GROENHEIDE BOEKE

Lang Henning en die Spookruiter

— Hoofstuk 1 —

Hoewel die dae al langer begin word kan die Karoo-nagte nog maar lekker koud wees en Boet skuif al hoe nader aan die vuurtjie wat hy en Lang Henning vroeër die aand gepak het.

‘As jy so aangaan sit jy netnou bo-op,’ sê Henning. ‘Mens sou gedink het jy’s teen hierdie tyd gewoond in die veld slaap.’

‘Kry jy dan nie koud nie?’ vra Boet. ‘Dit raak elke nag erger as wat dit nog hierdie winter was.’

‘Onsin, dis amper September, dan is dit so te sê somer.’

‘En Kersfees. Waar gaan ons Kersfees vier?’

‘Weet nog nie. Wil jy huis toe gaan?’

Boet dink ’n rukkie na, toe skud hy sy kop.

‘Nee, dit sou simpel wees want dan moet ons net weer die hele ent pad terugry na Nuwejaar.’ Hy vryf die hond wat langs hom lê se kop en dink ewe skielik aan iets.

‘Haai, ek wonder of Martie en Stefan toe al getroud is.’

‘Ek glo nie, maar ons sal wel sien as ons terugkom van die Gariep af,’ reken Henning.

Boet kyk op na die amper vol maan wat die landskap in ’n onnatuurlike lig baai en ril.

‘Komaan, dis nie so koud nie,’ sê Henning skepties.

Boet wikkel vir hom ’n gerieflike holte in die sagte sand en staar in die vlamme.

‘Vertel iets,’ vra hy.

‘Wat?’

‘Enigiets. Ken jy nie ’n goeie spookstorie nie?’

Henning lag.

‘Wil jy hê ek moet heelnag jou handjie vashou omdat jy te bang is om alleen te slaap?’ spot hy.

‘Nee, ek is ernstig,’ sê Boet. ‘By die Missie het ons altyd sulke volmaan-aande spookstories vertel.’

Henning dink na.

‘Ek ken nie eintlik stories nie, maar ek het ’n tydjie terug ’n oulike versie gelees. Ek dink ek het dit nog hier iewers in my saalsak — ’

Hy krap in sy sak en haal ’n stuk koerant daar uit. ‘Ja, hier’s dit. Kom ek lees dit vir jou.’ Hy hou die papier by die lig van die vuur en begin,

As jy miskien nog met jou maat
Bo in die dorp sit lag en praat,
Vergeet jy jy moet huis toe gaan,
Anders sal Elsie vir jou slaan;
Sy sit al by die vuur en brom:
‘Ek kry hom soos hy huis toe kom.’

Jammer dat mans so selde hoor
As hulle vrouens vir hul knor;
Dit is maar so — hul kan maar praat,
Ons luister tog nie na hul raad.
Dat dit so is, het Klaas Geswind
Een donker nag ook uitgevind;
Hy ’t lelik in die knyp geraak,
Toen hy terug ry van die Braak.

‘Van die wat?’ wil Boet weet.

‘Die Braak. Dis ’n oop plek op ’n dorp waar mans saans kuier,’ verduidelik Henning en sit sy voordrag voort,

Het Klaas geluister na syn vrou,
Dan had dit hom nog nooit berou;
G’n dag gaan om of sy vertel hem:
‘Maar Klaas, jy is tog al te skelm;
Nog nooit is jy van huis gewees,
Of jy gedraag jou nes ’n bees;
En loop Koos Tities met jou mee,
Dan gaan dit woes met julle twee.’

Een aand, in plaas van huis toe gaan,
Bly Klaas nog in die dorp en staan.
‘Nou, arrie! moet jul my trakteer,
Kom kêrels, gooi maar nog ’n keer!’
Hul gee oom Klaas ook nog ’n dop,
Toen was hy net mooi hoenderkop.

Nou skeel dit niks al word dit nag,
Hy bly maar daar gesels en lag.
As Klasie eers begin te slinger,
Dan kan jy glo hy sal mallinger.

Plesier is nes ’n jong komkommer:
As jy hom pluk, verlep hy sommer;
Of nes ’n skilpad in syn dop in:
Soos jy hom vat, dan trek hy kop in.
As Klaas vanaand syn huis wil haal,
Dan word dit tyd om op te saal;
So klim hy Kol maar saggies op,
En druk syn hoed vas op syn kop.

‘Is dit nou eintlik ’n spookstorie?’ vra Boet.

‘Dit kom nog,’ sê Henning. ‘Luister — ’

’n Flukse merrie was ou Kol,
Al was haar rug ’n bietjie hol;
Eers fluit die ou, want hy was bang,
Die neën-en-neëntigste gesang;
Dan kyk hy weer ’n slaggie om
Of daar miskien g’n spook aankom.
Voor hy vanaand syn huis kan kry,
Moet hy die kerkhof nog verby.

‘O vrek,’ sê Boet, ‘dis mos die begrafplaas dan nie?’

‘Ja,’ antwoord Henning en Boet gril eintlik van lekkerkry oor wat gaan kom.

‘Arme ou Klaas,’ sê hy. ‘Ek’s bly ek’s nie hy nie!’

Die drank is tog ’n snaakse goed:
Hy gee die bangste kêrel moed;
Al is ’n man ook nog so olik,
Een sopie maak hom netnou vrolik;
Steek hy maar net ’n dop of drie,
Dan stuit hy vir g’n duiwel nie.

Maar Klaas het darem naar gelyk,
Toen hy daar in die kerkhof kyk;
Syn bloed het wonderlik gekook,
Toen hy gewaar hoe dit daar spook:

Daar speul die duiwel op ’n tromp
Vir veertig spoke in ’n klomp;
Hul dans daar rond dat dit so gons,
Geen ouderwetse kotiljons,
Maar eers ‘Aleksander Klipsalmander’
Trap hulle algar met malkander;
Toen was dit weer die ‘hondekrap’,
Totdat die sweet so van hul tap!

Die goed was byna poedelkaal,
En kyk, die vrouens was té skraal;
Maar een daarvan, ’n bietjie dikker,
maak so ’n uitgehaalde flikker
Dat Klaas, plaas van syn bek te hou,
Skree: ‘Arrie, dit was fluks van jou!’

Soos hy dit seg, toen moet hy ja,
Die heel boel sit hom agterna.
‘Kol, loop nou dat die stof so staan,
Anders is Klaas vanaand gedaan!
Kom jy maar net die drif verby,
Dan dalkies raak jou baas nog vry;
’n Spook is nes ’n bokkapater,
Hy loop nie sommer in die water.
Toe, Kol, die duiwel sny jou spoor!’
Hier leg die drif — hiert! — sy’s daaroor;
Haar stert het hul glad uitgeruk,
Maar Klaas is los, dis syn geluk.

Vir dié wat lus het om te draai,
Wil ek maar net een woordjie raai:
Gedenk aan Klaas Geswind syn perd,
En vraag jouself, waar is haar stert?

Boet sit ’n oomblik sprakeloos. Dan begin hy lag en eers toe hy ’n hele ruk later sy asem terugkry, sê hy, ‘Ek dog spookstories moet mens bangmaak!’

‘Wag maar tot jy vannag ewe skielik wakker word, dan sien ons wie lag,’ antwoord Henning terwyl hy die stuk koerant terugsit in sy saalsak.

 · · ·

Maar Henning se voorspelling kom nie uit nie, want Boet slaap soos ’n klip en word eers die volgende oggend wakker toe Henning hom liggies in die ribbes skop.

‘Kom, opstaan. Ons kan nie die hele dag slaap nie!’

Boet rol nog ’n slag om maar kom dan orent. Hy rek hom uit en wil-wil kla oor sy hele lyf wat styf is van op die grond slaap, maar besluit om maar liewer die beker koffie wat Henning aangee te drink. Henning kan soms baie onredelik wees en klagtes het gewoonlik ’n aweregse uitwerking, soos onmiddellike opsaal sonder koffie en ontbyt.

Terwyl hulle eet sit Boet die gesprek van die vorige aand voort.

‘Glo jy aan spoke?’ vra hy.

Henning antwoord nie dadelik nie, maar na ’n rukkie sê hy, ‘Ek het nog nooit self een gesien nie, maar al baie gehoor van mense wat het.’

‘Dus jy glo daarin?’

‘Mens sou so kan sê, ja,’ gee Henning toe. ‘Jy?’

Boet skud sy kop.

‘Nie voor ek nie self een gesien het nie.’

‘Miskien sal jy binnekort,’ sê Henning. ‘Hierdie deel van die Karoo is bekend vir sy spoke.’

‘Regtig? Hoekom?’

‘Weet nie. Seker maar oor mense wat vermoor is of so. Ons sal in elk geval by Spooksekop aangaan, dan kan hulle vir jou vertel.’

‘Spooksekop?’ vra Boet ongelowig. ‘Wat is dit?’

‘Eintlik ’n stuk berg, maar toe het die dorpie daar naby sommer ook die naam gekry. Ons is op pad soontoe.’

Nou raak Boet haastig.

‘Hoe ver is dit?’ vra hy.

‘Ons behoort so teen middag se kant daar te wees,’ reken Henning. ‘Kom, hoe gouer ons ry hoe eerder is ons daar.’

 · · ·

Spooksekop steek hoog bo die ander bergrante uit en is van veraf te sien, maar die dorpie met dieselfde naam word eers sigbaar toe Lang Henning en Boet al baie naby is. Hoë bome omring die plekkie en daar steek selfs nie ’n kerktoring bo uit nie. Boet kyk verwonderd rond toe hulle met Kerkstraat afry en stilhou by die stoep van Jasper Havenga, Algemene Handelaar.

‘Hier’s maar min huise,’ sê hy. ‘Hoekom is dit ’n dorp?’

‘Seker maar oor die kerk hier gebou is,’ antwoord Henning. ‘Die mense hier rond moet mos darem ’n bymekaarkomplek hê.’

‘Die kerk lyk nie juis soos ’n kerk nie,’ Boet wys met die straat af, ‘eerder na ’n skuur.’

Henning kyk en sien dat Boet reg is. Die gebou aan die einde van Kerkstraat lyk inderdaad nes ’n groot klipskuur.

‘Miskien is dit nie die kerk nie,’ opper hy.

‘Dit moet wees. Dis Kerkstraat dié en daardie is die enigste gebou behalwe hierdie wat nie ’n huis is nie.’

‘Jy’s reg. Nou ja, kom ons soek blyplek.’

Hulle klim van die perde af en bind die teuels vas aan die paal voor die winkel. Toe hulle binnestap moet hul oë eers gewoond raak aan die halfduister voordat hulle kan sien. Kiste en sakke met meel en ander eetgoed staan die vloer vol, rakke is gepak met negosie en tot aan die dakbalke hang allerhande koopware. Agter die groot toonbank staan ’n ouerige man wat hulle aandagtig beskou.

‘Goeiemiddag, Neefs,’ sê hy. ‘Wat kan ek vir julle doen?’

Henning staan nader.

‘Middag, Oom. Ons soek eintlik blyplek. Kan Oom vir ons sê of hier rond ’n losieshuis is?’

’n Kwartier later, nadat die twee se reisplan, voornemens en moontlike familieverbintenisse uitgepluis is, lei Henning en Boet hul perde na die skuur agter die winkel waar hulle solank kan staan.

‘Ek dink jy moet jou hond ook maar hier los,’ stel Henning voor.

‘Stomme dier, moet ook maar alewig in ’n stal slaap,’ kry Boet sy hond jammer. ‘Ek hoop ons kan darem vir hom kos in die hande kry.’

‘Ek dog hy sorg vir homself. Miskien is hier darem ’n slang of twee wat hy kan eet,’ sê Henning. Boet verwerdig hom nie om te antwoord nie, maar beveel sy hond om te bly en begin aanstap na tant Bettie Beneke se Losieshuis toe, net om die draai van die winkel.

‘Nou het ons vergeet om die oom te vra hoekom die plek se naam Spooksekop is,’ onthou Boet skielik.

‘Toemaar, nog baie tyd. Ek is van plan om ’n paar dae hier te bly.’

‘Vir wat?’

‘Iets wat ek iemand belowe het om te doen,’ sê Henning vaag.

‘’n Neef van jou seker?’ vra Boet ewe onskuldig.

‘Gits ja, hoe het jy geweet?’ lag Henning.

Al gou is hulle by die losieshuis en klop aan die voordeur wat na ’n paar minute oopgeruk word. Tant Bettie Beneke staan die deuropening vol, ’n groot vrou van min woorde. Op Lang Henning se vraag of hulle ’n paar nagte kan oorbly, is al wat sy antwoord, ‘Kom in,’ en gaan hulle voor met die gang af tot by ’n deur wat op ’n skrefie staan.

‘Familie?’ vra sy.

‘Nee,’ sê Henning.

Tant Bettie maak die deur langsaan ook oop, draai om en stap weg.

‘Ek dink nie sy gaan ons baie vertel van die dorp nie,’ reken Boet terwyl hy haar agternakyk.