GROENHEIDE BOEKE

Lang Henning en die Toekomsmense

— Hoofstuk 1 —

‘Wat is die plek se naam?’ vra Boet terwyl hy sy voete uit die stiebeuels skop om gemakliker in die skommelende saal te sit. Dis al meer as ’n week vandat hulle uit Spooksekop weg is en Lang Henning het nou net gesê die volgende dorp is naby.

‘Nuwerus,’ antwoord Henning en voeg sommer by nog voordat Boet sy mond kan oopmaak, ‘Nee, ek weet nie of daar ’n Ou Rus ook is nie.’

Boet sê niks en in stilte ry hulle aan totdat hulle amper by die bome is wat Nuwerus omsoom. Dis ’n klein dorpie, so te sien, met huise wat langs reguit strate na die kerk met die kerkhoffie daar langsaan lei. Op die oewers van ’n breë rivier groei ook groot bome en Boet is op die punt om hardop te wonder oor die dorp se boomrykheid, toe sy perd skielik opsteier sodat hy die knop van die saalboom gryp en met alle mag moet vasklou om nie te val nie.

‘Goeie genugtig — !’ begin hy, maar die perd vlieg om en laat spat in die rigting waarvandaan hulle gekom het, Boet se hond stert-tussen-die-bene agterna. Van balans af sonder sy stiebeuels hou Boet vir al wat hy werd is, met die teuels wat nutteloos heen en weer swaai onder die perd se nek. En terwyl die geelperd hardloop asof die duiwel hom ja en hy teen wil en dank saamgevoer word, wonder Boet wat op aarde dit was wat hy gesien het net voordat sy perd die pad gevat het.

Lang Henning se perd het darem beter maniere en na ’n paniekbevange snork bly staan hy stil sodat sy ruiter met groot oë die gedaantes voor hom kan waarneem. Reg in die pad wat na die dorp voer, staan twee figure asof uit die niet verskyn. Die een oomblik was die pad nog leeg en die volgende oomblik was hulle daar.

Henning klim stadig van sy perd af om behoedsaam nader te stap en die twee te bekyk.

Een grote en een ’n bietjie kleiner, staan hulle elk op twee bene soos mense, en het arms en ’n kop, maar geen gesigte nie. Van bo tot onder blou en blink, met net die voorkante van die kop glansend swart soos ’n venster in die donker nag. In sy hele lewe het Henning nog nie sulke skepsels gesien nie.

Skielik steek hy vas. Die kleiner figuur het die hande na die kop gebring en lyk asof hy dit optel — dan sien Henning tot sy verligting dat dit ’n soort helm is en dat daar in werklikheid ’n kleinerige menskop op die skouers rus. Hy is naby genoeg om die groot donkerbruin oë te sien wat na hom staar, en die oulike wipneusie bo ’n mond wat lyk asof dit gemaak is om te lag maar wat nou in ’n verbaasde O vasgevang is. Na ’n paar sekondes sê dit wat vir Henning soos Sjoet! klink en hy reken dat die helder stemmetjie beslis dié van ’n mens is, van watter nasie ookal. Verlig tree hy digterby om kennis te maak.

Die ander persoon haal intussen ook sy helm af en Henning sien dat dit ’n ouer man is met ’n welige bos spierwit hare en ’n besonder groot neus. Ook hy bekyk Henning asof hy nog nooit ’n mens gesien het nie, maar meer aandagtig as verbaas.

Henning steek sy hand uit.

‘Goeiendag, mense,’ sê hy. ‘Ek weet nie of julle my verstaan nie, maar julle is baie welkom.’

Eers staan die twee doodstil, dan trek die man stadig sy handskoene uit en skud woordeloos Henning se hand. Met die groetery verby, sit Henning sy hand op sy bors en sê stadig, ‘Ek Henning,’ en kyk stip na die man se gesig om agter te kom of dié hom verstaan. ’n Ingehoue proes-lag trek sy aandag. Met ’n kamma ernstige gesig wys die meisie eers na haarself en toe na haar metgesel en sê sedig, ‘Ek Maisie, hom Prof.’

Gelukkig word Henning uit sy verleentheid gered deur Boet wat in volle vaart aangegalop kom en sy perd amper laat sit soos hy hom tot stilstand trek toe hy hulle bereik. Hy spring uit die saal en val amper om toe hy die meisie sien.

‘Grote genugtig!’ meen hy. ‘Wat is dit?’

Hoewel hy nou nie so sou sê nie, kan Henning nie anders as saamstem nie. Waar die meisie se hare behoort te wees, is ’n klomp gekleurde kort stekels wat kiertsregop op haar kop staan.

‘Dis blykbaar nig Meisie,’ sê hy egter beleefd, ‘en dis oom Prof, ek dink dit beteken dat hy ’n professor is. Mag ek julle voorstel, dis Boet.’

‘Jakobus Johannes Delport,’ verbeter Boet. ‘Aangename kennis.’ Hy waag dit egter nie om hand te skud nie, nie met iemand wat só lyk nie.

‘Ja sure, aangenaam,’ sê Maisie. ‘Maar wat is julle? Is dit ’n Ride for Africa hierdie, of ’n western movie set? Waar is die crew?’

Vir die eerste keer praat die professor en sy stem klink half-ongelowig en ook opgewonde.

‘Nee, my kind,’ sê hy, ‘ek dink nie dis ’n filmstel nie. Kyk ’n bietjie daar — ’ en hy wys in die rigting van die dorp. Maisie kyk en haar oë rek nog groter as wat hulle normaalweg is. Sy gee ’n tree in die dorp se rigting en draai dan terug na Henning.

‘Wat gaan aan? Waar is die labs?’

‘Die wat?’ vra Henning.

‘Die labs, man, die hele kaboedel, die kompleks!’

Henning skud sy kop.

‘Ek weet nie waarvan jy praat nie, Niggie. Dis Nuwerus daardie.’

‘Maar dit kan nie wees nie!’ roep Maisie ontsteld uit. ‘Nuwerus is ons TechnoCity, die labs en die — die — ’ Haperend hou sy op en gryp haar metgesel se arm.

‘Prof! Wat gaan aan? Waar is ons en wie is hierdie yokels?’

Die professor se oë blink agter die bril se lense.

‘Ek dink ons het dalk per abuis deur ’n kontinuum gegaan.’

Maisie sluk sigbaar voordat sy met ’n bewerige stemmetjie vra, ‘Jy meen — ’n wormhole?’

Die ander knik sy kop.

‘Presies. Iets het skeefgeloop.’ Hy draai na Henning. ‘Sê my, jongman, in watter jaar is ons?’

Uit die veld geslaan antwoord Henning, ‘Agtien-ses-en-sewentig, Oom. Hoe anders?’

‘Ek het so gedink, ja. Dankie. Sien jy wat ek bedoel, my kind, ons het nie net geskiedenis gemaak nie, ons is in die geskiedenis!’ Hy lag smaaklik oor sy grappie, maar hy is die enigste een wat dit snaaks vind.

‘O shoot!’ is al wat Maisie sê en sy gaan sit plat op die grond.

‘Wat sê sy?’ wil Boet by Henning weet, maar dié skud sy kop.

Asof hy dit self nog nie kan glo nie, sê die professor, ‘Ons kom uit die jaar twintig-tien, hoe dit gebeur het weet ek self nog nie. Ons, ek en Maisie, my assistent, is besig met uiters sensitiewe navorsing — ek het altyd vermoed soiets kan gebeur, maar noudat dit werklik het — dis ongelooflik! Ongelooflik!’ Ondanks die penarie waarin hulle duidelik verkeer, lyk hy besonder in sy skik.

Boet se goeie geaardheid het intussen die oorhand gekry oor sy verwarring en hy hurk by die huilende Maisie.

‘Toemaar, nig Meisie,’ troos hy, ‘ons sal ’n plan maak. Henning kan altyd ’n plan maak.’

Die hond het nou ook nadergekom en onderstreep Boet se woorde met ’n lang lek oor Maisie se gesig. Sy klap hom weg en gluur Boet met betraande oë aan.

‘Moenie vir my nig sê nie en my naam is Maisie, nie Meisie nie! En forget it, ek het nie julle planne nodig nie.’

Gekrenk staan Boet op.

‘Wat gaan aan met haar?’ vra hy in die algemeen en die professor antwoord, ‘Sy’s ontsteld, toemaar.’

Hy gaan na Maisie en trek haar aan haar hande op.

‘Kom, my kind, dis nie so erg nie. Geniet dit terwyl jy kan, dis ’n unieke geleentheid.’

‘Ja sure,’ sê sy skamper. ‘A day in the life of Ouma en Oupa. Shoot!’

Die professor klop haar afsydig op die rug en vra vir Henning, ‘Dit is Nuwerus daardie?’

‘Ja, Oom. Ons is juis op pad soontoe.’

‘Dan sal ek bly wees as ons julle mag vergesel. Ons is bekend met die dorp — hoewel in ’n ander tyd.’

‘Ek verstaan nog nie waar julle nou ewe skielik vandaan kom nie,’ sê Boet. ‘Oom het gesê uit twintig-tien, maar waar is dit?’

‘Die toekoms, Jakobus Johannes Delport,’ antwoord die professor. ‘As hierdie die negentiende eeu is, lê die twintigste eeu nog voor en daarna die een-en-twintigste en dis waar ons vandaan kom.’

‘Ek weet nie hoekom jy bother nie, Prof,’ sê Maisie snipperig. ‘Hy het nie ’n clue waarvan jy praat nie.’

‘Die nig is reg, Oom,’ sê Henning. ‘Dis nou te sê as wat sy gesê het beteken wat ek dink dit beteken,’ voeg hy nadenkend by. Die professor lag hartlik.

‘Miskien moet ons maar die verduidelikings laat wag tot later,’ reken hy. ‘Intussen wil ek uit hierdie pak kom, dis nogal warm moet ek sê so buite die lugversorging. Sal jy my asseblief help?’

‘Alte seker,’ antwoord Henning en sê vir Boet, ‘Help jy sommer die niggie.’

Maar daarmee is die niggie nie gediend nie.

‘Hou jou hande van my af!’ sis sy.

Boet probeer nie eers nie.

‘Nes jy wil, Nig,’ sê hy gelate en gaan sit onder ’n boom wat langs die pad staan.

Na ’n rukkie is die professor uit sy laboratoriumpak en hy help Maisie om hare uit te trek. Boet kan nie help om te kyk nie en toe sy in haar klere staan, sit hy sprakeloos. Al wat sy aan het is ’n kort broekie en ’n soort frokkie in helderpienk. Haar spierwit lang bene is kaal en sy trek selfs die sokkies uit wat tenminste nog haar voete bedek het. Met haar heldergroen hare en, dit sien hy nou ook, haar pikswart vinger- en toonnaels is sy ’n spektakel soos hy nog nooit gesien het nie. Ook Henning het sy bedenkings.

‘Ons sal vir die niggie moet klere kry voor ons dorp toe gaan,’ sê hy.

‘Vir wat?’ spoeg sy, maar die professor stem saam.

‘Jy kan nie so in die openbaar verskyn nie,’ sê hy, ‘nie in hierdie tyd nie.’ Self het hy darem ’n lang wit onderbroek en ’n geel frok met moue aan.

Maisie wil nog protesteer, dan berus sy.

‘Maar waar dink julle miskien moet ek klere kry? My wardrobe is in die een-en-twintigste eeu, ’n honderd vier-en-dertig jaar hiervandaan.’ Ondanks haar vyandigheid is daar trane in haar stem.

Henning kyk haar op en af en sê vir Boet, ‘Ek reken jou hemp sal al baie bedek as jy nie omgee om dit vir haar te leen nie. Ons kan agterom by die dorp ingaan, ek ken ’n tante daar wat ons sal help.’

Boet haal sy skoon hemp uit die bondel wat agter die saal op sy perd se rug vasgebind is en hou dit voor hom om die lengte te peil.

‘Dit behoort reg te wees,’ sê hy en gee dit vir Maisie. Sy trek ’n gesig, maar na ’n paar oomblikke is die hemp aan en bedek dit haar tot by haar knieë.

‘Nou tevrede?’ vra sy nors en die professor knik.

‘Heel effektief,’ verseker hy haar.

Henning beskou die twee se kaal voete.

‘Julle sal maar moet ry, want die sand is te warm en ekstra skoene het ons nie. Oom, klim op Boet se perd dan kan die niggie myne kry, hy is kalmer. Ons sal julle lei.’

‘Ek wil daardie een hê,’ sê Maisie en wys na Boet se geelperd.

‘Hy is nie baie betroubaar nie, Niggie,’ waarsku Henning. ‘Jy sal veiliger wees op myne.’

Maisie gee hom ’n vuil kyk en gryp die geelperd se teuels uit Boet se hand. Voordat iemand kan keer, wip sy in die saal en skop met haar kaal hakskene in die perd se ribbes. Verbouereerd spring die dier in die lug op en met die neerkomslag lê hy oop, al met die pad weg van die dorp af.

‘Jiehaaaa!’ kom die meisie se stem na die drie mans toe aangewaai.

Boet kyk haar sprakeloos agterna.

‘Ek sou julle kon gesê het,’ maak die professor verskoning. ‘Sy kan perdry.’

‘Ek sien so,’ merk Henning droogweg op.