GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk.php?teks=udvqka

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Moordplaas

— Hoofstuk 1 —

Vyf jaar later.

Vir die tweede keer slaan Lang Henning teen die grond en hierdie keer bly lê hy maar. Sy kop duisel van die vuishou en hy begin wonder of hy dalk sy moses teëgekom het. Met moeite dwing hy een ooglid oop en sien vaagweg sy teenstander soos ’n boom in stormwind bokant hom heen en weer wieg. Die versoeking om bes te gee is groot. Daar is ’n dowwe gedreun wat oor hom vou en ’n salige duisternis wink na vergetelheid sonder pyn. Dan verander die dreuning in stemme, hy hoor sy naam.

‘Demmit, Henning man, staan op!’

Moet hy? Amper werktuiglik beur hy homself op tot hy weer op sy voete is en skud sy kop om die newels te verdryf. ’n Gebalde vuis mik-mik na sy gesig en hy ontduik dit ternouernood. Hy loer uit die oog wat nog nie heel toegeswel is nie. Sy opponent is by hom, maar lyk nie veel beter as wat hyself voel nie. Uit ’n sny bokant sy oogbank sypel ’n gestadige stroompie bloed en sy lippe staan tuit soos twee lelle rou vleis. Ook sy neus bloei en maak ’n skewe indruk, asof iets daarbinne gebreek is.

Lang Henning snuif en haal uit. Hy kreun van die pyn toe sy gekneusde kneukels die ou vol op die kakebeen tref, maar kyk dan tevrede hoe sy oë in hul kaste omdop en hy stadig neersyg op die uitgetrapte sand van die strydperk.

Sy ondersteuners is om hom, luidrugtig van oplugting.

‘Jy’t ons bekommerd gehad, jong,’ sê Maans Gerber. ‘Ek dog hierdie keer is jou twak nat!’

Lang Henning se kop voel soos ’n vrot pampoen, maar hy slaag daarin om dit te skud en sak dan moeisaam op die stoel neer wat iemand aangedra het. ’n Nat lap bring koelte en verligting aan sy seer gesig en hy drink gretig van ’n beker skuimende bier wat hom voorgehou word.

‘Moenie dat hulle verkas met die prysgeld nie,’ waarsku hy vir Maans. ‘Hulle is kapabel en verneuk ons nog verder. Daardie ou is ’n beroepsbokser of ek wil my naam nie hê nie.’

Maans knik. ‘Ek het ook so gedink.’ Dan lag hy. ‘Maar dit het hulle nie gehelp nie. Jy het die swernoot goed op sy herrie gegee!’

Orals om hulle word weddenskappe uitbetaal en Maans gaan haal die wennersbeurs by ’n man wat dit baie teësinnig aan hom oorhandig. Lang Henning kan nog net sy oog lank genoeg oophou om seker te maak dis veilig, toe swel die laaste bietjie sig weg. Hy grinnik.

Daar is meer as een manier om jou geld te verdien hier op die diekens van Kimberley!

· · ·

Tientalle pare oë kyk begerig hoe die swaar twaksak van eienaar verwissel, maar nie een meer intens as dié van ’n hawelose seun wat op sy eie effe eenkant staan nie. Na ’n ruk draai hy om en stap stadig weg. In sy kop maal sy gedagtes soos warrelwinde op ’n droë stofpad. Hy wil daardie geld hê, maar meer nog, hy wil die man self bykom! Nou is die beste tyd, terwyl hy saf geslaan is en nie uit sy oë kan sien nie.

Op ’n veilige afstand volg hy toe die bokser weggelei en na ’n losieshuis gebring word deur sy makkers. Hy wag, ’n kwartier, ’n halfuur, toe kom die ander mans uit en slaan rigting in straat-af. Dis amper donker, en daar is min mense wat nou rondbeweeg.

Die seun kyk rond, toe sluip hy vinnig om die losieshuis. Die reuk van kos beduie hom waar die kombuis is, maar hoewel sy maag saamtrek van honger, beweeg hy na die vensters wat uitkyk op die agterplaas. Een van hulle moet die lang man se kamer wees.

By die derde een is hy gelukkig. Die skuifraam is op en terwyl dit donker is binne, verraai ’n sagte gesnork dat daar iemand op die bed lê. Dit moet net hy wees!

Behendig klim hy deur die venster en voordat die man op die bed weet wat hom tref, sit die seun bo-op hom en woel sy arms vas met ’n stuk growwe tou.

‘Wat de – !’ wil Lang Henning verstom weet.

‘Bly stil!’ grom die seun. ‘Nou gaan jy betaal, jou vreksel!’

Henning sukkel met sy geswelde ooglede wat uiteindelik ’n skrefie skemerte deurlaat. Hy probeer die gesig van sy aanvaller herken. Dis ’n jong seun, sover hy kan uitmaak, met fynbesnede blas gelaatstrekke, skitterende wit tande tussen half-oop lippe en donker oë wat hom stip dophou. ’n Digte bos pikswart hare krul onbeheers tot op stewige skouers. Hy is seker hy het hom nog nooit tevore gesien nie.

‘Betaal wat?’ vra hy en kreun toe die seun moedswillig begin wip op sy seer borskas. ‘Klim af van my af!’

‘Ha, nou’s jy nie grootmeneer nie, nè?’ tart sy aanvaller en gaan sit nog swaarder.

‘Eina! Luister Boet, wat dit ook al is wat jy wil hê, vat dit! Ek sal jou nie keer nie, los net my arme ribbes uit.’

Die swart oë kyk hom aan met al die geneentheid van ’n spoegslang. Met ’n bitterheid baie ouer as sy jare, sê die seun, ‘Ek wil jou dood hê, dood soos my ma-hulle, verstaan jy?’

Lang Henning skud sy kop heen en weer op die kussing.

‘Nie die vaagste benul nie. Wie is jy? Wat het jou ma met my te doen?’

‘Kan jy sien?’ vra die seun.

‘Nie juis nie, maar darem.’

‘Kyk na my! Ek weet ek is die ewebeeld van my pa – die man wat jy vermoor het! Dalk sien jy dan!’

Henning tuur na die gesig wat ewe gedienstig heen en weer gedraai word, en ’n herinnering kom deur die mis van jare se verloop na bowe.

‘Delport! Jy’s ’n kind van Hannes Delport?’

Die seun knik, sy lippe styf op mekaar om te keer dat hulle bewe. Henning sien dit nie en delf dieper in sy geheue.

‘Daar was een wat nie daar was nie,’ sê hy half vir homself. ‘Ek onthou nou. Daar moes drie wees, maar ek kon net twee kry.’ Hy fokus op die seun. ‘Die oudste – Maar dit was ’n dogter. Name soos jou pa s’n.’

Die seun skud sy kop en sy stem breek toe hy sê, ‘’n Seun. Jakobus Johannes. Ek.’

Henning rek sy bene en krimp inmekaar toe hy sy lang lyf onder die seun probeer uitkry. Hy wonder hoeveel van sy ribbes nog heel is en lê liewer stil.

‘Nou goed,’ sê hy, ‘aangename kennis. Jy weet blykbaar wie ek is, maar hoekom wil jy my doodsit?’

‘Jy het hulle vermoor.’

‘Ek?’ Henning kry skaars die woorde uit, so verbaas is hy. ‘Waar kom jy daaraan?’

‘Ek het jou gesien,’ sis die seun. ‘Ek was in die huis en ek het jou gesien!’

Henning bly ’n oomblik stil, toe sê hy so redelik moontlik, ‘Kyk Boet, jy het iets gesien wat jy miskien nie verstaan het nie. Klim nou van my af en maak lig dat ons soos twee grootmense die ding kan uitpraat sonder dat die een die ander dood versmoor.’

Die seun aarsel, lig homself dan tog half op sodat Henning kan asem skep. ‘Sê jy jy’t dit nie gedoen nie?’

‘Gaan steek eers die kers op.’

Jakobus Johannes Delport klim stadig van Henning se gepynigde lyf af en gaan kry die blaker met die kers wat op ’n laaikas staan. Terwyl hy die kers opsteek, sê hy, ‘Ek het jou gesien. Jy het die Bybel gesteel en seker die geld ook want dit was weg.’

Hy sit die kers op die bedkassie en plak hom neer op ’n stoel langs die bed.

‘Gaan jy my hande losmaak?’ vra Henning, maar die seun skud sy kop. ‘Vertel eers jou storie. Ek sal as ek jou glo.’

‘Nou goed, hier is wat gebeur het. Ek het aangery gekom na jou pa se plaas en toe hoor ek skote. Ek was naby genoeg om self ’n paar sarsies in te kry en die skurke het gevlug, seker nie geweet hoeveel mense op hulle afkom nie. Ek het hulle nie gesien nie, net die stof soos hulle ry. Toe ek op die werf kom, lê jou pa daar. Hy was klaar dood en jou ma en die ander ook. Dis die reine waarheid. Ek is jammer ek kon hulle nie help nie.’

‘Jy’t die Bybel gevat!’ beskuldig die seun.

‘Ek moes weet hoeveel kinders daar was.’

‘Hoekom?’

‘Ek wou nie ’n lykie net daar in die veld laat lê nie,’ sê Henning ru. Vir ’n oomblik klem die seun sy lippe op mekaar, sê dan, ‘Maar daar was drie kinders in die Bybel ingeskryf, hoekom het jy my nie loop soek nie?’

‘Om die waarheid te sê was jou pa se handskrif nie te waffers nie en ek het gedink die ander kind se naam was Jakoba Johanna. Ek het aanvaar die aanvallers was ’n bende Korannas en hulle roof mos maar dogters.’

‘En jy’t haar net daar gelos? ’n Arme meisiekind by ’n bende barbare?’

‘Wat verwag jy? Die spul kon enige oomblik terugkom en ek was stoksiel-alleen!’

‘Jy kon darem probeer het! Hemel, watse soort man is jy?’ Jong Delport spoeg vol veragting.

‘Maar daar was nie ’n meisiekind nie! Jy sê self dit was jy!’

‘Dit het jy nie geweet nie! Jy’s ’n lafaard en ek glo in elk geval nie ’n woord van jou storie nie. Jy’t my pa se geweer ook gesteel,’ onthou hy skielik.

‘Moes ek dit laat rondlê sodat hulle dit later kon buitmaak? Gebruik jou verstand, ek het gedoen wat ek kon.’

Skielik vertrek die seun se gesig van ’n ou seer.

‘Jy’t hulle soos diere toegepak met klippe,’ sê hy sag. ‘Daar was nie eers graftes nie – ’

Henning se herinneringe kom pynlik terug.

‘Ek het nie geweet hoe om anders die asers te keer nie, die grond was hard en ek was haastig. Ek het mos nie geweet jy sou sien nie.’

‘Is seker so. Ek weet nie of ek jou moet glo of nie. Waar is die geld?’

‘Watse geld?’

‘My pa s’n. Hy het geld gehad, ek het hom baiemaal met my ma hoor praat daarvan, maar ek kon dit nêrens kry nie.’

‘Ek het dit nie. Ek het net die Bybel en die geweer na die magistraat op Beaufort gevat en hom vertel wat gebeur het. Hy het gesê hy sal probeer om jou te vind.’

‘Klink vir my maar bra soos ’n liegstorie. Niemand het my kom soek nie. Sou ook nie, ek’s net ’n Basterkind.’

‘Dis nie my skuld nie, ek is kort daarna weg uit die distrik. Hoe het jy my in elk geval opgespoor?’

‘Jy’s maklik genoeg te beskryf. Almal wat jou sien onthou jou. Ek volg jou al weke lank.’

‘Nou wat het jou laat besluit om juis nou toe te slaan?’

Die seun grinnik effens.

‘Jy was klaar lekker papgeslaan.’

‘Nie juis sportief nie, is jy?’

Die seun trek sy skouers op.

‘Ek is mos nog maar net ’n kind,’ sê hy eenvoudig.

‘Die hemele help ons as jy eendag ’n man is,’ lag Henning. Dan, sober, ‘Maar goed, hoe kan ek jou oortuig dit was nie ek wat jou mense geskiet het nie?’

Dis ’n oomblik stil, toe daag die seun, ‘Help my die regte moordenaars soek.’

Lang Henning se winkbroue verdwyn onder sy kuif.

‘Agge nee!’ protesteer hy.