GROENHEIDE BOEKE

Lang Henning en die Nuwejaarsvoël

— Hoofstuk 1 —

‘Man, jammer ek was so kripties toe ek aan jou geskryf het, maar dis ’n lang pad Beaufort toe en ek het nie geweet of jy nog daar naby is nie. Ek wou nie hê iemand anders moes die brief dalk kry en lees nie,’ sê Lang Henning se neef. Hy skink koffie sodat Henning en Boet die stof uit hul kele kan spoel na die lang rit wat hulle tot oor die Oranjerivier gevoer het.

‘Ja, ek moet sê ek het nogal gewonder wat bedoel jy,’ gee Henning toe. ‘Wie is die nuwejaarsvoël wat jou so pla?’

Die ander, wat aan Boet voorgestel is as Basjan Tredoux, skud sy kop.

‘Dis ’n snaakse storie,’ sê hy, ‘en ek moet toegee dat ek nie juis weet wat aangaan nie.’

’n Tyd terug, vertel Basjan, het daar ’n man in die distrik aangekom, ene George Atkinson. Hoewel hy gesê het dat hy uit Engeland kom, kon hy goed Afrikaans praat en was al gou vriende met die boere by wie hy rondgekuier het.

‘George Atkinson, sê jy? Hoe lyk hy?’ val Henning hom in die rede.

‘Nie meer jonk nie, taamlik groot, bokbaardjie, geil bakkebaarde — altyd baie netjies aangetrek in ’n swart pak. Hoekom?’

Henning en Boet kyk mekaar aan.

‘Abbot!’ sê altwee gelyk.

‘Ken julle hom dan?’ vra Basjan verbaas.

‘Ek dink so,’ antwoord Henning. ‘Dit klink baie na iemand met wie ons al voorheen te doen gehad het. Maar miskien is dit nie, gaan gerus aan.’

‘Wel, mettertyd het hy al hoe meer op oom Piet Groenewald se plaas rondgehang en toe eendag het hy op die dorp kom vertel dat daar goud is en dat oom Piet hom toestemming gegee het om dit te ontgin. Hy het gesê enigiemand wat wil kom grawe is welkom, en al wat hy vra is dat hulle die goud wat gevind word aan hom verkoop. Hy sal markprys betaal, het hy belowe. Hy het ook gesê dat die aanbod net vir ons geld, hy sal nie toelaat dat mense van ander delwerye hiernatoe kom nie.’

‘Het hy gesê hoe hy hulle gaan keer?’ vra Henning.

‘Nee, net dat hy by die goewerment gaan aansoek doen vir ’n geslote myn, wat dit ookal mag beteken.’

‘Aaa — !’ is Henning se kommentaar, en Basjan vertel verder.

‘Soos jy weet is ons boere, en van goud delf weet ons so min soos ’n kat van saffraan. Maar toe ons ons weer kom kry, het Atkinson ’n negosiewinkel begin met allerhande goed, jy weet, pikke en grawe, tot dinamiet selfs. Alles. En die mense koop. Jy moet sien hoe lyk daardie plaas al, skaars twee maande later. Mens breek behoorlik jou nek as jy daar na donker probeer loop soos die tentpenne ingeslaan is. Dit lyk asof die hele distrik se jongmans daar kom kamp het om naby hul kleims te wees.’

‘En vind hulle goud?’ wil Henning weet.

‘O ja, die goud is daar,’ antwoord Basjan. ‘My jonger broertjie het ook vir hom ’n kleim gaan afsteek en hy sê daar word elke dag sulke klonte rots vol goud gevind. Hy self het al ’n hele paar pond verdien, want dit moet mens toegee, Atkinson het woord gehou en hy betaal.’

‘Maar dan begryp ek nie eintlik hoekom jy sê daar is ’n probleem nie. Waar pas die nuwejaarsvoël in die prentjie?’

Basjan lag en verduidelik.

‘Ja, jy sien, ek wou nie name noem nie en omdat die man met sy swart pak en wit hemp my aan die bont nuwejaarsvoël laat dink het, noem ek hom toe so.’

Hy bly ’n oomblik stil en Henning is op die punt om iets te sê toe Basjan voortgaan.

‘Jy weet wat is ’n nuwejaarsvoël, nè?’

‘Ja, dis mos ’n soort koekoek wat sy eiers in ander voëls se neste lê.’

‘Juis. En dis presies wat ek dink hierdie Atkinson doen.’

‘Nou verstaan ek regtig nie,’ sê Henning. ‘Wat bedoel jy?’

‘Ek dink nie daar is goud op daardie plaas nie,’ antwoord Basjan. ‘Ek ken hierdie wêreld al my hele lewe lank en het nog nooit eers ’n stukkie piriet sien blink nie. Ek glo Atkinson lê sy eiers in die delwers se neste. Verstaan jy?’

‘Wil jy my sê jy verdink hom daarvan dat hy die kleims sout?’

‘Presies,’ beaam Basjan. ‘Ek is seker hy sit self die goud in die kleims en koop dit dan weer op sodat hy altyd genoeg het om die storie aan die gang te hou.’

‘Maar as hy sy eie goud koop, wat kry hy daaruit? As dit inderdaad Abbot is, sal hy dit nie vir liefdadigheid doen nie, hy’s ’n opperste skelm wat altyd daarop uit is om mense te verneuk.’

‘Ek het jou nog nie alles vertel nie,’ sê Basjan. ‘Hy is besig om ’n hele dorp op die plaas te bou met die winkel saam en selfs ’n yslike hotel-kroeg. Mense bly nou nog in tente, maar ’n paar het al begin om kamers te bou van materiaal wat hy by die wavragvol aanry na sy skuur en daar verkoop. Dit lyk asof hy ’n tweede Kimberley wil vestig.’

‘En as hy die enigste winkel besit, is dit ’n groter goudmyn as ’n goudmyn self,’ begryp Henning. ‘Ja, ek moet sê, dit begin al hoe meer na onse vriend Abbot klink, dorpe van sy eie is ’n ou laai van hom.’

‘Maar is dit onwettig wat hy doen?’ vra Boet. ‘As hy die goud koop, kan hy mos daarmee maak wat hy wil, dan nie?’

‘Dis nog steeds bedrog,’ sê Henning. ‘En in elk geval, as dit Abbot is, kan jy maar seker weet dat hy die een of ander tyd met die mense se geld gaan verdwyn en dis onwettig.’

‘Wat gaan ons doen?’

‘Basjan gaan vir ons ’n kleim afsteek,’ sê Henning, en daar is meer as net ’n sweem van selfvergenoegdheid in sy stem.

 · · ·

Saam met Basjan ry hulle later na die goudmyn toe en hoor al van ver af die geraas wat gewoonlik met so ’n bedrywigheid gepaardgaan. Die pikke kap en die emmers ratel en bo dit alles uit klink ’n geroesemoes van stemme wat sing, skel en bevele gee.

‘Aarde, maar dit lyk of die hele dorp hier besig is!’ sê Henning en Basjan antwoord, ‘Dis omtrent waar, en al dié wat op die plase gespaar kon word.’

‘Hoeveel sou jy sê altesaam?’

‘Laas toe ek getel het, was dit een-en-vyftig kleims, maar ek dink daar het alweer bygekom.’

‘Maar ek dog hy laat niemand van buite af toe nie?’

‘Dis wat hy gesê het, maar blykbaar maak hy ’n uitsondering vir familie en goeie vriende, solank hulle net nie professionele delwers is nie.’

‘Dit strook natuurlik met jou teorie,’ sê Henning, ‘want dié sou te maklik agterkom as hier iets ongerymds aan die gang was.’

‘Presies,’ beaam Basjan. ‘Wel, hier is ons.’

Hulle het by ’n groot skuur aangekom wat omskep is in ’n handelspos. Orals staan koopware sommer buite en mense karwei planke en ander stukke boumateriaal met kruiwaens weg. Eenkant is ’n deur waarbo met wit verf Kantoor geskryf is en dis daarheen dat Basjan mik. Hulle klim af van die perde en stap in sonder om te klop.

In die kantoor sit ’n man by ’n lessenaar, amper verberg deur hoog opgestapelde bondels papiere. Hy is besig om te skryf en kyk nie op toe hulle inkom nie. Henning maak van die geleentheid gebruik om te sien wat daar te siene is.

Dis ’n groterige kamer met net een venstertjie en op die lessenaar staan ’n brandende olielamp om die papiere te verlig. Langs die een muur staan ’n groot kas met toe deure en Henning merk op dat daar geen sleutel in die slot steek nie. Hy wonder wat daarin gehou word en besluit terstond om uit te vind.

Dan is daar ’n brandkas, ook toe, en verder ’n paar oop rakke waarop skryfboeke gepak is. Slegs ’n dun lagie stof is hier en daar sigbaar, wat daarop dui dat die bedrywighede nog nie te lank aan die gang is nie, anders sou dit sweerlik dikker gelê het met al die gegrawery rondom.

Basjan kug om die man se aandag te trek. Sonder om op te hou skryf, beduie hy met sy ander hand dat hulle geduldig moet wees, maar toe Boet se hond ’n fyn tjankie gee by die kas waaraan hy gaan snuffel het, tel hy vervaard sy kop op.

‘Wie se hond is dit? Kry hom hier uit!’ roep hy amper paniekbevange, en skop sy stoel om in sy haas om regop te kom. Boet fluit sy hond terug sodat hy by hom kom sit, maar hiermee is die klerk nie tevrede nie.

‘Uit!’ roep hy van agter die vesting van papiere. ‘Hier word geen honde toegelaat nie!’

‘Hy sal nêrens gaan nie,’ sê Boet, maar die klerk dring daarop aan dat Boet sy hond uit die kantoor vat en buite gaan staan en wag.

‘En moenie hom ooit weer saambring hiernatoe nie. Geen honde by die myn nie!’ Die klerk wend hom na die ander twee mans en sy houding verander onmiddellik. Hy kom vinnig agter sy lessenaar vandaan.

‘Sebastian!’ koer hy en steek sy hand uit in groet. ‘Hoe gaaf om jou weer te sien. Stel my voor aan jou vriend?’

Lang Henning vat die uitgestrekte hand nog voor Basjan kan reageer en skud dit.

‘My naam is Henning,’ sê hy en die ander antwoord, ‘Aangename kennis. Ek is Theodore van Graan, maar noem my maar sommer Theo.’

Henning merk op dat hy met ’n effense aksent praat, maar kan dit nie plaas nie.

‘Nou reg, Theo,’ sê hy, ‘ek hoor hier is goud en Basjan het gesê ek kan maar kom uithaal.’

Theo glimlag fyntjies.

‘Nou nie net vir uithaal nie, hoor,’ wys hy Henning tereg. ‘Ons het streng vereistes. Sebastian sal jou kan sê — ’

‘Ag man, Doors, hou op redekawel,’ val Basjan hom in die rede. ‘Henning is ’n neef van my en Boet is ons albei se vriend en dis die reël. Familie en vriende.’

‘Ja, dit is so,’ gee Theodore toe, ‘maar ek sal meer gegewens moet hê voor ek jou ’n permit kan gee. Mister Atkinson is baie gesteld daarop dat alles gereguleer is.’

Hy gaan sit weer en haal ’n stuk papier uit, doop sy pen in die inkpot en maak reg om te skryf.

‘Naam?’ vra hy.

‘Henning,’ antwoord Henning. Theodore kyk op en sy stem is ongeduldig toe hy sê, ‘Volle naam, asseblief.’

Basjan knik belangstellend sy kop.

‘Ja toe,’ sê hy, maar Henning antwoord, ‘Net Henning.’

Theodore sug teatraal.

‘Een van daardie! Nou ja, aangesien Sebastian as jou neef vir jou sal moet instaan, gaan ek maar skryf Henning Tredoux. Reg so?’

‘Ek het geen beswaar nie,’ sê Basjan en Henning knik sy kop.

‘Reg vir my,’ beaam hy.

‘Wat van die outjie met die hond? Wil hy ook kom delf?’

‘Ek reken so,’ antwoord Henning.

‘Naam?’ wil Theodore weet. ‘Ek neem aan hy het een?’

‘O ja,’ verseker Henning hom. ‘Jakobus Johannes Delport.’

Theodore skryf dit neer en kyk op.

‘Maar die hond bly weg,’ sê hy. ‘Mister Atkinson het uitdruklik beveel dat hier geen honde mag wees nie.’

‘Hoekom nie?’ wil Henning weet.

Vir ’n oomblik aarsel Theodore, toe word die verleiding blykbaar te sterk en hy wink vir Henning nader. Henning buig vooroor na hom toe en Theodore fluister, ‘Dis oor die bene.’