GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk.php?teks=zgfrwr

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Diamantsmokkelaars

— Hoofstuk 1 —

Daar loop ’n ondertoon van rustelose woede deur die stofstrate van Kimberley. Al ’n paar weke lank word vreemdelinge met agterdog begroet en selfs voorheen hegte vriendskappe is hier en daar in hewige rusies opgebreek. In die kroeë word luidkeels geredekawel en bespiegel, en beskuldigings gemaak wat heftig aangeveg word. Humeure is tot breekpunt gespan.

Vanoggend word in die eetsaal van die Halfway House, halfpad tussen die myn en Dutoitspan, die soveelste vergadering van ’n nuutgestigte en geheel onwettige delwerskomitee gehou. Die voorsitter, ’n reus van ’n man met die naam Maans Gerber, het al lankal opgehou om orde te probeer handhaaf en al wat hy nou nog kan doen is om bo die ander uit te skree.

‘Dit help nie ons sit hier op ons agterente en praat net nie, as ons die vuilgoed wil bykom moet ons daadwerklik optree,’ roep hy en slaan met sy vuis op die tafel om krag by sy woorde te sit. ‘Nou, verdomp!’

Dit vind byval en een vir een bly die komiteelede stil en kyk vir hom. Op ’n rustiger toon gaan Maans voort.

‘Ons het nou al hoeveel verdagtes pure verniet op die wiel gehad en tot die een wat ons opgehang het wou nie praat nie. Wat sê dit vir ons?’

‘Dat hulle onskuldig was?’ doen iemand agter in die saal aan die hand, en Maans gee hom ’n skuins kyk.

‘Moenie onsin praat nie.’ Dan gee hy toe, ‘Miskien nie skuldig nou nie, maar wys my een wat nie al geprobeer het nie.’

Daar word instemmend gemompel. Die manne wat hier is het almal kleims en hulle weet hoe moeilik dit is om te keer dat die pap, so te sê, tussen die lepel en die mond op die grond beland. As die delwer nie gedurig dophou nie, sal selfs die getrouste werker ’n blink klippie of twee voor sy oê wegmoffel en op die swartmark verkwansel vir ’n fraksie van wat dit werd is.

‘Wat stel jy voor?’ word die vraag nou gestel.

Maans bly ’n oomblik stil, dan sê hy, ‘Ons weet ons het hier te doen met meer as die gewone tussen-ons diefstal waarvoor ons almal kans sien. Dit is nou ’n georganiseerde stelery wat aan die gang is en dit help dus nie ons vat die gewone ouens vas nie. Ons moet verder kyk. Ons moet kyk na elke vreemdeling — ’

‘Hoe wil jy dit doen?’ val een hom in die rede. ‘Met die laaste telling was hier agtienduisend mense en daar kom steeds by, hoe gaan ons almal dophou?’

‘Ja, ek ken nie ’n aks van die mense hier nie,’ stem ’n ander saam. ‘Almal kom en gaan nes hulle wil.’

‘Die soort vreemdelinge wat ek bedoel,’ verduidelik Maans, ‘is dié wat nie hier hoort nie. Mens ken mos ’n delwer en jy ken ’n smous en mens kan ook mos onmiddellik dié eien wat op onwettige koop uit is. Dis die mense wat anders is, maak nie saak hoe nie, enigiemand wat verdag lyk — ag, mens kan mos sommer sien as iemand nie hier hoort nie,’ maak hy klaar.

‘Enigeen wat nie ’n stink stofwolk afgee waar hy loop nie,’ maak iemand ’n grap en dit verlig die sombere atmosfeer. Toe almal klaar gelag het, sê Maans, ‘Nou goed dan. Ons hou almal ons oë en ore oop en laat my onmiddellik weet as daar iets voorval, maak nie saak hoe onbenullig dit dalk lyk nie. Akkoord?’

‘Akkoord!’ antwoord die komiteelede.

‘Kom ons gaan soek ’n bier,’ stel Maans voor en stap uit na die kroeg toe.

 · · ·

’n Entjie van die Halfway House af groei ’n paar manshoogte struike wat tot dusver die aanslag op brandhout ontkom het, miskien uitgespaar omdat dit skuilte bied aan dié wat geen ander heenkome het nie en wat dit, dikwels met geweld, teen houtsoekers verdedig. Die naam Skietbos wat daaraan gegee is, is dan ook nie onverdiend nie. Vandag, so op die middaghitte, is dit egter rustig en behalwe vir ’n enkele ruiter half-weggesteek tussen die stowwerige lower is daar niemand te sien nie. Die perd staan stil, behalwe vir die stert wat swiep-swiep die vlieë wegslaan, en sy kop hang met oë wat toe is van gerustheid, want hulle staan al ’n hele lang ruk daar sonder dat iets hom verskrik.

Die ruiter sit ook bewegingloos, maar allesbehalwe aan die slaap. Sy skerp oë is gerig op die gebou langs die pad en veral op die perde wat vasgemaak staan aan die teuelpale skuins by die voordeur. Hy ken die diere en hy het geen begeerte om hom in hul eienaars vas te loop nie, nie met die sakkie wat hy onder sy hemp weggesteek het nie. Kelvin Warren weet maar alte goed dat die delwers hulself die reg toegeëien het om na willekeur mense te visenteer en dis iets wat hy nie nou kan bekostig nie, want dan hang hulle hom sonder proses aan die naaste dakbalk op. Aan wet en orde steur hulle hul deesdae nie meer nie.

Tog moet hy die sakkie met sy blink inhoud aflewer, en gou ook. Maar hoe? Die vergadering van die delwers is op die laaste oomblik verskuif na die Halfway House toe en daar was blykbaar nie tyd om die baas daarvan in kennis te stel nie. Dis eers toe hy hier aangekom het dat hy die perde gesien en van hulle herken het, gelukkig ook maar, want toe kon hy homself vinnig skaars maak. Maans Gerber hou hom al lankal dop en sou dankbaar van die geleentheid gebruik gemaak het om hom te deursoek, met rampsalige gevolge.

Maar die tyd stap aan en die man wat die klippies in ontvangs moet neem gaan nie meer lank wag nie, want ook vir hom is dit lewensgevaarlik. Nog vyf minute wag Kelvin, toe klim hy van sy perd en begin koers kry na die gebou se kant toe. Eers is daar nog dekking van die struike, maar al gou is hy op die oop pad en moet maar hoop dat niemand in sy rigting kyk nie. Hardloop durf hy nie, want dit sal onmiddellik agterdog wek, dus probeer hy so ongeërgd moontlik stap tot hy uiteindelik na wat vir hom soos ’n ewigheid voel, by die voordeur uitkom. Vinnig glip hy in en hoor eenkant in die kroeg die rumoer van die delwers wat die dors afspoel met groot glase bier. Met die sakkie wat behoorlik brand hier teen sy bors sluip Kelvin by die gang af, maar net toe hy halfpad is na die kamer waar hy dit moet oorhandig, kom ’n reus van ’n man by die kroeg uit en sien hom raak.

‘Warren!’ bulder hy. ‘Staan stil, ek wil met jou praat!’

Maar Kelvin wag nie. Soos seep glip hy by die kombuisdeur in en uit na buite, sodat die ander hom ’n oomblik uit die oog verloor. Die ry perde staan nog daar en ’n oomblik oorweeg Kelvin dit om een te vat en weg te vlug, maar hy besef dat hy nie ver sal kom nie. Nee, hy moet ontslae raak van die diamante sodat Gerber hom kan deursoek, want as hy niks kry nie moet hy hom laat gaan. Hy kyk om, maar sien nog nie sy agtervolger nie. Voor hom staan ’n onbekende perd met saalsakke en Kelvin talm nie langer nie.

Toe Gerber hom uitasem inhaal daar waar hy doodluiters wegstap na sy eie perd toe, sê hy ewe vriendelik, ‘Goeiendag, meneer Gerber. Warm né?’

‘Staan stil,’ hyg Gerber. ‘Laat ek sien wat jy by jou het.’

Kelvin gaan staan en lig gedienstig sy arms op.

‘Ek weet nie wat jy soek nie, meneer Gerber, maar ek verseker jou ek het niks verkeerds gedoen nie.’

 · · ·

Lang Henning suig met welbehae sy bier deur die laag skuim wat dit bedek terwyl Boet met lang slukke ’n botteltjie koeldrank leegdrink.

‘Nog een?’ vra Henning en Boet knik sy kop.

‘Ek dink nie ek sal ooit genoeg kan drink nie,’ sê hy. ‘Soe, maar mens raak dors!’

Die twee het kort tevore op Kimberley aangekom en op Henning se voorstel by die Halfway House gaan afkoel en dan sommer daar te eet ook. Slaapplek sal hulle wel later vind, al is dit ’n kamp in die veld. Omdat die geraas uit die kroeg daarop gedui het dat daar een of ander feestelikheid aan die gang was, het Henning na ’n klein sitkamertjie gegaan waar die gordyne toegetrek was teen die hitte en die halfduister ’n koel indruk geskep het, koeler in elk geval as die helder lig daarbuite. In die gang hoor hulle vinnige voetstappe en ’n harde stem wat iets roep, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Kimberley is nie ’n plek waar jy sommer inmeng met ander mense se rusies nie.

‘Wat maak ons eintlik hier?’ wil Boet weet toe die ergste dors gelaaf is. ‘Gaan jy nou vir my sê?’

Henning drink die laaste van sy bier.

‘Ek wou nie eintlik nie, want dalk is dit net ’n storie, maar nou ja, dis beter as jy weet. So ’n tydjie terug het ek met iemand gepraat wat gesê het hy het hier in Kimberley ’n man gesien met so ’n mooi geweer. Ongelukkig het hy nie geweet wat sy naam is nie, maar ek het hom die geweer laat beskryf en dit voel vir my alteveel asof dit jou pa s’n kan wees. Daar kan nie baie van hulle wees nie, toe reken ek ons moet gaan kyk. Sal jy weet of dit jou pa s’n is as jy dit sien?’

‘O ja,’ sê Boet opgewonde, ‘sy voorletters is daarop uitgekerf, ek weet presies waar want hy het dit eendag self vir my gewys. Dink jy regtig dit kan hy wees?’

‘Ek het gedink ons gaan kyk,’ herhaal Henning. ‘Ook nie te sê ons sal die man vind nie, dalk is hy alweer vort, maar ek weet in elk geval hoe hy lyk.’

Op daardie oomblik bars ’n klomp mans die kamer binne en bly verbaas staan toe hulle Henning sien.

‘My aarde, as dit nie Lang Henning is nie!’ roep Maans Gerber uit. Hy staan nader en gryp Henning se hand om dit lank en deeglik te skud. ‘Waar val jy uit, man?’

Henning lag en groet terwyl Maans hom voorstel aan dié wat hom nie ken nie.

‘’n Groot bokser,’ prys hy hom aan, ‘en ’n groot vriend!’

‘Nou ja, dan hoef ons seker nie hier te verneem nie,’ sê een van die ander.

‘Beslis nie, ek staan in vir Lange,’ verseker Maans hom.

‘Wat verneem?’ vra Henning nuuskierig. ‘Wat gaan aan dat julle so op ’n klomp hier staan?’

‘Ag man, dis ’n ewige ergernis met die smokkelaars,’ grom Maans. ‘Ons is warm op die spoor van een van hulle, ons het ’n sakkie vol in sy saalsak gekry. Die ou het natuurlik gevlug, maar een of ander tyd sal hy wel sy perd kom haal en dan het ons hom. So ’n mooi perd los mens nie sommer nie, so ’n groot gele.’

Boet word bleek.

‘’n Geelperd?’ praat hy vir eerste keer.

‘Ja,’ antwoord Maans, ‘staan daar eenkant, saam met ’n bruine.’

‘Maar dis Duncan,’ sê Boet hees.

‘Wat? Ken jy hom dan?’ wil Maans weet.

‘Die geelperd is Boet s’n,’ verduidelik Henning, ‘maar as julle diamante in sy saalsak gevind het moet daar groot fout wees.’

Die gemoedelikheid van vaneffe verdwyn soos mis voor die son en die delwers staan dreigend nader.

‘Ek sou dink daar moet fout wees,’ sê een. ‘Hang hom op!’

Henning spring op toe hulle aan Boet se arms begin pluk.

‘Wag nou, mense!’ probeer hy hulle kalmeer. ‘Daar is ’n misverstand. Ons het nou net eers hier aangekom en ons weet niks van diamante af nie.’

Dis egter duidelik dat die mans hom nie glo nie en dis net Henning se reputasie en Boet se hond wat grommend sy tande wys wat hulle keer om Boet te gryp.

‘Maans,’ doen Henning ’n beroep op sy ou vriend, ‘as jy dan moet, sluit hom in die tronk toe, maar gee my kans om agter die waarheid te kom. Keer hierdie heethoofde, jy kan mos nie sommer begin ophang nie!’