GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk/bhlcvc-garingbome-en-turksvye-5.html

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Garingbome en Turksvye

— V —

DIE STASIE EN SY SPORE

Aan die onderpunt van Kerkstraat staan die mooi, ou, klipstasiegebou. Dis reeds daar wanneer die Anglo-Boereoorlog verwoestend deur die land trek. Van vroeg reeds ’n deel van die dorp en distrik se bedrywighede. Vir meer as ’n eeu is die stasie die spil waarom die ekonomie en alledaagse lewe van die hele omgewing draai.

Die spoor verskaf vervoer aan mens, dier en goedere. Die spoor verskaf werk, bring besigheid, bedien die boere en besighede en beïnvloed die welvaart en vooruitgang van die dorp.

In die jagtyd word bokke ingelaai na vriende en familie. Dagoud kuikens word afgelaai saam met die winkels se voorrade. Agter by die vandisiekraal se kant word beeste, skape, bokke, varke en perde op- en afgelaai. Skeertyd is daar dikwels nie genoeg trokke om die wolbale na die markte in Port Elizabeth en Oos-Londen te vervoer nie.

Oom Peet Prinsloo ry heen en weer om almal se pakkies en bestellings op en af te laai. Plaaslike vervoer is grootliks oom Peet se werk.

Uit die koeler, met die water wat dag en nag loop om dit daar binne koud te hou, word die room- en melkkanne opgelaai. Die botter- en kaasfabriek in Queenstown stuur weer die leë kanne terug, waar hulle in die stoortjie aan die ander kant van die hoofgebou wag om afgehaal te word.

Op Bravo word daar handig van die trein gebruik gemaak wat so na aan die huis verbygaan. Wanneer die trein die lang opdraend van Teebus af opstoom, word die vol roomkan se bloukaartjie aangesit. Perskes uit die groot boord word gepluk. Teen die spoor hou Tot die kan omhoog as die trein verby stoom. Tien tree verder hou Jacob die sak met perskes omhoog, sodat die kondukteur dit kan aanvat as geskenk vir die guns bewys. So kom die room gouer op die trein en by Bowkers Park uit.

Dit gebeur ook dat die trein die natuur ten goede beïnvloed. Die trein gaan langs die huis en die boord verby, deur die populierbos en dan met ’n wye draai die laaste opdraand uit en oor die bult. Snags gaan hy met ’n gestoom en geblaas verby en stoot sy warm, lewegewende asem uit oor die boord en groentetuin. Siedaar, dis oom Gert, die tuinier van die distrik, se geheim. Baie min rypskade. ’n Uur of twee later stoom die trein aan die oostekant oor Kromhoogte en Dean Keefe ondervind dat sy werf by die spoor ’n paar grade warmer is as wat dit sou wees.

Helaas is die trein ook nie altyd ’n seën nie. Wintertyd is die lang gras droog langs die spoor en die westewind hou daarvan om lekker te waai. Twaalfuur as die stoker die vuur goed stook om teen die lang bult uit te kom, spoeg die trein klein koletjies tussen die droë gras in. Gereeld elke dag patrolleer Van Wyk die spoor tussen Grootvlei en die Bulhoek-uitdraai. Vinnig word bure opgekommandeer om te help vuurslaan as die wind die koletjies lug gee. As dit handuitruk spring niemand vry nie, al is jou plaas nie so naby die spoor nie.

Die kinders groei ook saam met die spoor op. Hulle leer om vir die groot, swart, blasende, bulderende gevaarte respek te hê. Hulle is egter nie daarvoor bang nie. Bravo se kinders trap graag die handvatsel van die ghriespot agter die huis. Dan skree hulle saans soos maer varke as die ghries uit die hare en van die velle geskrop word. Maar as die trein môre van onderaf kom, klim hulle weer teen die spoordraad op en hang soos lappe aan die draad om vir die mense op die trein te waai.

‘Moleni!’ klink die vrolike groet dan wedersyds op.

Wanneer die trein afdraand kom, hoor hulle dit nie altyd nie. Maar die treindrywer weet van hulle. Hy is reg om te lag en hulle te sien draf. Wanneer hy deur die populierbos kom laat hy skielik die stoom afblaas. Dit laat die trein sidder en blaas! Die kinders spat in alle rigtings om amper hulle nekke te breek as hulle deur die draad haas. Met ’n groot glimlag waai hy vir my as hy verbykom.

· · ·

Die trein word ’n alledaagsheid wat selfs nie meer gehoor word as dit by die plaashuis verby raas nie. Mammie wat op die stoep sit en wag om vir Marietjie te waai as sy verby ry universiteit toe, vra vir ai Emily wanneer die trein dan kom.

‘Miesies, maar die trein is dan al lankal verby!’

Wanneer Marietjie van die universiteit kom, stoot Pappie nie die bakkie in as dit donker word nie. Omtrent elfuur word die trein se gerommel duidelik hoorbaar. Dan ry die bakkie stasie toe. Wanneer Pappie met Marietjie voor die agterdeur stilhou, sit daar ’n ry wilde katte om haar te verwelkom. Die kombinasie van die bakkie wat ry wanneer die trein so laat verbykom, is die teken dat Marietjie in aantog is.

In die dorp moet die skoolkinders oor die spoor loop om by die atletiek- of voetbaloefening uit te kom. Die ouer dogters begelei die kleintjies oor die spoor, maar die ouer seuns vat dikwels kanse. ’n Sent of vyfsentstuk word op die spoor neergesit. As hulle terugkom lê die geldstukkie mooi blink uitgestryk daar.

Oom Doep van die stasie se seun kry ’n fiets wat hy self moet versorg. Op ’n dag word daar weer saam met maats op die stasie draaie gegooi. Gelukkig is dit net die fiets se voorwiel wat onder die treinwiele beland. Na veel gesoek en gesukkel word ’n wiel gevind en aangesit. Oom Van Biljon met die lang wit baard en krom bene is alte nuuskierig.

‘Boeta, hoekom is die voorwiel dan nou kleiner? Ry dit nie ongemaklik nie?’

‘Nee wat, Oom,’ kom die slim antwoord, ‘ek ry nou altyd afdraand!’

Die onbewaakte spooroorgang by die begraafplaas veroorsaak menige noue ontkomings vir haastige waaghalse. Gelukkig word die fluit se gorrel goed oopgetrek as die trein die stasie uitstoom na Stormberg.

Gedurende die eerste maande in Steynsburg knaag die verlange huis toe maar baie. Neef Tienie op Dordrecht kom my op Stormbergstasie afhaal vir ’n heerlike kuier op die plaas. Vader besoek sy suster by die Kubusierivier en ek haal die trein na Stutterheim om die familie te sien. So avontuurlik en gerieflik, omdat ’n motor nie bekostigbaar is nie. Op die spoor Kaap toe is die vier uur lange oorsit op De Aar egter nie so lekker nie. Voor op die spoorbaan brand die Kaapse liggies darem en jy hou uit!

Op Steynsburg se stasie hou die trein egter so stil dat die eersteklas passasiers in die veld moet afklim of tot groter ergernis en benoudheid by die begraafplaas moet opklim! Gekla is daar gekla, maar blykbaar kon daar niks aan gedoen word nie.

Die trein en die stasie en sy spore is onontbeerlik vir die bestaan van die dorp en ook sy vooruitgang. Snags as die trein fluit draai die inwoners van die dorp tevrede om in hulle beddens. Alles is soos dit moet wees.

Hoe haastiger die lewe word hoe vinniger word die vervoermiddels en die trein te stadig. Die lewe word aangepas om die pas nog meer te versnel. Stoomtreine word met diesel vervang en dan met elektrisiteit en dan word die trein as outyds opsygeskuif.

Teen die end word Bravo en die stasie vertrap deur stoomtrein-entoesiaste. Sondae ry hulle by Bravo in tot by die sloot. Dan gaan hulle spring-spring teen die bult op. Pragtig kom die blinkswart lokomotief met ’n wye draai teen die bult uit. Eers gee hy ’n vrolike fluit en blaas dan groot wit wolke teen die vaal rante en blou karoolug uit. Holderstebolder gaan die fotograwe dan weer teen die bult af en jaag dorp toe om die triomfantelike aankoms op die stasie met ’n foto te verewig.

Ja, die stasie en sy spore het ’n groot invloed op die wel en wee van die dorp en sy mense. Met die stoomtrein wat nog vir oulaas sy laaanggerekte klaagfluit oor die dorp stuur word meer as ’n eeu se vooruitgang in trurat gesit.

Nou staan die trotse garingboom gevaarlik skeefgesak daar. Sal daar ooit weer ’n nuwe somer met ’n sterk regop boom wees wat sy heldergeel liggies oor die dorp sal laat skyn?