GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk.php?teks=jaqago

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Lang Henning en die Sirkus

— Hoofstuk 1 —

‘Wat is dit wat daar anderkant lê?’ wonder Boet waar hy en Lang Henning lui-gemaklik die perde hul eie pad laat vind tussen die klippe in die wye veld van die Groot Karoo. ‘Kyk, dit beweeg.’

Henning hou sy hand bo sy oë om hulle te beskut teen die skerp somerson en sê, ‘As ek nie beter geweet het nie sou ek sê dis ’n tamaai stuk papier. Kom ons gaan kyk.’

Hulle spoor die perde aan tot ’n sukkeldraffie en nader die vreemde voorwerp. Boet se geelperd gaan al stadiger en steek ’n ent daarvan af vas terwyl hy snork van vrees. Skielik skep ’n onnutsige windjie die stuk papier en waai dit tot teenaan Duncan se bene. Hy spring in die lug op en draai terselfdertyd om sodat hy in die teenoorgestelde rigting kan rieme neerlê, weg van die duiwelsding af. Boet het outomaties vasgeknyp met sy bene om nie afgegooi te word nie en probeer met gerusstellende woorde die perd oorreed om stil te hou, maar verniet. Dis eers omtrent ’n myl verder dat hy uiteindelik tot bedaring kom en ophou galop. Kopskuddend klop Boet hom op sy nek.

‘Ek het nie geweet jy is so ’n bangbroek nie! Hoog tyd dat jy dinge gewoond raak,’ en hy draai die teensinnige perd om en ry terug na waar Henning klaar van sy perd gespring en die papier opgetel het.

‘En toe, wat is dit wat my stomme perd so aangeval het?’ vra Boet. Hy klim af, maar hou die teuels stewig in sy hand sodat Duncan nie kan losruk en die pad vat nie. Die perd se oë staan wild in sy kop en hy snork nog steeds ontsteld toe hy sien hoe Henning die papier vir Boet wys.

‘Dit is ’n advertensie vir ’n sirkus,’ sê Henning. ‘Kyk.’

Boet vat die papier by hom en steur hom nie aan Duncan wat probeer wegkom nie, behalwe om te sê, ‘Staan stil, jou sleg geelperd,’ ’n ou belediging wat hy van sy perd se vorige eienaars oorgeneem het en wat altyd werk.

Boet bestudeer aandagtig die kleurvolle plakkaat. Soos Henning gesê het, adverteer dit die koms van die “ GROOTSTE SIRKUS IN AFRIKA ” na die Karoo. Daar is prente van perde en wilde leeus en olifante en mense wat snaaks aangetrek is, met wit gesigte en rooi knopneuse, en meisies wat lyk asof hulle amper geen klere aan het nie. Onderaan is plek gelaat om te skryf en daar staan die datum waarop die volgende dorp besoek sal word.

‘Die hoeveelste is vandag?’ vra Boet en Henning antwoord, ‘Sestien Februarie.’

‘Dit sê hier dat die sirkus op agtien Februarie op Deurdrif gaan wees. Waar’s dit?’

‘So ’n halwe dag se ry hiervandaan. Wil jy gaan kyk?’

Boet se oë blink.

‘Ek sou so dink. Ek het nog nooit ’n leeu of ’n olifant gesien nie, jy?’

‘Ja, maar ek sal enige tyd weer. Ek het juis gedink om by Deurdrif aan te gaan, ek ken mense daar, dan kan ons sommer lekker kuier.’

Boet kyk vinnig op.

‘Een van jou neefs?’ vra hy wantrouig.

Henning trek ongeërg sy skouers op.

‘Vérlangs,’ gee hy toe.

‘En hy is in die moeilikheid en jy moet hom gaan help,’ sug Boet. ‘Hoekom het ek die storie van die sirkus geglo?’

‘Nee, maar ons gaan regtig sirkus toe,’ protesteer Henning. ‘Dis maar net toevallig dat ons in elk geval op pad is soontoe.’

Boet gee die papier terug sodat hy nie vir Duncan verder ontstel nie en styg op. Ook Henning klim weer in die saal en in stilte ry hulle aan. Na ’n tydjie vra Boet, ‘Wat is jou neef se probleem?’

’n Oomblik aarsel Henning, toe antwoord hy, ‘Ek sou jou nog gesê het sodat jy kan help. Hier in die Karoo is vals geld in omloop, krone, en niemand weet waarvandaan dit kom nie. Ek het gereken ons kan ’n bietjie rondsnuffel en kyk of ons nie iets kan uitvind nie. Wat dink jy?’

‘Het die sirkus iets daarmee te doen?’ vra Boet nog steeds agterdogtig, maar Henning skud sy kop.

‘Hierdie is die eerste wat ek van die sirkus hoor, ek het nie geweet hier is soiets nie,’ gee hy die versekering. ‘Hoekom?’

‘Nee, alles loop mos altyd so gerieflik saam, toe dog ek maar jy het klaar gehoor van die sirkus en dis hoekom ons hier is.’

‘Beslis nie, as dit wel met mekaar verband hou weet ek nie daarvan nie, ek belowe.’ Henning klink so opreg dat Boet hom moet glo.

 · · ·

Op Deurdrif word hulle hartlik verwelkom deur Soois Venter en sy vrou, Hettie. Soois is die dorp se polisieman en toe Boet dit hoor, wonder hy hardop hoekom hy nie verbaas is daaroor nie.

‘Weet hy van die geld?’ wil Soois by Henning weet en toe dié knik, sê hy, ‘Gaaf, dan hoef ek nie te verduidelik nie.’

‘Maar ek het gekom om die sirkus sien,’ help Boet hom reg en Soois lag.

‘Almal wil die sirkus sien,’ sê hy, ‘ons wag al agt maande dat dit hiernatoe kom.’

‘Hoekom so lank?’ vra Henning.

‘Dit het van Pretoria af en deur die hele Karoo getoer en ons is een van die laaste dorpe waar hulle kom vertonings gee,’ verduidelik Soois.

‘Hulle was nie op Verlatendal nie,’ sê Boet, ‘ons kom nou net daar vandaan.’

‘Dit sal seker volgende wees,’ reken Soois, ‘hulle gaan tot in die Kaap, so het ek gehoor.’

‘Nou ja, dan het ons gelukkig betyds gekom,’ sê Boet tevrede.

‘Ja, en hulle sal beslis by Beaufort ook aangaan’, sê Henning. ‘Dis die grootste dorp hier rond en sal baie toeskouers lok.’

Soois knik sy kop instemmend.

‘So ver ek weet het die mense orals waar hulle gekom het bankvas gestaan, hoewel die toegangskaartjies nogal duur is.’

‘Hoeveel?’ vra Henning.

‘Vyf sjielings vir grootmense en ’n halfkroon vir kinders,’ antwoord Soois, ‘dit staan op die plakkate.’

‘Ja, dit is eintlik baie,’ stem Henning saam, ‘ek sou dink die meeste mense hier is te arm om dit te kan betaal?’

‘Moontlik, maar ek is seker almal sal dit in die hande kan kry,’ antwoord Soois. ‘Jy sal sien dat daar oormôre nie nog plek vir ’n muis sal wees op daardie meent nie.’

Nou vra Henning wat Boet vaneffe by hom wou weet, ‘Dink jy die sirkus het iets te doen met die vals geld?’

‘Ek sal nie kan sê nie,’ antwoord die polisieman. ‘Dit is waar dat die geld gevind is in dorpe waar die sirkus was, maar om reguit beskuldigings te maak is onmoontlik. Mens moet getuienis hê.’

‘Natuurlik,’ begryp Henning, ‘en dit het jy nie.’

‘Nee. Dis hoekom ek gewonder het of jy dalk iets meer sou kon uitvind, sodat dit nie lyk na ’n amptelike ondersoek nie.’

‘Ek sal natuurlik graag help, maar ek kan niks belowe nie,’ antwoord Henning versigtig en Soois sê, ‘Dit verstaan ek, maar solank jy net probeer.’

‘Dit sal ek beslis,’ sê Henning.

 · · ·

Die volgende dag is die hele dorp op die been om die sirkus te verwelkom. Toe die ry waens, party getrek deur perde, party deur osse en een selfs deur ’n olifant, in sig kom, hardloop al wat kind is hulle tegemoet, terwyl die ouer mense nuuskierig langs die straat staan om die optog te aanskou.

Heel voor loop ’n ouerige man in ’n pragtige uniform, met ’n lang sweep in sy hand waarmee hy groetend waai. Agter hom kom die orkes, ’n groot drom en verskeie blaasinstrumente wat vrolike marsmusiek speel, en daarna volg die kunstenaars in uitlandse kostuums wat van die tantes laat bloos, so skraps is hulle. Dan die waens, helderkleurige woonwaens en plat gedoentes hoog gepak met planke en pale, waaraan die spanne osse swaar trek. Nie een trek egter soveel aandag soos die laaste wa nie. Getrek deur ’n regte olifant, is dit ’n groot hok met tralies, waarin die leeus uitgestrek lê. Dit lyk nie of die diere hulle juis steur aan die menigte mense nie, net een keer tel een sy kop op en gaap met ’n oop muil sodat almal terugdeins by die aanskoue van die yslike tande.

Ook Boet staan vasgenael na die stoet en kyk. Twee spierwit perde loop pronkerig verby en op elkeen se rug staan ’n jong meisie regop en wuif vir die toeskouers. Boet sug van bewondering. So iets moois het hy nog selde gesien.

Op die meent, ’n ent buite die dorp, kom almal tot stilstand en die man met die sweep hou ’n kort toesprakie om te vertel van die vertoning wat die volgende dag gehou sal word. Toe vra hy dat hulle verskoon word sodat hulle kan begin om die arena en die sitplekke reg te kry en stadigaan begin die dorpsmense terugkeer na hul daaglikse besigheid.

 · · ·

Net na aandete toe dit al sterk skemer begin word, piep die Venters se tuinhekkie en ’n klein gedaante kom stadig na die huis gestap. Die geselskap sit op die stoep en die mans staan op toe hulle sien die besoeker is vroulik. Huiwerig kom sy nader en eers toe sy by hulle is, herken Boet haar as een van die meisies wat die wit perde gery het in die sirkus-optog. ’n Oomblik is dit stil, toe sê Hettie Venter hartlik, ‘Kom sit, niggie. Soek jy iemand?’

Asof sy nie gehoor het nie, kyk die meisie na die drie mans en uiteindelik rus haar oë op Soois.

‘Polies?’ vra sy amper onhoorbaar.

‘Ja, ek is die polisie,’ antwoord Soois. ‘Het jy hulp nodig?’

‘Die arme kind is heel van haar wysie af,’ sê Hettie en vat haar aan die arm. ‘Kom sit, dan gooi ek vir jou koffie.’

Die meisie gaan sit kiertsregop op die puntjie van ’n stoel en haar hand bewe toe sy die koppie van Hettie aanvat.

‘Drink eers klaar, dan vertel jy ons wat makeer,’ sê Hettie vriendelik.

Gehoorsaam drink sy, sit die leë koppie in die piering en vee haar mond af terwyl Boet hom sit en verkyk aan haar. Sy wend haar na Soois en met ’n sterk aksent begin sy praat.

‘Ek is Natasja, ek is van cirque,’ sê sy. ‘Comprendre?’

‘Van die sirkus, ja,’ verstaan Soois.

‘Mon frère — ’ aarselend bly sy stil en Henning help, ‘Jou broer, ja?’

‘Oui, le broer et moi is werk de lion — ’

‘Jy en hy is leeutemmers,’ begryp Henning en die meisie gaan voort, ‘Nou mon frère, il est weg. Ka-zoem!’ en sy wys met haar hande hoe vreeslik weg haar broer is. Sy kyk reguit na Soois.

‘Vous polies soek hom, oui?’

Soois krap sy kop.

‘Ek kan navraag doen,’ sê hy onseker, ‘maar ek sal meer moet weet as net dat hy ka-zoem is.’

‘Ag nee, moenie die kind nou nog sit en spot nie,’ verwyt Hettie hom. ‘Sê vir haar jy sal hom gaan soek.’

‘Dis polisiesake, dis nie eintlik reg dat ons dit hier op die stoep sit en bespreek nie,’ sê Soois. ‘Ons sal na die kantoor moet gaan.’ Maar sy vrou wil nie daarvan hoor nie.

‘Dit sal jy nie doen nie,’ sê sy beslis. ‘Die stomme kind is klaar van stryk af, wat jy moet weet kan sy hier voor ons sê.’

‘Nou goed dan,’ berus Soois hom daarby en haal ’n notaboekie en potlood uit sy sak.

‘Jy sê jou naam is Natasja,’ hy skryf dit neer, ‘en jou van?’

Natasja kyk hom nie-begrypend aan en Henning vertaal, ‘Nom de famille?’

Sy skud haar kop.

‘Mademoiselle Natasja,’ en na ’n oomblik se aarseling sê Soois terwyl hy skryf, ‘Mejuffrou Natasja. Nou goed, wat is jou broer se naam?’

‘Nikolai Rostov,’ antwoord Natasja en Soois kyk verbaas op.

‘Ek dog julle is Frans,’ sê hy, ‘dis mos wat sy praat, dan nie Henning?’

Maar voordat Henning dit kan bevestig, sê Natasja, ‘Nie Frans, Rossija.’

‘Rusland? Julle is Russe?’ vra Henning stomgeslaan, en Natasja knik nadruklik haar kop.

‘Da!’ sê sy met ’n stralende glimlag.