GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk.php?teks=qjrpeo

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Groot Bankroof

— Hoofstuk 1 —

‘Kom ons ry oor Vlugheuwel toe,’ sê Lang Henning terwyl sy blik oor die wye oopte van die somerse Karooveld om hulle dwaal. Bo hulle is die lug helder blou, met net op die verste horison ’n aanduiding van wolke, wat ongemerk grootword.

‘Reg,’ stem Boet in en, na ’n rukkie, ‘Wag ’n bietjie, moenie sê jy het daardie storie van die eeufees geglo nie?’

‘Hoekom nie? Ek is lus vir ’n bietjie vrolikheid.’

Boet skud sy kop.

‘Honderd jaar lank op een plek bly klink vir my bra soos spekskiet,’ sê hy. ‘G’n mens kan so vasgroei nie.’

Henning stem volmondig saam, maar sê, ‘Wat maak dit nou saak? ’n Fees is ’n fees.’

‘Ken jy die pad?’ verander Boet die onderwerp.

Henning wys na ’n donkergroen streep ver voor hulle aan die voet van ’n reeks koppies.

‘Dis die Kromrivier daardie, met Vlugheuwel op sy anderkantste oewer. Die mense moes maar partykeer voor die vloedwaters na die koppies vlug as die rivier afgekom het, sien, dis dié waar die dorp sy naam vandaan kry.’

‘Moet dit dan nie Vlugkoppies wees nie?’ vra Boet, beterweterig soos altyd.

‘’n Koppie is mos vroeër ’n heuwel genoem en toe dink hulle seker maar dit klink deftiger.’

Boet wil nog vra hoekom, maar Henning maak hom met ’n handgebaar stil en laat terselfdertyd sy perd in sy spore vassteek. Boet doen dieselfde en kyk na waar Henning wys.

’n Ent van hulle vandaan, half weggesteek in die skadu van ’n doringboom, staan ’n perd met sy kop wat amper op die grond hang. Op sy rug is ’n leë saal.

‘Iets is daar nie pluis nie,’ sê Henning en begin soontoe ry, versigtig om nie die perd skrik te maak sodat dit weghardloop nie. Toe hulle egter naby genoeg is, sien hulle dat die dier nie sou kon wegkom nie al spook hy hoe hard, want sy voorbene is hopeloos verstrengel in die teuels en sy knieë is rou soos hy hulle blykbaar stukkend geval het. Dis egter nie die perd wat Henning se onmiddellike aandag trek nie, maar sy ruiter wat half onder hom op die grond lê. Dis ’n jongman, so pap en stil dat Henning vinnig van sy perd spring en buk om seker te maak dat daar nog asem in hom is. Terwyl hy in die jongman se nek na ’n polsslag soek, klim Boet ook uit die saal en begin die rieme om die perd se bene lossny, versigtig dat die dier nie per ongeluk op sy baas trap sodra hy voel hy is vry nie. Hy vat die perd aan die stang en hou hom so vas dat Henning die ander kan wegsleep.

‘Leef hy?’ vra hy.

‘Ja, maar ook maar net-net,’ antwoord Henning. ‘Sy kop het blykbaar op ’n klip beland toe hy val.’ Hy wys na ’n skerp stuk klip waaraan bloed en ’n klossie hare kleef. ‘Ons sal hom by ’n dokter moet kry. Is die perd darem reg?’

Boet lei die perd ’n entjie om die boom.

‘Dit lyk so. Sy knieë is lelik nerf-af, maar hy is nie kruppel nie,’ sê hy.

‘Nou maar gaaf, dan moet ons maar die kans vat en hom dorp toe karwei, want ek dink nie ’n dokter sal uitkom hiernatoe nie.’

‘Dis nog ver, sal hy dit maak?’ twyfel Boet.

Henning trek sy skouers op. ‘Ons kan hom nie hier laat lê nie. Hou vas die perd dat ek hom optel.’

Boet haal ’n tou van sy saal en bind dit aan die perd se toom, waarna Henning die bewustelose jongman op die saal laat lê sodat sy arms en bene weerskante afhang.

‘Ons sal maar moet stadigaan, anders val hy netnou weer af,’ sê hy.

 · · ·

’n Paar uur later is die twee swerwers nog skaars die drif oor die rivier deur, toe hoor hulle al die jolyt op Vlugheuwel en by die vooruitsig aan die komende feesvreugde vergeet Henning skoon van die treurige las wat hulle saambring. Dis Boet wat hom daaraan herinner dat hulle ’n dokter sal moet soek.

‘Ek hoop jy ken van die mense hier om te vra, anders sien ek swarigheid vir die ou,’ voeg hy by. ‘Sy kop bloei nog steeds.’

Henning kyk om na die beweginglose figuur en sien dat Boet reg is; die bloed drup-drup eenstryk op die grond, daar lê sweerlik ’n spoor van rooi spikkels die hele ent pad. Die jongman se gelaat is wasbleek en Henning vrees dat hy besig is om leeg te bloei.

‘Kom, hier moet iewers ’n neef van my wees, ons moet hom net in die hande kry,’ is hy skielik haastig.

Die middagson staan hoog aan die hemel toe hulle uiteindelik die dorp binnekom en al met die hoofstraat af ry, maar dit lyk nie asof enigiemand hom steur aan die hitte wat soos in ’n bakoond tussen die geboue vasgevang is en boontoe warrel met die stof wat deur voete opgeskop word nie. Vrolike musiek van konsertina en viool klink van waar ook al en daar word lustig saamgesing deur groepies wat die strate vol rondloop. Bokant die straat hang van kant tot kant gekrulde papierslingers en groot lap-baniere waarop die dorp se naam en die jaartalle 1777 — 1877 in pragtige letters geskryf staan, en op ’n breë winkelstoep is tafeltjies en stoele gepak waar mense kan uitrus en limonade of koffie drink. Aan die einde van die straat is ’n groot plat gebou wat op sy gewel die woord HOTEL verkondig en ook op daardie stoep sit mense, maar dis almal mans en hulle drink bier. Henning ry reguit soontoe en hou stil.

Dit is net ’n oomblik, toe sien iemand die vrag op die los perd raak en roep uit, ‘Hoi, kyk daar!’ Die geroesemoes van stemme bedaar en almal kom nader na Henning en die perd met die man oor die saal.

‘Wat het gebeur? Wie is dit?’ vra die een wat eerste gepraat het.

‘Ek weet nie,’ antwoord Henning, ‘ons het hom maar so loop kry daar in die veld. Is hier ’n dokter êrens?’

‘Leef hy dan nog?’ wil die ander weet en gryp die slaphangende pols. Tegelykertyd gewaar hy die jongman se gesig en trek hoorbaar sy asem in.

‘Maar dis dan Mannetjies Marais!’

‘Ja, dis mos hoeka daardie nuwe perd van hom!’ weet iemand anders te vertel. ‘Het hy hom dan afgegooi?’

Die mans drom saam om die perd wat skigtig begin rondtrippel, sodat Henning moet versoek, ‘Tru bietjie daar, mense, voor daar nóg ’n ongeluk gebeur!’

Hy en Boet klim intussen uit hul saals en terwyl Boet die onrustige perd kalmeer, vra Henning nog ’n maal, ‘Is hier ’n dokter op die dorp? Kan ons hom soontoe vat?’

Weereens praat almal tegelyk en aangesien die skare aangevul is deur feitlik die hele dorp se inwoners, kan niemand homself verstaanbaar maak nie. Die rumoer word vererger toe ’n paar vroue histeries begin gil, wat heel verstaanbaar is, soos Boet later vir Henning sê, want hulle is mos nie gewoond daaraan om bloed te sien vloei nie, net water.

Henning gryp die naaste man by die arm en bring sy gesig tot teenaan dié s’n en onderstreep sy vraag deur hard te roep, ‘Hè?’

Die man skud sy kop.

‘Nou goed, help my hom hier binne te kry,’ sê Henning, hierdie keer sonder om sy stem te verhef aangesien tog niemand vir hom luister nie. Hy beduie aan Boet om die perd stil te hou, en toe hy die bewustelose liggaam begin aftel van die saal is daar baie gewillige hande wat die gewonde binne ’n japtrap die hotel indra en versigtig op ’n sofa neersit. Die hotelportaal is al gou vol en die meeste dorpenaars moet maar tevrede wees om buite op die stoep en in die straat te bly en hoop hulle hoor wat aangaan.

Omdat Lang Henning bo die aanwesiges uittroon, kan almal hom sien toe hy sy hande in die lug ophou vir stilte en gaandeweg kan hy homself hoorbaar maak.

‘Mense, ek dink julle ken hierdie jongman, maar ons moet iets doen anders gaan hy nie lank meer met julle wees nie. Hier is nie ’n dokter nie?’ sê-vra hy. ’n Algemene kopgeskud bevestig sy stelling en hy gaan voort, ‘Wie kyk na julle siekes om?’

Hy hoef nie op ’n antwoord te wag nie.

‘Laat my deur,’ sê ’n sagte stem. Die skare maak eerbiedig oop soos die Rooi See vir die Israeliete en Henning se oë rek toe hy die figuur sien wat statig na vore tree. Kiertsregop is hy, maar nie ’n duim oor vyf voet nie en die swart pak wat die effens gesette lyf omhul steek in sterk kontras af teen die man se spierwit bos hare waarop ’n netjiese keil pryk. Sy gesig is rosig en ernstig geplooi, met ’n knypbrilletjie voor swart oë soos rosyntjies. ’n Pofferige wit hand word na Henning uitgesteek.

‘Ambrose Jones,’ stel hy homself voor. ‘Lykbesorger en sieketrooster.’

‘Henning,’ antwoord dié terwyl hy handskud en die man in die swart pak sê, ‘A ja, ek het al van jou gehoor. Láng Henning.’ Hy kyk Henning se volle ses voet ses op en af en voeg by, ‘Jou naam doen jou eer aan.’

Dan vryf hy sy hande en stap na die sofa waarop die bewustelose lê. Hy betrag hom met ’n kennersoog en mompel, ‘Hmm, ja.’

Almal kyk toe hoe hy die bloedbekoekte wond ondersoek en ook vanaf die straat word geen geluid gehoor nie soos almal in spanning wag om te sien watter een van sy twee ampte Jones gaan uitvoer. Oplaas kom hy regop en vra vir Henning, ‘Hoe lank gelede het jy hom so gekry?’

‘Vanoggend vroegerig,’ antwoord Henning. ‘Ons het stadig hiernatoe gery sodat hy nie moet verder seerkry nie.’

Jones knik sy goedkeuring. ‘Hy het sonder twyfel harsingskudding en ’n verdere skielike beweging sou onmiddellik fataal gewees het. Nie dat ek reken hy gaan oorleef nie,’ voeg hy by. Die toeskouers sug aangedaan.

‘So erg?’ Henning het nie veel hoop gehad nie, maar om sy vermoede bevestig te kry laat hom tog skrik.

‘Hy het baie bloed verloor en is in skok,’ verduidelik Jones. ‘Daar is bitter min wat ek vir hom kan doen behalwe die wond skoonmaak en verbind.’ Hy wys na ’n paar van die omstanders. ‘Brand en Strauss, bring hom na my plek toe, en moet hom nie laat val nie. Die res van julle, gaan terug na jul bier en gee vir Lang Henning ook een as dank dat hy ons vriend en dorpsgenoot teruggebring het.’ Hy lig sy keil effens. ‘Menere,’ groet hy en weer word daar ’n pad oopgemaak sodat eers hy en toe die twee draers met die pasiënt kan deurgaan. Henning besluit om eers te vergeet van sy dors en stap agterna om te kyk waarheen hulle met die jongman gaan.

So ver soos hulle loop word die beseerde bekyk en uitgevra oor wat gebeur het. Dit lyk of die man welbekend is en verskeie tannies vee onbeskaamd ’n paar trane af toe hulle sien waarheen hy geneem word. Dis darem altevol handig, so naby die doodskiste.

Die begrafnisonderneming is op ’n hoek van die hoofstraat geleë en Henning kan sien dat Jones ’n smaakvolle besigheid bedryf. ’n Roukrans van swartgeverfde lourierblare en ’n lanferstrik hang aan die deur wat Jones oopmaak, en toe Henning instap sien hy ’n paar oop doodskiste, uitgevoer met spierwit satyn, wat op bokkies staan — reg vir gebruik. Teen die mure wat met swart en goue muurpapier uitgeplak is, hang prente van wit lelies met groen loof en pers linte.

Jones volg sy blik en sê, ‘Vars rangskikkings is ongelukkig nie vryelik bekombaar nie, mens behelp jou.’ Henning verbeel hom hy sien ’n tinteling in die oë agter die brilglase, maar Jones gee hom nie kans om seker te maak nie, want hy beduie klaar waar die pasiënt moet kom.

‘Hier in die agterkamer, op die bed.’ Vir Henning sê hy, ‘Dit sal hom geen goed doen om tussen my kiste wakker te word nie, ás hy wakker word.’

Die agterkamer is leeg behalwe vir ’n laaikas met ’n olielamp en ’n katel waarop die bewustelose neergelê word. Brand en Strauss staan terug en Jones sê ongeduldig, ‘Toe, gee pad nou sodat ek kan begin.’

Sonder ’n verdere woord verdwyn die twee en Jones vra vir Henning, ‘Wat is jou belang hierby?’

‘Ek het hom gevind en wil maar net weet of hy gaan oorleef, dis al,’ sê Henning kalm.

‘Nou goed, maar moenie in die pad wees nie,’ maan Jones en begin met lappe en water uit ’n kraffie die gestolde bloed afvee. Die wond begin weer bloei, maar dit lyk nie asof dit Jones ontstel nie.

‘So ja,’ sê hy en stap vinnig na die kas waar hy in een van die laaie vroetel en ’n bottel te voorskyn bring. Hy hou dit teen die lig en meet die inhoud.

‘Behoort genoeg te wees,’ mompel hy. Hy trek die prop met sy tande uit, sit dit op die laaikas neer en tot Henning se verbasing vat hy ’n groot sluk uit die bottel.

‘Wil jy hê?’ bied hy vir Henning aan. Toe dié bedank, gaan hy na die bed en gooi versigtig van die bottel se inhoud op die oop wond uit, waarna hy weer ’n sluk vat en toe die prop optel en terugdruk.

‘Dit doen ’n mens goed,’ sê hy tevrede. Vir die eerste keer vertrek sy mond in ’n glimlag. ‘Suiwer Ierse whiskey, van die beste wat daar is want ek reken as hy moet gaan, kan dit netsowel in goeie styl wees. Wat het jy gedink is dit?’

‘Nou ja, as mens lyke balsem en so — ’ begin Henning verskonend, maar Jones val hom streng in die rede.

‘Jongman, ek meng nie my ambagte nie, onthou dit.’ Weer vertrek sy mond in ’n glimlag. ‘Balsemvloeistof, verbeel jou!’

Dan word Henning van verdere verleentheid gered deur ’n swak stem wat klaerig wil weet, ‘Waar is ek?’