GROENHEIDE BOEKE

Lang Henning die Voortvlugtige

— Hoofstuk 1 —

Net vyf myl verby Kimberley lê die dorpie Freetown, ’n gehuggie sonder strate waar die paar saamgeflanste huisies staan net waar die inwoners ’n oop plekkie daarvoor kon vind. In die middel, gebou van sinkplate en seil, staan soos ’n baken die hotel van Barney Martin, die bymekaarkomplek van struikrowers en ander gespuis op vlug vir die gereg, want hier is hulle veilig. Freetown is naamlik in die Oranje-Vrystaat en hoewel net ’n paar honderd tree oor die grens, het die Britse Koloniale regering geen volmag hier nie. Diamantsmokkelaars uit Kimberley kan hier vir die gereg sit en tong-uitsteek.

‘Hoe weet jy waar’s die grens?’ vra Boet daar waar hy en Lang Henning op hul perde sit en kyk na die kol daar anderkant wat Freetown is. Voor en langs hulle is oop veld en die wêreld is totaal plat met geen baken nie, geen groot boom of rantjie of iets nie. Skuins agter is vaagweg die stof van Kimberley te sien.

‘Hoofsaaklik raai ek,’ antwoord Henning, ‘en as daar ewe skielik soldate of enigiemand wat amptelik lyk van daardie kant af kom, sal ek vinnig retireer net ingeval. Mens kan ook nie gaan op die paadjies wat die patrollies uittrap nie, want dit kan enige kant s’n wees. Dit sou baie makliker gewees het as die rivier die grens was,’ voeg hy sugtend daaraan toe.

‘Hoekom is dit nie?’

‘Oor die diamante,’ verduidelik Henning. ‘Jy sien, die Boere-Republieke lê oos van Griekwaland-Wes en altwee het gereken die diamantvelde is aan hulle kant van die grens. Die Griekwas het weer beweer die grond behoort aan hulle omdat dit destyds deur ’n verdrag met goewerneur d’Urban aan hulle toegestaan is. Ene Arnot het die saak vir hulle bepleit en omdat Brittanje self ook maar lus was vir die diamante het hulle gesê dis reg so. Die Zuid-Afrikaansche Republiek het dit nie beveg nie, maar die Oranje-Vrystaat wel en president Brand is later tot oor Engeland toe om hulle kant by die koningin te gaan stel. Dit het nie baie gehelp nie, sodat op die ou end oorlog die enigste uitweg sou gewees het om dit te kry en dit kon die republiek natuurlik nie waag nie. Uiteindelik het Brittanje die Oranje-Vrystaat verlede jaar negentigduisend pond betaal om hulle aanspraak op te gee en die grens is hier getrek om Kimberley binne-in Griekwaland-Wes te sit.’

Vir ’n oomblik is Boet spraakloos, toe sê hy, ‘En toe het hulle die diamante.’

‘Dis reg,’ antwoord Henning, ‘want Griekwaland-Wes is ’n kroonkolonie, dus het Engeland toe die diamante.’

‘Hoekom het hulle nie sommer die hele land gevat nie? Boere-Republieke en alles?’ wonder Boet en Henning verduidelik, ‘Hulle het, maar kom toe agter dit kos te veel om alles te regeer, toe sê hulle die Oranje-Vrystaat kan maar onafhanklik wees. Wag net tot daar nog diamante of goud iewers ontdek word, dan is hulle weer by so gou soos die duiwel op ’n siel.’

Boet verbeel hom hy hoor ’n effense bitterheid in Henning se stem.

‘Hou jy nie van die Engelse nie?’ vra hy.

Henning bly ’n oomblik stil, toe antwoord hy, ‘Dis nie dat ek nie van die mense hou nie, maar as ’n nasie kan hulle partykeer nogal baie eiegeregtig wees met dit wat aan ander behoort. Nou ja, die Britse leër is so sterk dat niemand dit kan aanvat nie en hulle weet dit.’

Skielik glimlag hy.

‘Jy weet, daar is selfs ’n versie oor die affêre gemaak deur ene Piet Ondervelder, wag, laat ek kyk of ek dit nog onthou — ’ en hy frons sy winkbroue soos hy dink terwyl Boet in spanning wag.

‘Dit het so gegaan,’ sê Henning en hy dra voor:

Oom Jan is Engeland toe gegaan
Omdat hy wou gaan kla het;
Hoe Barkly, Soudie, en Lang-jan
Hom alte veel gepla het.
O wag ’n bietjie, ja wag ’n bietjie,
Wag maar ’n bietjie en dan kom alles reg.

‘Dis mos ’n geliefkoosde gesegde van die president self,’ verduidelik Henning, ‘dat alles sal regkom mits elkeen sy plig doen. Ewentwel, die versie gaan verder dat die geld toe gegee is, en — ’

Toe word Oom Jan so opgeruim
oor sy land en diamante
Hy spring daar op en soen somaar
Sy liewe oue Tante.

Nadat Boet klaar gelag het vir die koddige gediggie, vra hy, ‘Wat het van die geld geword?’

‘Dit word gebruik om ’n landbank op te rig,’ antwoord Henning. ‘Die president het groot planne vir die Oranje-Vrystaat.’

Daarmee is vir hom die saak afgehandel en hy kyk weer oor die veld na die gehuggie waar hy vermoed dat die diamantsmokkelaar Von Schnauzer skuil met Boet se geweer by hom.

‘Jy sal alleen moet ingaan,’ sê hy. ‘As jy hom gewaar, kom sê vir my dan gaan ons na donker in en gryp hom voordat iemand my herken.’

‘Ek glo wraggies jy’s ernstig,’ sê Boet verbaas. ‘Gaan jy my vertel wat nou eintlik hier gebeur het?’

Henning skud sy kop.

‘Nie belangrik nie,’ sê hy. ‘’n Berg van ’n molshoop, glo my.’

Daarmee moet Boet tevrede wees, maar hy sal dit wel later uit hom uitkry.

Hulle besluit om intussen ’n kampplek te soek ver genoeg van die grens af dat Henning gemaklik voel, en hulle ry tot by ’n spruit met ’n enkele verflenterde kameeldoring op sy wal.

‘Darem nog genoeg droë hout om ’n vuur te maak,’ takseer Henning die boom en hulle saal af. Die perde word gekniehalter sodat hulle kan wei en nadat die ketel vol koffiewater op ’n paar brandende takkies staangemaak is, strek Henning hom luilekker uit op die warm sand. Boet hurk by die vuur en speel met stokkies wat hy in die vlamme steek en so kort as moontlik laat brand sonder dat dit sy vingers bykom. Sy gedagtes is egter nie daarby nie en weldra laat val hy met ’n harde, ‘Eina, deksels!’ die stokkie op die grond waar dit uitdagend lê en smeul terwyl Boet sy vingers in sy mond sit.

‘Dit kom daarvan as mens met vuur speel,’ sê Henning prekerig en Boet kyk hom vies aan.

Dan sug hy.

‘Ek probeer dink wat om te doen vanaand, maar ek is bang ek gaan ’n gemors daarvan maak,’ erken hy. ‘Wat sê jy?’

Henning dink ’n rukkie na voordat hy antwoord, ‘Moenie te veel vooruit beplan nie, dit kom nooit so uit soos jy wil nie. Gaan net in en kyk of jy vir Von Schnauzer gewaar. Hy ken jou nie, dis heeltemal veilig.’

‘En as hy daar is?’

‘Dan kom jy terug na my toe. Op die oomblik is dit net belangrik om te weet waar hy is, dis al.’

‘Hulle sê dis alles boewe en moordenaars wat daar bly,’ sê Boet, en hy klink effens benoud.

‘Hulle sal nou mos nie sommer net enigiemand wat net daar aangery kom iets aandoen nie,’ stel Henning hom gerus. ‘Hou jou maar net onnosel en moenie te veel vrae vra nie. Is die koffie al reg?’

Boet knik en gooi die bekers vol. Terwyl hy drink dwaal sy gedagtes weer af en hy sê, ‘Jy sal my moet vertel hoekom ek moet gaan en nie jy nie, anders gaan ek nie.’

Vir ’n oomblik lyk dit asof Henning gaan weier, dan sê hy, ‘Nou ja, ek kan jou maar sê voordat iemand anders dit doen en my naam onnodig swart smeer.’

Hy tuur in die verte asof hy meer raaksien as die eindelose horison. Toe gaan hy voort, ‘Soos jy miskien weet het oom Jan ’n klomp kinders — ’

‘Nee, ek weet nie en wie is die oom?’ val Boet hom in die rede.

‘Ek het jou dan nou net van hom vertel,’ antwoord Henning ongeduldig. ‘Oom Jan Brand, die president van die Oranje-Vrystaat. Nou ja, toe ek laas daar was het ek — eh — jy kan maar sê, betrokke geraak met een van die dogters. Pragtige meisie, lieflike mens — ’ Henning glimlag dromerig by die herinnering en Boet se oë rek.

‘En toe?’ vra hy toe die stilte te lank na sy sin duur.

‘En toe wil sy trou.’ Daar is ’n droewige klank in Henning se stem. ‘Sy het my nie ’n kans gegee om ’n woord tussenin te kry nie. Ek moes gaan ouers vra. Ek kon sien dat tant Johanna nogal geneë was, maar hoewel ek vir die dogter se onthalwe voorgegee het dat ek gretig was om te trou, was oom Jan traag om my sy seën te gee. Sy was nog baie jonk, jy sien,’ voeg hy by.

‘Dit was oneerlik van jou,’ betig Boet en Henning antwoord, ‘Ja, maar as jy haar kon sien sou jy dieselfde gedoen het, mens wil haar nie seermaak nie. In elk geval, oom Jan se weiering het my goed te pas gekom, maar die meisiekind wou nie kopgee nie en ek toe ook nie, of so het ek maar gemaak. Ons het hiernatoe en daarnatoe geredeneer en nou ja, oom Jan is lief vir haar en kon ook nie sommer toesien dat haar hart breek nie, toe stel hy so tussen ons drie voor dat die noodlot moet beslis. Ek en hy sou kaartspeel en as ek wen trou ek met haar en as ek verloor gee hy my sy beste perd en moet ek sien dat ek oor die grens kom en daar bly. Sy wou eers nie daarvan hoor nie, maar het uiteindelik ingestem en ek ook, en ek weet tot vandag toe nog nie of hy in sy wysheid geraai het dat dit presies was wat ek wou hê. Hy het my miskien te goed geken.’

‘Wag ’n bietjie!’ sê Boet verontwaardig, ‘Toe verloor jy met opset?’

Henning skud weemoedig sy kop.

‘Nee, as ek speel dan speel ek om te wen, maar met daardie pot het die ou man my geklop. Nie dat ek spyt was nie, maar my eer was gekrenk, dit kan ek jou wel sê.’

‘En toe?’ wil Boet weet.

‘Toe troos hy sy dogter en gee my die perd, hierdie een waarop ek sit, ’n resiesperd van die beste bloed in die land. Ook maar goed ook, want soos ek reeds gesê het het die dogter baie broers wat nie daarmee gediend was dat hul sussie so in die steek gelaat word nie. Ek het op die nippertjie ontkom, en later het ek gehoor dat hulle my daarvan beskuldig dat ek die perd gesteel het, dus is ek as ’n perdedief gebrandmerk en soos jy weet is dit ’n baie ernstige misdryf.’

‘Maar die president kon mos sê dit was nie so nie,’ sê Boet. ‘Hoekom het hy nie?’

‘Die president is nie veronderstel om te dobbel nie, en veral nie oor sy dogter se hand nie al is dit met haar medewete,’ verduidelik Henning. ‘En om die waarheid te sê dink ek nie hy het juis omgegee nie, want ek het mos gesê ek sal uit sy republiek wegbly, wat ek tot dusver ook gedoen het.’

Boet se afkeuring is duidelik, maar dan begin hy lag en sê, ‘En as jy gewen het? Sou jy met haar getrou het?’

‘Ja, ek sou,’ is al wat Henning antwoord, maar hy kan nie die verligting op sy gesig wegsteek nie. Boet sien dit en spot, ‘Jy’s gelukkig die oom het jou kastaiings uit die vuur gekrap. Ek wonder wat het hy vir die tannie gesê hoekom hy jou nie as skoonseun wou hê nie.’

‘Seker maar dat ek ’n nikswerd dobbelaar en ’n perdedief is,’ antwoord Henning gelate. ‘Daaraan kan ek niks doen nie.’

‘Wanneer was dit?’ vra Boet en voeg hoopvol by, ‘Hulle het sweerlik al lankal daarvan vergeet.’

Henning skud sy kop.

‘Ek betwyfel dit. Daardie Brand-seuns het nie gelyk asof hulle maklik gaan vergeet nie, om van vergewe nie eers te praat nie.’

‘Nou ja, hulle sal nou mos darem seker nie elke dag hier op die grens rondloop en kyk of jy dalk inkom nie,’ sê Boet. ‘Hoe groot is die Oranje-Vrystaat?’

‘So ’n bietjie groter as die Karoo, en jy’s reg, ons is ’n hele paar dae se ry van Bloemfontein af. Maar nou moet jy ook onthou dat daar by elke polisiepos ’n beskrywing van my is en hulle sal wel die grens patrolleer, nie juis vir my nie, maar vir die smokkelaars en struikrowers wat na Freetown op pad is.’

Boet sien in dat Henning heelwaarskynlik reg is en bly stil. Hy probeer dink aan ’n rede hoekom dit vir hom ook te onveilig sal wees om oor die grens te gaan, maar kan aan niks dink nie en hy wil darem ook bitter graag sy geweer terughê. Dus sê hy, ‘Nou ja, dan sal ek maar my lewe loop waag daar tussen die boewe. Onthou net ek het die vent nog nooit met ’n oog gesien nie, dalk kom ek met die verkeerde een terug. Wat dan?’

‘Ag nee wat,’ sus Henning, ‘jy sal hom sommer maklik uitken. Hy’s groot en netjies aangetrek, met kort donkerbruin hare en ’n bokbaardjie. En hy praat net Duits en ’n bietjie Engels,’ voeg hy terloops by.

‘O gaats, dan sal ek hom mos nie verstaan nie,’ skrik Boet. ‘Hoe moet ek hom dan vra wie hy is?’

‘Jy moenie. Kom sê net vir my as jy so iemand gewaar,’ antwoord Henning.