy kyk nie na haar nie. Hy loop reguit na die vuur.

Sy laat haar hande oor die hout van die stoel gly. Sy verwonder haar aan die patrone wat daarin uitgekerf is. Sy volg dit met haar vinger oor die armleuning tot waar sy nie meer kan bykom agter haar nie. Die sitvlak is sag. Sy streel die hout af tot by die stoel se skommelpote. Dit is mooi. Dit maak haar amper so rustig soos die omgewing om haar. Dit maak haar rustig op ’n ander manier. Sy volg die patroon se krulle weer op tot by die armleuning en sit dan terug in die stoel. Sy soek na die onbeskofte man met haar oë.

Sy besluit om hom ook te ignoreer en die natuur te geniet. Haar maag grom weer. Sy vou haar hande saam daaroor en kyk af na Kole.

“Hallo, Kole.”

Hy tel sy kop op en maak ’n sagte tjankgeluid.

“My naam is Katrien. Ek bly in Voëltjiesingel in Brits. My pa is ’n prokureur en my ma ’n huisvrou. Ek het nie boeties en sussies nie. En jy?”

Kole gee ’n harde blaf asof hy haar antwoord en sy lag. Sy loer na die bergman en sien dat hy na haar staan en kyk. Sy maak asof sy haar nie daaraan steur nie en begin Kole se kop vryf.

“My beste vriendin se naam is Natasha en sy is vir my soos ’n sussie. Bly jy lekker hier?”

Kole blaf weer en dié keer lag sy kliphard daaroor. Hy staan op en gaan lê met sy neus op haar skoot. Sy vryf hom oor sy lyf terwyl sy stil glimlag en na die bergman loer wat nog nie weer beweeg het nie. In sy hand is ’n houtstomp. Hy sit dit op die muur van die braaier neer en stap rustig tot op die eerste trappie. Kole beweeg nie. Sy bly hom vryf. Sy hoop hy het alles gehoor wat sy aan Kole vertel het. Sy het nie moeite gedoen om sag te praat nie. Hy hou haar hand dop wat sag oor Kole streel. Sy kry nie opgehou met glimlag nie. Sy kyk op na hom en sien die ligte frons tussen sy oë. Pla dit hom dat sy aan Kole raak? Dan moet hy dit maar sê. Dit is nie haar skuld as hy nie kan praat nie. Hy vang haar weer vas met sy ligte blik. Sy oë is selfs nog ligter in die buitelug. Haar hart hamer teen haar borskas, sy kry nie weggebreek nie. Maar wanneer sy oë weer vernou kry sy dieselfde gevoel as vroeër, dat hy haar nie hier wil hê nie. Dat hy eintlik kwaad is vir haar.

“Ek weet ek was dom om alleen te kom bergklim.”

Hy antwoord haar nie.

Sy dink dit is wat hy dink en hou aan met praat. “Maar ek het baie gehad om oor te dink en ek ken nie ’n rustiger plek op aarde as op die berg nie.”

Hy antwoord steeds nie. Kole gaan staan regop en blaf. Hy kyk na Kole en dan na agter die bosse en sonder waarskuwing draai hy om en stap af verby die braaier die bosse in. Kole gee weer een harde blaf. Die bosse beweeg. Net voor sy benoud raak sien sy dat dit net die bergman is wat terugkom. Hy loop tot voor haar. In sy hand, ’n dooie fisant. “Aandete.”

Haar oë vergroot en sy hou haar hande oor haar mond. “Jy is nie ernstig nie?”

Hy lag en loop die huis binne. Wanneer hy byna dadelik weer uitkom, het hy ’n pot in sy hande. Hy tel dit bo-op die vuur. Hy kom nie terug na haar toe nie en Kole het weer intussen gaan lê. Was hy ernstig?

Dit is kos en haar maag grom so hard dat sy seker is hy moet dit hoor tot waar hy doenig by die vuur is. Eet sal sy dus eet. Sy sal ook nie kla nie. Sy hoop net dat die voël sal gaar wees.

· · ·

Die nag buite is donker. Sy slaan na die muskiete wat haar nou al teen dié tyd vrot gebyt het. Hy het nog nie een keer kom hoor of sy dalk eerder sal wil ingaan nie! Sy sal hom nie vra nie. Sy sal hom niks vra nie! Eintlik wil sy niks meer van hom hê nie, want sy is eintlik kwaad vir hóm. Sy het lank gedink en gewonder. As hy haar so graag nié hier wil hê nie, hoekom het hy haar nie eerder gelos net waar sy gelê het nie? Dalk het Herman al na haar kom soek en sou hy haar daar gevind het. Hoe kan iemand in elk geval so min praat?

Sy hou hom dop soos hy heen-en-weer verby haar die huis inloop. Wanneer hy weer voor haar gaan staan, versnel haar hartklop onwillekeurig. Hy vermy oogkontak. Hy tel haar op en dra haar tot by die kombuistafel. Hy laat haar voet op een van die leë stoele rus. Al lig wat binne is, is ’n paar paraffienlampe wat rondstaan. In die bord wat hy half voor haar neergooi is ’n stuk vleis wat net soos hoender lyk. Haar maag het al moed opgegee en grom lank nie meer nie. Hy skep ’n stuk koue pap in haar bord en sy dink dit is dieselfde pap as wat hulle vanoggend geëet het. Sy staar lank na hom in ongeloof. Wie lewe so? Hy kon mos maar net nuwe pap gemaak het? Dit sou dan tenminste warm wees.

Hy sit ’n sakkie sout voor haar neer en ’n bottel iets wat sy vermoed dalk blatjang kan wees. Sy is nie seker nie, so sy besluit om eerder nie daarvan te eet nie. Sy gooi baie sout op die vleis, want sy weet nie of dit na iets gaan proe nie.

Sy hou hom steeds onderlangs dop. Hy gooi ook sout op en skep twee groot lepels van die vermoede blatjang in sy bord, dan begin hy eet asof sy nie daar is nie. Hy hou die stuk fisant in sy een hand vas terwyl hy groot happe van die pap in sy mond wurg. Van die pap sit in sy baard om sy mond vas en sy moet haar lip kou om nie te lag nie.

Sy tel haar vurk op en proe aan die vleis. Tot haar verbasing is dit nie sleg nie en skep sy die res bo-op die pap in die hoop dat die pap bietjie warmer sal word.

Hy is lank voor haar klaar geëet. Hy staan van die tafel af op sonder ’n woord. Hy skrop rond in die kombuis en skep dan Kole se bord vol. Hy vra nie eers of sy nog wil eet nie? Ongeskik. Duidelik is hy niks gepla oor haar belange nie.

Kole kom eers ingehardloop wanneer hy hom roep en spring teen hom op. Hy vryf sy kop en sê: “Jy kan maar eet, ou maat.”

Kole het baie goeie maniere.

Sy baas het geen maniere nie.

Sy eet al die vleis, los van die pap. “Ek is klaar.”

Hy kyk na haar, asof hy vergeet het dat sy daar is. Sy merk dat sy baard skoon is en wil eintlik weer lag vir haar gedagtes. Sy sit geduldig en wag terwyl hy om haar besig bly in die kombuis. Sy konsentreer om nie sy elke beweging dop te hou nie. Haar oë gaan toe wanneer hy soos die vorige kere haar moeiteloos optel. Hy laat haar op die bed sit en trek die noodhulpkissie nader.

“Waar slaap jy?”

“Dit maak nie saak nie.”

Hy rol die verband van haar voet af en kyk daarna. Dit is nog geswel, maar lyk beter as vanoggend. Sy hande is koud. Haar liggaam slaan hoendervleis uit wanneer hy die jelsalf versigtig insmeer. Waar slaap hy? Dit maak nie saak nie. Dit maak saak! Sy vermoed hy slaap op ’n stoel of op die grond. Sy voel vreeslik skuldig daaroor. Wanneer die verband weer om haar voet is staan hy op, draai die lamp af en stap weg. Sy stoei om plat te gaan lê, maar dan storm hy weer die kamer binne en sy skrik hoorbaar.

“Drink hierdie voor jy slaap.”

Hy hou ’n beker en pille na haar. Hy maak nie weer oogkontak nie.

“Dankie.”

Hy wag tot die beker leeg is en vat dit by haar, maar bly staan. In die skadu’s van die nag lyk hy vreeslik onheilspellend. Wat doen hy hier op die berg en hoekom verkies hy om so te lewe? Hy kan mos die lewe vir hom baie meer aangenaam maak as wat dit is. Sy wil so graag weer vir hom vra wat sy naam is, maar sy veg met alles in haar teen die nuuskierigheid wat in haar brand. Hy tel die kombers op en gooi haar toe. Hy kyk nie na haar wanneer hy praat nie. “Roep as jou voet te veel pyn deur die nag.”

“Dankie.” Maar sy sal nie.

Hy bly staan.

Sy wens sy kon sien waarna hy kyk. “Ek is jammer.”

Sy wou dit eintlik nie sê nie, maar die woorde het vanself uitgeglip. Hy draai om en stap na buite. Sy kan hoor hy het van die stoep afgeloop. Sy gaan lê weer en probeer luister wat hy doen, maar sy hoor niks.