Lang Henning en die Frackers

— Hoofstuk 5 —

Die protes-aksie in Nieu-Bethesda gaan soos ’n verwarde droom aan Henning verby. Hy dans saam met Zolandrie en die tientalle ander deur die strate en leer liedjies sing wat hy nog nooit gehoor het nie en gaan sit die aand ook by almal op die sypaadjies en juig die sprekers toe wat spesiaal vir die geleentheid na die dorpie gekom het.

Later die aand pak hulle ’n kroeg vol en sien op ’n glasskerm die dag se gebeure by die nuusberigte. Onder dawerende gelag en uitroepe van, ‘Daar’s jy!’ en ‘Kyk vir my!’ ken hy ook homself vlugtig uit waar hy en Zolandrie hand aan hand deur die skare beur om ’n goeie staanplek te kry. Vir ’n vlugtige oomblik dink hy aan Boet en wens hy kon dit vir hom wys, en voel spyt dat hy niks eers hiervan sal onthou om hom te vertel nie.

’n Klomp van hulle wat nie kon plek kry in een van die gastehuise nie, gaan kamp sommer ’n entjie buite die dorp in die veld. Die laaste waarvan Henning gewaar is op die kleurvolle dag, is Zolandrie se kop op sy skouer soos sy teenaan hom aan die slaap geraak het.

 · · ·

Die volgende oggend vroeg word van nuwe en ou vriende afskeid geneem en Zolandrie vra vir Henning waarheen hy nou gaan. Hy dink na.

‘Seker maar na Nuwerus,’ antwoord hy toe. ‘Weet jy waar dit is?’

Sy trek ‘n gesig.

‘Wie weet nie,’ sê sy. ‘Almal ken van daardie atoom-idiote. Wat wil jy daar gaan soek, het jy dan mense daar?’

‘Nie juis nie,’ antwoord Henning waarheidsgetrou. ‘Iemand het my net gevra om daar aan te gaan.’

‘O. Wel, ek sou nie as ek jy is nie, netnou begin jy glow in the dark. Is jy honger?’ verander sy die onderwerp voordat Henning kan uitvra oor haar laaste stelling. Skielik voel hy sy maag saamtrek van leegte en hy antwoord, ‘Ja, nogal. Kan ons hier iewers iets te ete kry?’

‘Hier in die dorp is ’n plek wat die heerlikste ontbyt maak,’ sê sy, ‘spek en eiers en wors en toast — ’

‘Skaapvleis?’ vra Henning hoopvol.

‘Ja, hulle sal seker vir jou ’n tjoppie of twee gaarmaak as jy vra,’ verseker Zolandrie hom. Hy is dankbaar dat sy nie die minste geskok lyk nie.

‘Wonderlik, kom ons gaan,’ raak hy haastig, maar onthou skielik van iets en staan botstil. ‘Ek het niks geld by my nie!’

Zolandrie kyk hom snaaks aan.

‘Hoe het jy dan hier gekom?’

Henning dink na en antwoord dan, ‘Ek het met iemand saamgery. Van Jozi af.’

‘Wat op aarde het jy daar gaan maak? Ek dog jy kom van Beaufort-Wes af,’ sê Zolandrie verward.

‘Ek weet nie,’ antwoord Henning en die meisie skud haar kop.

‘Lyk my jy’t ’n serious case van amnesia,’ stel sy vas. ‘Toemaar, ek het geld, ek sal betaal.’

‘Nee, wys my net die pad na Nuwerus, ek sal regkom,’ keer Henning, maar Zolandrie vat hom by die hand en trek hom saam dorp se kant toe. Hongerte laat Henning gewillig saamstap tot by ’n gebou met ’n lang stoep en die naam The Karoo Lamb.

Binne gaan sit hulle by ’n tafeltjie en Henning sit sy tas op een van die stoele neer.

‘Ek wil nou nie snaaks wees nie,’ sê Zolandrie, ‘maar wat het jy nou eintlik in daardie tas wat jy so religiously saamdra? Skoon sokkies en ’n onderbroek?’

Henning bloos oor haar uitgesprokenheid en ook omdat hy geen antwoord het nie.

‘Ek weet nie,’ sê hy.

Zolandrie rol haar oë.

‘Sal ons kyk?’ vra sy.

Henning tel die tas op die tafel en vroetel aan die vreemde slotte, maar kry dit nie oop nie.

‘Gee vir my,’ sê Zolandrie, en lig weldra die flap op. Nuuskierig kyk sy na die inhoud.

‘Hier onder is ’n hemp en verder net ’n klomp papiere,’ sê sy en haal ’n bondel uit wat aan mekaar vasgekram is. ‘Wat is dit?’

Henning bekyk die gekrap van simbole en syfers en skud sy kop.

‘Weet nie,’ sê hy, hoewel hy reken dis Meisie, nee, Maisie se cold fusion formule wat hy vir Alex Khumalo moet gaan gee.

‘Haai kyk, hier is ’n bankkaart,’ ontdek Zolandrie, ‘en die PIN-nommer is sommer op ’n papiertjie daarby. Weet jy nie jy moet dit nooit doen nie?’

Henning besef dat dit die kaart van Maisie se spaarrekening is en antwoord nie op Zolandrie se beskuldigende stemtoon nie. In plaas daarvan sê hy, ‘Is hier ’n plek waar ek kan geld kry?’

‘Nee, daarvoor moet mens Graaff-Reinet toe ry.’

‘Kan ons dan later soontoe gaan?’ vra Henning, dankbaar dat hy vir eers nog kan verhoed dat sy sien hy het nie die vaagste benul wat om met die kaart te doen nie. Zolandrie is nie maklik te flous nie, het hy agtergekom.

‘Ja,’ sê Zolandrie, ‘ek sal nou betaal, dan kan jy later jou deel teruggee.’ Sy bly stil en kyk hom stip aan met ’n deurdringende blik. Met ’n skok besef Henning wat sy dink en hy word rooi in die gesig van skaamte.

‘Ek het vergeet die kaart is in die tas,’ sê hy. ‘Regtigwaar, jy moet my glo.’

‘Op hierdie stadium weet ek nie wat om te glo van jou nie,’ sug die meisie. ‘Jy is regtig weird, maar ek sal skuldig voel as ek jou net aan jou lot oorlaat. Jy moet maar agter my aan tag, dan sien ons wat gebeur.’

Hulle bestel kos en eet dit later stilswyend, met Zolandrie wat net elke af en toe tersluiks na Henning kyk asof sy wil bepaal hoe sy tafelmaniere is.

Toe sy bord leeg is en silwerskoon uitgevee met die laaste stukkie brood, sit Henning tevrede agteroor.

‘Dit was heerlik,’ sê hy.

‘Gaaf,’ antwoord Zolandrie en bestel koffie, ‘dan kan ons nou-nou die pad vat huis toe.’

‘Wat bedoel jy?’ vra Henning. ‘Ek gaan Nuwerus toe.’

‘Nee, jy gaan eers saam met my plaas toe sodat ons jou kan uitsort,’ beslis Zolandrie. ‘Jy is soos ’n verdwaalde hanslam — ’

‘Ek sal nie so sê nie,’ keer Henning, maar die meisie gaan voort, ‘ — jy het nie ’n clue wat aangaan nie — ’

’n Skielike gedagte tref haar.

‘Jy was nie dalk in die tronk nie, was jy?’

‘Hemel, nee!’ Henning se geskokte stem is genoeg om haar daarvan te oortuig dat dit nie so is nie en sy trek haar skouers op.

‘Nie nodig om so upset te raak nie, ek sou nie omgegee het solank as wat jy jou straf uitgedien en nie ontsnap het nie,’ sê sy agteloos. ‘Is jou koffie klaar?’

Sy betaal by die toonbank en loop voor Henning uit na buite. Hy volg haar na ’n voertuig wat ’n ent verder onder ’n boom staan.

‘Jy hoef jou nie oor my te ontferm nie,’ sê Henning. ‘Ek sal regkom. Vat my net Graaff-Reinet toe sodat ek genoeg geld kan kry om vir my ’n perd te koo—’ Te laat besef hy dat dit moontlik nie die regte ding was om te sê nie, wat bevestig word deur Zolandrie wat hom ongelowig in die rede val, ‘’n Perd? Jy wil te perd na Nuwerus ry?’

‘Hoekom nie?’ antwoord Henning stug en voeg moedswillig by, ‘Dit sal nie die eerste keer wees nie.’

‘Klim in,’ beveel Zolandrie. ‘Daar’s no way wat ek jou gaan laat losloop nie.’

Na ’n oomblik se aarseling klim Henning in die bakkie en kyk hoe Zolandrie die masjien aanskakel. Toe sy wegtrek en met moeite die onwillige ratte pamperlang om die swaar voertuig straat-af te stuur, vra Henning verbaas, ‘Loop die ding nie vanself nie?’

Zolandrie ry amper in ’n voetganger vas toe sy haar oë hemelwaarts rig en prewel, ‘Genade — ’

Net betyds swaai sy uit.

 · · ·

Die rit plaas toe vat omtrent ’n uur en Henning is dankbaar om die Karoo te sien sonder boortorings en dooie bome, hoewel hy hom verwonder aan die kilometerslange, pen-reguit draadheinings.

‘So ja, hier’s ons by die huis,’ kondig Zolandrie aan toe hulle voor die opstal se groot stoep stilhou. ’n Vrou kom uit die voordeur terwyl sy haar hande aan haar voorskoot droog maak.

‘Ek het jou al daar doer hoor aankom, my kind,’ sê sy, ‘jy moet regtig dat Andries na daardie enjin kyk voor hy met jou gaan staan.’ Sy sien vir Henning en haar gesig val. ‘Wat het jy nou weer saamgebring?’ vra sy en voeg verontskuldigend by, ‘Nie dat hy nie welkom is nie, natuurlik. Kom in, kom in!’ nooi sy met ’n glimlag.

‘Toe, klim uit,’ sê Zolandrie en voeg self die daad by die woord.

Henning aarsel, klim dan uit en rek sy lang bene wat styf is van die lang en ongemaklike sit.

‘Ma, dis Henning,’ stel die meisie hom voor en hy skud die uitgestoke hand.

‘Aangename kennis, Tante,’ sê hy en word onmiddellik reggehelp.

‘Noem my sommer Stella.’

Op daardie oomblik kom ’n jongman van Henning se ouderdom om die hoek van die huis en sê, ‘Maggies Zo, jy kan nie langer so met daardie bakkie ry nie — ’ Hy sien vir Henning en breek sy sin af. Voordat hy egter kan kommentaar lewer, sê Zolandrie, ‘Andries, dis Henning. Hy boer by Beaufort-Wes. Henning, dis Andries. My broer.’

‘Was jy ook by die rally?’ wil Andries weet en Henning knik sy kop, maar dis Zolandrie wat antwoord.

‘Henning is ’n bietjie deurmekaar, ek dink hy het geheueverlies. Hy is op pad na Nuwerus.’

Andries begin lag.

‘Nie ’n wonder hy is deurmekaar nie, sy brein het seker gesmelt daar.’

Henning begin kriewelrig raak, maar dwing homself om sy mond te hou. Laat hy maar eers uitvind wat nou eintlik aangaan.

Skielik voel hy dat iemand hom dophou en hy kyk na die voordeur. ’n Vrou het op die stoep verskyn en kyk stip na hom. Hoewel sy liggies op ’n kierie steun staan sy regop en dis moeilik om haar ouderdom te skat, al kan Henning sien sy is nie meer jonk nie. Sy het ’n nousluitende langbroek aan en ’n los hemp wat nie te skoon lyk nie. Haar voete is kaal en haar grys hare is kort geknip en dit wat oor is warrel om haar kop.

Hy is op die punt om homself te gaan bekendstel, toe Stella omdraai en sê, ‘Gits Ma, ek het jou nie hoor kom nie. Kyk wat het Zo — ek bedoel, Zo het vir ons ’n besoeker saamgebring. Sy naam is Henning. Henning, dis Ouma Katerina.’

Henning kry ’n stewige handdruk en sê, ‘Aangename kennis.’ Hy waag dit hierdie keer maar nie om ’n beleefde ‘Tante’ by te voeg nie, want dit lyk vir hom asof dit uit die mode is.

‘Jy kom van baie ver af, nè?’ sê-vra die ou dame en Zolandrie verduidelik, ‘Ons ouma is psychic.’

‘Weird,’ begryp Henning, maar afkeur op die gesigte wys hom dat dit nie ’n goeie woordkeuse is nie. Net Katerina lag hartlik en vat Henning aan die arm.

‘Kom in, jongman, en vertel my van jouself.’ Vir die ander sê sy, ‘Bly maar eers buite, ek is seker julle het werk om te doen.’