GROENHEIDE BOEKE

Kersfees in die Kaap

— Hoofstuk 1 —

‘Kyk, daar doer is Tafelberg,’ sê Lang Henning en hou sy perd in om beter te kan wys. Toe hy mooi kyk, kan Boet ook in die verte die plat poort na Afrika sien.

‘Regtig?’ vra hy, net om seker te maak.

‘Regtig. Nog ’n paar uur, dan is ons daar.’

‘Nog so lank? Sjoe, dan sien mens hom darem van ver af, nè?’

‘Ja, dis sommer ’n bielie van ’n berg daardie. Ek het gehoor dat hy vir skepe wat inkom al meer as ’n honderd myl oor die see sigbaar is.’

‘’n Stamboek berg,’ verwonder Boet hom. ‘Kan mens daar bo-op stap?’

‘Nadat jy opgeklim het, ja,’ sê Henning. ‘Ek het al, dis baie mooi om van daar bo af die wêreld te beskou.’

‘Dit sal ek graag wil sien.’

‘As jy dink jy kan hom klim.’

‘As jy kon, kan ek ook,’ verseker Boet hom.

 · · ·

Dis al ’n paar weke dat hulle uit Namakwaland weg is, deur die Hantam Clanwilliam toe en al langs die Sederberge by die Winterhoek verby tot in Tulbagh, daarna die Boland in na Wellington en die Paarl. Deur riviere en oor bergpasse het hulle gery, en aangedoen by die talryke plase langs die pad waar Henning die mense geken het, kuier-kuier tot hier waar die einde van hul lang reis in sig is.

‘Wanneer is Kersfees nou weer?’ vra Boet nadat hulle ’n ruk lank gery het.

‘Nog vier dae,’ antwoord Henning. ‘Dis vandag die twintigste Desember.’

‘Ek weet nie hoe jy tred hou met die datums nie. Jy’t mos nie ’n almanak nie, hoe weet jy dis die twintigste?’

‘Ek vra as ons by mense is.’

Die perde draf gemaklik op die gebaande pad en Boet raak al hoe meer opgewonde.

‘Is ons amper daar?’ vra hy vir die hoeveelste maal. ‘Is daardie nie ’n stuk van Tafelberg nie?’

‘Nee, dis die Tijgerberg, die Kaap is nog ’n uur of so ver.’

Die naam lei Boet se aandag vir ’n oomblik af van sy ongeduld en hy vra, ‘Tijgerberg? Is hier dan so baie tiers?’

‘Nee,’ verduidelik Henning, ‘dis oor die donker bossies wat so kol-kol op die koppe groei wat dit van ver af laat lyk soos die spikkels op ’n luiperd se vel. Kyk mooi, dan sal jy sien.’

Boet bekyk die kop aandagtig en sê dan, ‘Lyk vir my maar soos bossies, ek is seker jy’s verkeerd. Hier moet tiers wees.’

‘Ek sal nie stry nie,’ gee Henning toe, ‘maar dan moet jy ophou kerm of ons al daar is.’

‘Ek kerm nie,’ sê Boet verontwaardig en hulle ry aan sonder om verder te praat.

Boet verkyk hom aan die omgewing, so anders as die vaal Karooveld waaraan hy gewoond is. Alles is groen en die beeste wat in die lang gras wei is blinkvet. Hier en daar kom hulle verby opstalle wat spierwit gekalk is met swart rietdakke en party met gewels soos hy nog nooit gesien het nie. Mooiste van alles is vir hom die bome wat in hul somersgroen hoog bo die geboue uitgroei.

Boet vergeet dat hy besluit het om niks meer te sê nie en vra, ‘Watse bome is dit?’

Henning skrik op van waar hy in gedagtes versonke gesit het en kyk waarna Boet wys.

‘Dis akkerbome,’ antwoord hy. ‘Oubaas Van der Stel het omtrent die hele plek daarmee vol geplant.’

‘Wie?’

‘Iemand wat tweehonderd jaar terug goewerneur van die Kaap was. Het julle niks op skool geleer nie?’

‘Nie van sulke goed nie, net somme en lees en skryf. Wat is ’n goewerneur?’

‘Iemand wat vir almal sê wat hulle mag doen en nie mag doen nie. Die land se baas, kan jy maar sê.’

‘Soos koning Salomo en koning Dawid?’

Henning dink ’n oomblik na.

‘Nee, meer soos die rigters,’ sê hy. ‘Ons konings sit altyd oorsee in ander lande en om die waarheid te sê het ons ’n koningin.’

‘Regtig?’

‘Ja, ons baas is koningin Victoria. Sy bly in Engeland en die goewerneur hou hier ’n ogie oor sake vir haar.’

‘Wat is sy naam?’

‘Die goewerneur? Sir Henry Barkly.’

‘Ken jy hom?’

‘Ja,’ is al wat Henning antwoord en Boet kan sommer sien hy gaan nie meer uit hom kry nie. Hy kan nie help om te spot nie, ‘’n Neef van jou?’

Henning lag net en sê, ‘Kom ons gaan ’n bietjie vinniger. As ons eers in die stad is sal ons in elk geval net op ’n stappie kan ry, dan kan die perde afkoel.’

‘Hoekom net op ’n stappie?’

‘Jy sal sien.’

‘Is daar dan so baie mense?’

‘Jy sal sien,’ herhaal Henning en daarmee moet Boet tevrede wees.

 · · ·

Laatmiddag bereik hulle uiteindelik die stad. Terwyl hulle in Adderleystraat opry, Tafelberg se kant toe, verkyk Boet hom aan die hoë geboue en die groot winkels wat nie een ’n Algemene Handelaar is nie. Om hulle woel die verkeer en hy moet goed vashou om Duncan in toom te hou. Die perd is skrikkerig en gee elke keer ’n sysprongetjie as daar ’n rytuig te na aan hom verby ry. Een keer moet hulle stilhou sodat ’n klomp soldate kan verby marsjeer. Die aanvoerder kyk op na hulle en tot Boet se verbasing salueer hy in hul rigting. Henning raak liggies met twee voorvingers aan sy hoed.

‘Ken jy hom dan?’ vra hy.

‘’n Neef van my,’ antwoord Henning en, toe Boet hom ongelowig aankyk, ‘verlangs. Kom ons ry.’

‘Jy’t gesê ons gaan in ’n losieshuis bly, maar as jy familie het hier, hoekom gaan bly ons nie sommer daar nie?’ wil Boet weet.

‘Die soldatekwartiere is in die Kasteel,’ verduidelik Henning. ‘Hulle mag nie daar kuiermense hê nie.’

‘Maar ons kan gaan kyk, dan nie?’

‘Ja, ek sal jou gaan wys hoe lyk die Kasteel, solank jy net nie in die Donker Gat wegraak nie.’

‘Na wat jy my daarvan vertel het gaan ek nie eers naby die plek nie,’ verseker Boet hom. ‘Ek is seker dit spook daar dat dit ’n naarheid is.’

‘Ek sou dink dis nie uitgesluit nie,’ reken Henning.

Hulle ry tot by ’n dubbelverdiepinghuis agter in die stad. Dit is teen ’n skuinste gebou en ’n breë kliptrap voer na die groot donker voordeur. Die huis self is spierwit gekalk terwyl die vensters se hortjies ’n vrolike groen geverf is. ’n Swart ketting hang aan paaltjies weerskante van die trap om die huis van die straat af te baken.

‘Hier’s ons,’ sê Henning en hou stil voor die trap. Boet kan amper nie glo dat hierdie deftige huis ’n losieshuis is nie en gly stadig van sy perd af.

‘Ek het laat weet dat ons kom, ek hoop hulle het die boodskap gekry,’ sê Henning terwyl hy homself uit die saal lig. ‘Die stalle is agter die huis, kom ons vat die perde solank soontoe. Jou hond sal ook daar kan bly.’

Hulle lei die perde agterom en Henning word soos ’n ou bekende gegroet deur die stalkneg. Toe hy aan Boet voorgestel word, is hy vol bewondering vir Duncan en belowe om goed na hom te kyk.

‘Jy sal sien hoe blink so ’n geelperd as ek met hom klaar is,’ sê hy terwyl hy die teuels vat.

‘En my hond? Sal jy na my hond ook kyk?’ vra Boet.

‘Soos na my eie,’ beloof die ander, maar voeg by, ‘solank hy net nie byt nie.’

‘Dit sal hy nie,’ verseker Boet hom.

Terwyl hulle na die huis stap vra Boet, ‘Hoekom het hy jou Majoor genoem?’

Henning trek sy skouers op.

‘Hy dink seker dis my naam.’

Voordat Boet egter verder kan uitvra, is hulle binne en word begroet deur ’n deftige dame wat vir Henning blykbaar goed ken. Sy soen hom hartlik op albei wange en sê, ‘Mens, maar jy was lanklaas hier. Waar het jy orals rondgedwaal? En wie is jou vriend?’

Boet word voorgestel en skud verleë die mooi vrou se hand. Sy hou dit ’n oomblik langer as wat nodig is in altwee haar hande en kyk hom vorsend aan.

‘My wêreld, Henning, waar kom jy aan dié juweel?’ vra sy. ‘Gee hom ’n deeglike bad en ’n stel ordentlike klere en hy gaan die hartebreker van die seisoen wees.’

Henning lag vrolik.

‘Nou sien jy waarin jy jou begewe, Boet. Sê net, dan saal ons op en ry terug Karoo toe.’

‘Dit gaan ek beslis nie toelaat nie.’ Sy gee Boet se hand nog ’n ekstra drukkie en los hom dan. ‘Hy bly hier.’

‘Ja, ons bly,’ sê Boet, ‘maar ek wonder of Tannie — ’

‘Sonja. Almal noem my Sonja,’ help sy hom reg en hy gaan gehoorsaam voort, ‘Ek wonder of jy weet waar tant Susie Gous en Nelie kuier?’

‘Susie? Haar man is mos — nou ja, julle weet seker. Ja, hulle kuier by Sofia-hulle. Lieflike kind, die Nelie.’

‘Dis Boet se meisie,’ vertel Henning. ‘Hulle gaan trou.’

‘Ag nee, man, Henning — ’ keer Boet, maar Sonja het klaar gehoor.

‘Jy en Nelie? En wat van al die ander meisies?’

‘Dis wat ek ook elke dag vir hom sê.’ Henning klink heel selfvoldaan. ‘Mens moenie te gou besluit nie.’

‘Ja, maar mens moet darem ook nie jou hele lewe nie besluit nie,’ lag Sonja. ‘Wanneer word ek na jou troue genooi, Henning?’

‘Ja, toe,’ moedig Boet aan.

‘Eendag,’ sê Henning.

Sonja kyk vir Boet en knipoog.

‘Nog net so bang vir trou soos altyd,’ stel sy vas. ‘Alle moeders met hubare dogters is al wanhopig.’ Asof terloops voeg sy by, ‘Catherine de Jonghe is ook hier met haar stiefdogter. Pragtige meisie.’

Henning sê verbaas, ‘Ek het nie geweet Claes was voorheen getroud nie. Wat is haar naam?’

‘Victoria,’ antwoord Sonja. ‘Ek het haar nog maar net eenmaal gesien, dit lyk asof Catherine haar ’n bietjie eenkant hou van die gemeenskap. Dit sal tien teen een verander as sy weet jy’s in die dorp.’

‘Wie is hulle?’ vra Boet nuuskierig.

‘Hulle boer in die Kalahari, met volstruise,’ antwoord Henning en Sonja voeg by, ‘Die rykste man van hier tot by die Oranje. Sy dogter sal gesog wees onder die jongmanne.’

‘As ek jy is lê ek aan by haar,’ sê Boet, maar Henning antwoord met ’n suur gesig, ‘Ek hou nie van volstruise nie.’

‘Kom ek wys julle waar om af te pak,’ red Sonja hom uit die verleentheid en gaan hulle voor na die boonste verdieping waar ’n paar kamers se deure oopstaan. Boet verkyk hom aan hoe hulle ingerig is, so heel anders as die loseerkamers waaraan hy gewoond is. Dis alles kant en kussings en geplooide gordyne, terwyl die katels fyn uitgewerkte kopstukke het en bedek is met opgepofte donskomberse. Op die blink houtvloere lê los geknoopte matte en op die wastafels staan porselein waskomme en bekers met pragtig gekleurde blomme daarop geverf.

Henning lyk heel tuis en gooi sommer sy vuil saalsakke op die vloer neer.

‘Kom,’ sê Sonja vir Boet, ‘jou kamer is hier anderkant.’

Hy volg haar na ’n kleiner maar net so mooi kamer en druk met sy hand op die bed om te voel hoe sag die matras is. Sonja lag.

‘Dis nou wel nie ’n bulsak nie, maar ek hoop jy gaan nogtans lekker slaap,’ sê sy. ‘Sal jy regkom? Henning weet waar die eetkamer is, aandete is oor ’n halfuur. Jy lyk nogal asof jy ’n stewige bord kos sal kan gebruik,’ voeg sy by en Boet voel sommer tuis.