GROENHEIDE BOEKE

Lang Henning en die Oujongnooi

— Hoofstuk 1 —

Die koers van die twee ruiters wat op ’n warm dag in die vroeë lente deur die wye Karoo ry gaan verby die Drie Susters wat oor Victoria-Wes troon, reguit noorde toe. Hulle reis is na die Gariep, die grens van die Kaapkolonie, waar stamgroepe Korannas en uitgeweke bandiete hulle tuisgemaak het op die eilande van die Grootrivier. Dis daar waar Lang Henning en Boet die geweer gaan soek wat Boet van sy vermoorde pa geërf het en wat deur ’n wapensmokkelaar van hom gesteel is.

Teen laatmiddag kom hulle verby ’n indraaipad na ’n plaas toe.

‘Koffiemansdrift,’ lees Boet die naambord en hy begin lag. ‘Dit kon maklik jou familieplaas gewees het, jy sal goed inpas soos jy darem kan koffie drink!’

Henning trek ’n gesig.

‘Kan nogal, nè,’ sê hy. ‘Net jammer dis Koffeman, nie Koffieman nie.’

‘Hoekom gaan ons nie hier aan nie? Dis al laat, ek is seker hulle sal ons slaapplek gee. En kos,’ sê hy verlangend. ‘Gekookte kos, nie biltong en beskuit nie.’

‘Hou tog op om alewig oor kos te kerm,’ sê Henning ongewoon skerp. ‘Nee, ons gaan nie hier aan nie. Ons gaan aanry tot by die dorp en daar slaap.’

Boet kyk verbaas op en Henning voeg by, ‘Ek is seker daar sal ’n losieshuis wees waar ons kan eet.’

In stilte ry hulle aan en ’n ruk later sien hulle ’n dorp aan die voet van ’n ry koppe lê. Die kerktoring blink in die laaste strale van die son en rondom is die wit huisies soos popspeelgoed versprei.

‘Dit lyk na ’n oulike plek,’ sê Lang Henning om Boet te laat vergeet van sy vroeëre afjak. Maar Boet is nog nie bereid om Henning te vergewe nie en hy antwoord nie.

So kom hulle in die dorp aan, net na sononder.

‘As ek reg onthou — ’ mompel Henning terwyl hulle in Kerkstraat afry, ‘hier iewers moet dit wees — ’

Hy draai by ’n systraat in en trek sy perd in voor die lang stoep van ’n gebou met baie deure.

‘Hier’s dit,’ sê hy tevrede.

Aan die dak van die stoep hang ’n bord wat verkondig dat dit die Grand Hotel is, gelisensieer én ge-licence om drank te verkoop.

‘Gits, ’n hotel,’ kan Boet nie help om hom te verwonder nie. ‘Hoe het jy geweet? Ken jy die plek?’

‘Ja, van ’n paar jaar terug,’ antwoord Henning. ‘Ek het iemand hier geken.’

‘Bly sy nog hier?’

Henning trek sy skouers op.

‘Hy. Ek weet nie, miskien al weggetrek. Kom ons gaan in.’

 · · ·

Die volgende dag is Sondag en toe die kerkklok lui besluit Henning om die diens te gaan bywoon. Hy en Boet trek hul skoonste klere aan en hoop maar die gemeente is nie te deftig nie. In die halfdonker kerk skuifel hulle by ’n agterste bank in en en wag op die sielevoedsel wat gaan kom.

Die dominee wat die kansel beklim is ’n ouerige man met grys hare en ’n toga wat goed gevul is. Hy begin preek en sy stem dreun deur die kerk soos hy die gekose Bybelteks aan die gemeente voorlê. Boet begin ongemaklik kriewel en toe Henning hom aanstoot om stil te sit, fluister hy, ‘Ek verstaan nie ’n woord wat hy sê nie.’

Henning byt op sy lippe, maar antwoord dan sag, ‘Dis Engels, het julle dit nie op die missie geleer nie?’

Boet skud sy kop. Op die sendingstasie waar hy grootgeword het is in ordentlike Hoog-Hollands gepreek.

‘Hoekom praat hy Engels?’ vra hy. Die oom wat langs hom op die bank sit, draai sy gesig na Boet en sê, ‘Ons predikant is ’n Skot. G’n mens kan verstaan wat hy preek nie.’ Sy stem klink bitter. Ander wat die gefluisterde gesprek gehoor het, kyk nou ook in hulle rigting. Dit dreig om ’n algemene konferensie te word.

‘Bly stil,’ sis Henning. ‘Toe, vat jou Bybel en lees. Dis wat al die ander mense doen.’

 · · ·

Na kerk nooi van die kerkgangers die twee reisigers vir koffie, ’n uitnodiging wat hulle dankbaar aanvaar. En dis toe daar, in die voorkamer van een van die diakens en sy vrou, dat hulle sommer die verhaal van Koffemansdrift hoor. Dis nou wel al amper ou nuus, maar dis darem ’n te lekker storie om onvertel te laat aan diegene wat dit nog nie ken nie. Op klein dorpies gebeur nie dikwels sulke opspraakwekkende goed nie en dan is daar nog ’n nuwe verwikkeling ook.

‘Ek sien die Koffemans is ook uit die rou,’ sê Cilliers, die diaken, kamma terloops toe daar ’n oomblik stilte in die gesprekke kom.

‘Koffemans? Hier buite is mos ’n plaas met daardie naam,’ sê Boet. ‘Ek dog ene dis Koffieman.’

Die diaken lag.

‘Ja, dis hulle, hulle word partykeer nogal gespot,’ gee hy toe. ‘Tog, dis goeie mense, almal respekteer hulle. Ons kan net nie help om te wonder wat nou van die plaas gaan word nie.’

‘Hoeso?’ vra Henning belangstellend.

En dis toe dat die verhaal van die testament uitkom. Cilliers sluit af met, ‘Jy sien, ou oom Matthys is mos so ses maande terug oorlede en die dogter weier om die plaas aan haar broer af te gee. Sy sê sy kan dalk nog die voorwaarde nakom en sy wil die jaar tyd hê om met ’n Koffeman te trou.’

‘Waar gaan sy dié vind?’ vra Boet nuuskierig.

Cilliers trek sy skouers op.

‘Dis wat ons ook almal wil weet en ses maande is hoeka al om. Maar sy is vasbeslote en Thysie moet wag. Hy is lelik omgekrap, dit kan ek jou wel sê. Hy reken die plaas is syne.’

‘En die tante?’ Die storie is vir Boet tog te interessant.

‘Nee, tant Hessie stem saam dat die dogter ’n kans moet kry. Dit was glo ook sy wat in die eerste plek gekeer het dat Klein-Thys uit en uit moet erf, so hoor ek maar,’ vertel Cilliers.

‘Watter was hulle, in die kerk?’ sê Boet. ‘Waar het hulle gesit?’

‘Heel voor,’ beduie Cilliers, ‘in die tweede ry by die middelpaadjie.’

Boet probeer die kerkgangers in die voorste banke voor sy geestesoog roep, maar dit luk nie en hy besluit om maar liewer sy aandag aan die koffie as aan die Koffemans te gee.

 · · ·

Toe hulle terugstap hotel toe val dit Boet ewe skielik op dat Lang Henning die hele tyd besonder stil was.

‘Voel jy siek?’ vra hy. ‘Te veel geëet?’

Henning skud sy kop.

‘Nee, maar ons gaan oppak en ry. Ek wil nie langer hier bly nie, dit mors net tyd.’

‘Op ’n Sondag?’ wil Boet verbaas weet. ‘Ek dog ons rus lekker uit en kuier nog ’n bietjie. Ek het gehou van die storie van daardie ou oom Koffieman, wat dink jy daarvan?’

‘Dit traak my nie,’ sê Henning stuurs. ‘Ek gaan nou ry en jy kan saamkom of agternakom, ek gee nie om nie.’

Boet trek sy winkbroue op, maar sê om vredesonthalwe niks. As Henning eers in so ’n bui is, is dit beter om maar te wag op beter dae, het hy ondervind. Hy wonder darem wat oor sy lang vriend se lewer geloop het.

By die hotel gaan hy gou om na die stalle toe om sy hond die tertjie te gee wat hy vir hom in sy sak gebêre het. Die hond is bly om hom te sien, maar nadat hy geëet het gaan lê hy weer ewe gedwee by Boet se perd.

‘Toemaar, my ou hond,’ troos Boet hom, ‘dit lyk my nie ons sal nog lank hier vertoef nie, dan is jy weer vry om te jag soos jy wil. Al hierdie hoenders is net ’n temptasie.’ En hy mik ’n skop na ’n werfhoender wat gulsig kom loer of daar nie krummels oorgebly het van die etery nie. Die hond kyk belangstellend toe, maar is te goed geleer om vir haar enige gevaar in te hou. Van die nes eiers wat hy vroeg-oggend gevind en opgeëet het hoef Boet nie te weet nie.

In sy kamer is Lang Henning besig om sy saalsakke te pak.

‘Ek het gedink om darem iemand te kry om ’n slag my wasgoed te was,’ mor Boet. ‘Al hierdie geuitspoelery in poele langs die pad kry dit nie juis skoon nie.’

‘Die volgende dorp,’ belowe Henning. ‘Nou is ek haastig.’

‘Ewe skielik,’ sê Boet. ‘En jy gaan my ook nie sê hoekom nie.’

‘Geen rede nie,’ verseker Henning hom. ‘Sommer net.’

’n Ruk later is alles gepak en Lang Henning gaan na die toonbank om vir hul verblyf te betaal. Boet loop solank en gaan wag op die stoep en dis daar dat hy die jongman sien wat hom ’n oomblik later in Henning vasloop toe dié uitkom. ’n Paar sekondes lank staar hulle mekaar aan, toe klink dit verstom, ‘Magtig, maar dis mos sowaar Henning Koffeman!’

Boet se oë rek.