GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/cbxtgp-waar-die-dooies-leef-1.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Waar die Dooies Leef

Hierdie verhaal speel af omstreeks die jaar 1928 in Suid-Amerika, waar die Swart Luiperd sy vriend Ignatius Malan gehelp het met antropologiese navorsing onder die Amarari- en Oekapi-stamme. Lees Pad van die Arend, Die Duiwel is ’n Vrou en Gees uit die Vuur vir die avonture wat Leon en sy diere-makkers tot dusver beleef het.

― HOOFSTUK 1 ―

GOUD IN DIE GRAF

’n Drukkende stilte heers oor die ganse oerwoud-landskap. Die son het, reeds vergete, vuurrooi in die weste weggeduik. Daar trek geen luggie nie. Dit is bedompig warm. Die takke hang swaar van die reuse-bome neer en die rivier kronkel lui tussen die groen woude deur. Dit is asof selfs die roofdiere te afgemat en moeg is om te gaan jag. Die meeste lê nog in hulle dagskuiling en luister na die stilte wat iets soos ’n gedruis in hulle ore is.

Die dag wat verby is, was drukkend, een van daardie snikhete dae wat die laaste bietjie lewensap uit mens en dier bak.

Daar is triljoene vonkelende sterre in die hemelruim, maar hulle werp nie genoeg lig na die aarde toe af om die ergste duisternis, wat geheimsinnig en stil onder die boomreuse skuil, te kan verjaag nie.

Tussen die digte woud deur kronkel ’n eensame wildspaadjie. In daardie paadjie beweeg ’n skaduwee stil vorentoe. Dit is geen gestalte nie, maar ’n vormlose swart massa wat aansweef deur die lower sonder om ’n geraas te maak, sonder om die blare van die bome waarlangs dit verbygaan, in beweging te bring.

Dit is geen roofdier nie, ook nie ’n wildsbok nie, want daarvoor is die skaduweeagtige massa te hoog van die grond af. Dit beweeg reg op ’n groot rots af wat tussen die bosse verskuil lê en wag hou oor ’n stroompie helder water wat stilweg verbyvloei na die rivier toe.

Die skaduwee beweeg tussen die bome uit, sweef tot in die middel van ’n oop kol tussen die lower, waar dit gaan staan, en dan neem daardie vlek skielik gestalte aan – dit word die gedaante van ’n mens wat nou sy kop oplig en na die sterre kyk, lank, aandagtig, asof hy krag uit daardie rigting wil put.

Dit vertoef daar in die oop kol, en dan kom die eerste geluid wat die stilte versteur – ’n kortaf kreun en dan die vinnige asemhaling van die mens. Die kop en die vorm van die res van die liggaam is nou vaag sigbaar, maar dit bly origens nog slegs een donker massa. Die hele mensegestalte wat daar staan is pikswart, soos die grynsende skaduwees in die bos agter hom. Die hande hang slap langs die sye, en as daar weer beweging kom, kom die geluide van slepende voetstappe en weer ’n diep kreun. ’n Tree word gevorder en dan gaan staan die figuur weer, waggelend, onseker of dit weer vooruit moet beur.

Skielik stort die liggaam teen die grond neer, en die plofgeluid klink onnatuurlik hard in die stil bos. Ineens is daar geluide in die gitswarte duisternis agter die figuur wat nou roerloos in die dowwe paadjie lê. Baie skaduwees bondel tussen die bosse uit, en daar is ineens ook die gekraak van takke en benoude tjankgeluidjies. Meer as ’n dosyn honde storm op die beweginglose bondel af, blaf dan oorverdowend as hulle digby kom en val oor mekaar om die prooi eerste te bereik. Maar toe die voorste ’n armlengte van die gestalte op die grond is, steek hy vas en bring die res van die bondel agter hom tot stilstand. Die figuur het weer beweeg, en hierdie rondloper honde is nooit geneë om iets by te dam wat nog soveel lewe in hom het nie.

Krampagtig word ’n hand uitgestrek na ’n stuk hout langs die paadjie. Dan word dit skielik opgetel en met ’n laaste kragsinspanning na die honde gegooi. Tjankgeluide volg en die donker gestaltes van honger honde retireer vinnig.

Die figuur sukkel weer steunend orent, kom weer waggelend op sy voete en strompel voort. Dit lyk asof hy enige oomblik vooroor gaan val, maar hy hou vol. Hy verdwyn ’n oomblik later weer tussen die diep skaduwees in, gryp na die takke om te verhoed dat hy neerstort. Met hortende asemhaling beur hy voort, en dit lyk asof hy mik om by daardie groot rots voor hom uit te kom. Maar voordat hy dit kan bereik, stort hy weer neer. Hierdie keer is daar weer geen beweging in die liggaam nie. Sy hande is onnatuurlik onder hom ingevou, en sy gesig lê in die grond.

Honger en bloedlustig storm die honde weer vorentoe uit die duisternis wat hulle netnou so vinnig opgeslurp het. Hierdie keer spring die voorste deur die lug en land grommend op die figuur se rug.

Maar skielik is daar ’n geraas van blare voor die honde. Iets storm op hulle af en dan volg ’n eienaardige, singende geluid, net soos die voorslag van ’n sweep wat vinnig deur die lug geswaai word. Die honde val weer oormekaar om betyds weg te kom, maar een groot hond keer langs die roerlose figuur in die wildspaadjie om.

Die takke raas weer en ’n bonkige gestalte kom uit die bosse langs die groot rots uitgestap. Hy beweeg vlugtig, seker. Hy steek by die roerlose bondel vas, buk en ruk ’n pyl uit die bors van die hond, vee die punt daarvan teen die ruwe stam van ’n boom af en steek dit vinnig terug in ’n koker wat agter sy rug hang. Dan vat hy die nog stuiptrekkende hond aan die agterbeen en slinger die dier tussen die bosse in. Hy gaan kniel by die roerlose figuur, draai hom om op sy rug en lê dan sy hande op sy hart.

Saggies, asof hy ’n baba hanteer, druk hy albei sy hande onder die gestalte in en staan dan met hom op. Versigtig stap hy na die rots en lê die bewustelose figuur langs die stroompie neer. Hy skep water met sy hande op en gooi dit oor die bewustelose se gesig. Die persoon begin kreun en maak dan stadig sy oë oop, maar hy kan niks voor hom sien nie. Alles is net een donker vlek. Sy weldoener skep weer water met sy hand, en hierdie keer hou hy dit voor die moeë man se lippe. Daar word gulsig gedrink.

Nou neem die gesig van sy weldoener vorm aan. Dit is ’n swart gesig, en toe hy sy oë op skrefies trek om beter te kan sien, sien hy die kop van ’n dier, van ’n luiperd, voor hom. Dit is egter mensehande wat die water aan hom gee en wat die ander hand onder hom in het.

“Wat soek jy hier in die nag, Daka?” vra die katgesig skielik in ’n hol maar strelende stem en in sy tongval, die taal van die Oekapi-stam.

Die man wat netnou byna deur die rondloper honde verslind is, kom stadig orent. Dan kom hy teenaan sy weldoener staan en betas die swart mondering wat hy aan het.

“O Swart Luiperd, hoe bly is ek dat ek jou teengekom het. Ek het geweet dit moet ’n groot gees wees wat die wilde honde van my ou vleis weggehou het, maar ek het nie kon droom dat dit jy is nie, Swart Luiperd. Vir altyd lewe die Swart Luiperd! Net soos die son en die maan sal jy nooit sterf nie.”

“Ek het jou gevra wat jy hier in die bos in die nag soek, Daka. Weet jy nie dat die bos vol jaguars en poemas is nie, om nie te praat van wilde honde nie. Wil jy dan graag doodgaan, Daka?” praat die Luiperdman, Leon Fouché, weer sag.

“Doodgaan, Swart Luiperd? Ek het gewens dat ek al dood was. Daar het verskriklike dinge gebeur, my vriend. Die Jivaro’s het almal teen ons Oekapi’s opgestaan, en dié wat hulle nie met die skietstokke en kapmesse doodgemaak het nie, het gevlug of het in die stroom omgekom. Die Jivaro’s het ons vrouens en ons jongmense ontvoer. Al die mense van die tempel van Inti is vermoor. Dit is nog net ek, Daka, wat oorbly. Ek het sommer gevlug … in die rigting waar die witmense woon. En hier in die bos is ek, moeg van honger en dors, byna deur die honde opgevreet. Maar die Swart Luiperd was hier en ek lewe nou om jou van die lot van die Oekapi’s te vertel.”

Die Swart Luiperd strek hom in volle lengte uit en leun na ’n oomblik teen ’n skurwe stam aan. Oorkant die stroompie water lê sy twee gespikkelde katte, Simson en Spikkels, met hulle groot koppe op hulle voorpote, terwyl hulle wantrouig na die vreemdeling daar by hulle tweebeenmaat lê en gluur. Net langs die rots staan die taai, gesoute ryperd, Donker. Al drie die Luiperdman se diermaats is bewus daarvan dat ’n hulpelose Oekapi uit die donker bosse te voorskyn gestrompel het en byna deur wilde honde opgevreet is. Leon Fouché, hulle gemaskerde maat, het hier langs hulle gelê en slaap, toe die geluide van slepende voetstappe hulle van hulle aangename drome beroof het.

“Waar ons tempel was, Swart Luiperd, is daar nou net asse en die oorblyfsels van ons manne en vroue wat deur die Jivaro’s afgemaai is. Dit is nog net hulle bleek bene wat daar lê, want die aasvoëls het die vleis al weggevreet. Die tempel is verwoes, Swart Luiperd. Selfs die rondloper honde is bang om snags daar te gaan aas. Inti, ons voorouerlike god, het sy aangesig van ons af weggewend, Swart Luiperd. Ek, Daka, is nog die enigste priester wat oorbly. Die hele tempel is uitgemoor. Ek kan ook nou maar sterf, Swart Luiperd, maar voordat ek sterf, moet ek, volgens godsdienstige bepalings, die geheim van die Inkas se heilige grafte aan ’n priester van ’n jonger geslag toevertrou, en daar is niemand nie, Swart Luiperd. Ek vrees saam met my sal ook die geheim van die Inka-skatte sterf. En dit mag eintlik nie gebeur nie.”

Daka se stem is swak en hy moet telkens weens uitputting rus. Hy vly hom nou weer langs die stroompie neer en drink lang teue van die helder water in.

“Daka, en wat het van die skat in die tempel geword? Is dit gesteel?”

Daka staan haastig op. Sy lippe is klam van die water, sy lang, steil hare hang effens oor sy oë.

“Nee, Swart Luiperd, hulle het die skat nie gekry nie. Voor die groot aanval het ons priesters die beelde en goud na die heilige grafte van die Inkas in die berge geneem, daar waar ander skatte deur die eeue begrawe is, en waarvan alleen drie uitgesoekte priesters die geheim weet. Dit was al die eeue ’n tradisie by ons om die geheim van geslag tot geslag oor te dra. Niemand behalwe drie uitgesoekte priesters weet waar die grafte van die heiliges is. Twee van daardie priesters is reeds dood, en ek is die enigste wat nog oorbly, maar ek weet nie aan wie ek die geheim moet toevertrou nie. Toe ons die goud in die tempel na die heilige graftes toe gedra het, was dit net ons drie priesters en tien draers. Maar net ons drie priester het teruggekeer. Dit is van een tot een die gebruik.”

Daka hyg hard na asem en gaan sit weer, uitgeput en siek.

“Slaap tot môre, Daka. Dan sal ek jou na die sendingstasie toe neem, twintig myl van hier af. Hulle sal jou versorg.”

Daka begin hard snik.

“Ek is bang ek gaan saam met die geheim dood, Swart Luiperd. En dit mag nie gebeur nie!”

“By die sendingstasie sal jy weer van jou mense ontmoet, Daka.”

“Maar hulle is nie priesters nie, Swart Luiperd. Die geheim kan nie aan hulle toevertrou word nie.”

“Wel, dan moet die geheim maar saam met jou sterf, Daka,” merk die Luiperdman op en vly hom langs sy tiers neer. “Dit sal beter so wees, Daka, want die skatte van die Inkas het al baie bloedvergieting veroorsaak. Duisende mense is al vermoor omdat hulle die goud in jul tempel gesien glinster het. Een van my broers, die wyse man van my land, Suid-Afrika, is hier in die Suid-Amerikaanse bosse deur mal Jivaro’s vermoor omdat hy saam was met diegene wie se kele gefluit het van dors na goud.”

“Dit was nie die Jivaro’s nie, Swart Luiperd. Die Jivaro’s was deur Sabakar, die Wandelende Gees, getoor, en dit was jy, Swart Luiperd, wat hom die land uitgejaag het. Hy het met die groot voël in die wolke verdwyn.”1

“En hy kom dalk met die groot voël weer terug!”

Daar is ’n rukkie stilte. Die eienaardige roerloosheid omsluit alles soos ’n wolk. Die oerwoud wat wemel van gevaarlike gediertes, kan hier intens stil word, byna doods, maar dan is die donker bosse op hul gevaarlikste.

“Swart Luiperd,” verbreek Daka weer die stilte. “Ek dink ek moet die geheim van die heilige grafte aan jou toevertrou. Jy was nog altyd ’n vriend van die Oekapi’s. Jy is waardig om hierdie geheim te bewaar en aan ’n waardige priester oor te dra indien jy hom ooit teenkom.”

Die Luiperdman kom orent. Hy kan sy ore byna nie glo nie.

“Dan vrees ek, Daka, dat die geheim van die Inkas se skatte nooit sal uitlek nie, want ek vertrou geen mens nie, selfs nie waardige priesters wat ek moontlik sal teenkom nie.”

“Hoe nader jy die geheim aan jou hart bewaar, hoe beter, maar voordat jy doodgaan, Swart Luiperd, moet jy die geheim aan ’n vertroubare persoon verklap – ’n Oekapi wat die naam werd is.”

“Nee, ek wil die geheim van die Inkas se heilige grafte nie weet nie. Die Oekapi’s is feitlik uitgemoor. Laat die skat maar gerus vergete lê, Daka.”

Daka het die slaap wat hom netnou amper oorval het, vergeet. Hy staan weer op, spring oor die stroompie water en kom vlak voor die Luiperdman staan.

“Swart Luiperd, ek het ’n voorgevoel dat ek dit nie lank sal maak nie. Jy het my van die wilde honde gered, maar jy kan my nie red van die dood wat ek weet my enige uur van nou af sal agterhaal nie. As jy die geheim nooit aan iemand wil toevertrou voor jou dood nie, is dit ook goed. Maar nou moet ek dit aan jou meedeel. Dit is die heilige eed wat ek as priester afgelê het, en my gees sal ná die dood nie kan verhuis na die Land van die Son nie, as ek nie aan jou openbaar waar die skat begrawe lê nie.”

Hy kyk smekend op na die swart masker. Die Luiperdman kry die ou man innig jammer. Hy sien dat hy bewe en dat groot trane langs sy wange afdruppel.

“Goed, Daka. Jy kan maar die geheim van die grafte aan my bekend maak. Ek sal aandagtig luister.”

Die Oekapi skud sy hoof.

“Jy kan nie net luister nie, Swart Luiperd. Jy moet saam met my na die heilige plek gaan, sodat jy met jou eie oë die skatte van die Inkas kan aanskou.”

Agter sy masker byt die Swart Luiperd sy lippe ferm opmekaar. Hy het so iets verwag en hy weet dat die priester hom vannag geen rus sal gun as hy nie eers uitvoer wat so swaar deur tradisie op sy hart rus nie.

“Goed, Daka. Wanneer moet ons gaan?”

“Nou, Swart Luiperd!” roep die priester bly soos ’n kind uit en hy vryf sy hande teen mekaar. “Die heilige grafte is nie baie ver nie. Ons sal daar wees met die eerste strale van die son.”

Die Swart Luiperd stap dadelik na sy swart perd toe. Donker runnik bly en waai ’n paar muskiete van sy kruis af weg. Spikkels en Simson merk dat die Luiperdman ander dinge in sy kop het, en hulle rek hulle lank uit en stap grommend na hulle tweebeenmaat by sy perd. Anderkant die stroompie bly Daka ineengedoke maar verheug staan. Hy voel dat sy kragte hom verlaat, dat hy dit nie meer lank sal hou nie. Die Swart Luiperd weet nie van die klein pyltjie wat daar met sonsondergang vanaand skielik uit die bosse agter hom gesing en in sy skouer kom vassteek het nie. Dit was ’n pyltjie wat een van die Jivaro’s met sy blaasgeweer afgeskiet het. En Daka het geweet dat daardie pyltjie sterk gif aan sy punt bevat. En al het hy die pyltjie dadelik uitgetrek, weet hy dat daar genoeg gif in sy bloed opgeneem is om hom mettertyd dood te maak. Hy kan elke oomblik voel hoe sy liggaamskragte afneem.

Hy is egter nou verheug, en toe die Swart Luiperd in die saal swaai spring hy oor die waterstroompie en hardloop strompelend in die wildspaadjie af, op pad na die graftes toe.

Die Luiperdman gee sy perd spore en haal die Oekapi gou in. Die twee gespikkelde katte spring met lang hale agterna en uiter kort gromgeluidjies om die jaguars wat dalk in die skaduwees op loer lê, te laat weet dat hulle ook slagtande het.

Toe die Luiperdman se perd vlak by Daka is, struikel die Oekapi en val teen die grond neer. Die Swart Luiperd is dadelik uit die saal en toe hy die priester optel, merk hy weer dat sy hele liggaam bewe. Daar kom nou skuim by sy mond uit.

Haastig tel Leon hom voor op die saal, klim self weer op en gee die perd spore.

“Daka, in watter rigting moet ek ry? Ons kan gou daar wees.”

Die perd skeur deur die bosse.

“Ry reg in die rigting waar die môrester opkom, Swart Luiperd, reg in hierdie wildspaadjie af. By die groot waterval draai jy suidwaarts na die groot bome aan die voet van die berge.”

Die Swart Luiperd buk laag op die rug van sy perd, en die dier sny deur die bosse.

“Wie het jou agtervolg, Daka?”

“Die Jivaro’s. Hulle het my met ’n gifpyl geskiet, maar ek het dit haastig uitgetrek, maar die gif sal nou-nou sy gang gaan. Ons moet egter eers by die heilige grafte aankom. Ry gou, Swart Luiperd!”

Vir ’n volle twee uur hou Donker vol.

Eindelik hoor hulle die gebulder van ’n waterval. Die Luiperdman hou die perd effens in, want Donker se keel begin fluit. Hy besef dat hy die dier ’n bietjie gemoor het, en bring hom tot stilstand. Dan klim hy af en stap langs die dier.

’n Paar minute later sien hy die waterval tussen die bome deur. Voor hom in die skemerte agter die bome waarvan die blare reeds groen vertoon, troon massiewe rotsstukke die lug in. Die bosse is hier yler. In die ooste het die strale van die son wat nog agter die horison is, ’n paar vlieswolkies rooi gekleur.

Daka begin roer op die rug van die perd. Hy het met sy kop vooroor op sy bors aan die geslaap geraak. Nou voel hy swak en koorsig.

“Hier is die waterval, Swart Luiperd. Laat ek by die bulderende waters afklim. Ek sal jou na die heilige plek beduie, want ek sal dit nie meer lank maak nie.”

Op die wal bring die Luiperdman vir Donker tot stilstand. Hy help die Oekapi af, maar die priester kan nie meer staan nie. Hy vou inmekaar. Die eerste strale van die son streel oor die jagende waters en beskyn die vaal-geel gelaat van die verrimpelde sonpriester.

Daka sukkel op sy knieë. Met sy gesig na die son, mompel hy prewelwoorde, onverstaanbare woorde vir die Luiperdman. Leon weet egter dat hy hom gewend het na Inti, die groot vors van lig wat die Inka-afstammelinge vir eeue reeds beskou as die bron van lewe en van dood, die bron en krag van die voor- en nasate en die krag wat beskik oor die koms van die dag en die nag.

Daka probeer dan opstaan, maar kry dit nie reg nie. Hy bly dus op sy knieë en draai sy kop na die suide. Die hoë berge skiet agter die groen toppe van die bosse uit en die son skyn reeds mildelik op die hoogste pieke.

Daka wys met sy vinger na die berg en hy mompel iets oor die wit vlek wat daar hoog bo-op die kranse uitslaan. Vir myle ver troon regaf rotse, maar net op daardie een plek is daar ’n wit vlek, veroorsaak deur ’n swerm voëls wat jaar na jaar hulle kleintjies daar uitbroei.

“Onder die wit kol sal jy die reuse-boom kry. Die stam is deur die weerlig getref en hy is binnekant swart en hol, maar sy toppe bevat nog groen blare. Dit is die bewaker van die groot geheim. Ek sal nie meer tot daar saam met jou kan loop nie. Maar in die hol boomstam gaan die tonnel af na die skatte onderkant die berg. Kruip in die rigting van die … van die water.”

Daka snik en sy oë keer om. Die waterval bulder oorverdowend.

Donker runnik skielik en Simson en Spikkels gee ’n waarskuwende gegrom. Die Luiperdman kyk vinnig op.

Tussen die bosse deur, uit die rigting van die waterval, kruip ses byna naakte figure. Soos roofdiere kom hulle nader. Daar is iets snaaks in hulle houdings. Elkeen het ’n knuppel met ysterpenne aan die een end in die hande.

Een druk die blare twintig treë van die Luiperdman af weg … en die Swart Luiperd kyk vas in die gesig van ’n grynsende duiwel.

Leon spring vinnig op, en die volgende oomblik is sy pyl en boog in sy hande. Hy is gereed om te skiet, maar daardie gestalte met die gesig van ’n demoon beweeg nie. Hy kyk net stip na Daka op die grond. Agter hom kom die ander vyf sluipend nader.

  1. Sien Gees uit die Vuur. [terug]