GROENHEIDE BOEKE

http://groenheide.co.za/hoofstuk.php?teks=hfnwmy

Gekopieregte materiaal – Slegs vir persoonlike of opvoedkundige gebruik.

Chrissie se Ramlam

— Hoofstuk 1 —

Chrissie kyk weer na die skaap wat van die wa afgelaai word en kan sommer sien dit is nie Rammetjie-uitnek nie. Sy stap nader en sê vir die seun wat die skaap aan sy ore na die kampie toe lei, ‘Julle het die verkeerde skaap gebring, Pieter, dis nie Raml— ’ sy keer haarself net betyds, want hulle gaan net lag oor haar eie naampie vir die yslike groot ram en dit kom uit as, ‘ —letjie-uitnek hierdie nie.’

Pieter se oë blink donker in sy bruingebrande gesig.

‘Verskoon my groot, mejuffrou Marais, maar jy maak ’n fout. Wat sy naam ook al is, dis die ram wat ek ’n week terug hier kom haal het. Maar ek neem jou glad nie kwalik nie, hoor, want wat weet ’n jongedame nou van skape.’

Chrissie vererg haar bloedig vir die spot in sy stem.

‘Moenie vir my kom sê ek weet nie hoe lyk die ram wat ek elke dag na kyk nie,’ spoeg sy behoorlik die woorde uit. ‘Dis eerder jy wat onnosel is!’

Pieter bars uit van die lag.

‘Haai, Fanus,’ roep hy die ander seun nader, ‘nig Christina sê dis die verkeerde skaap. Wat sê jy?’

Fanus trek sy skouers op.

‘Sit die ding in sy kamp dat ons ry,’ is al wat hy sê en vat die een perd se toom vas om solank die wa om te draai.

‘Wag!’ probeer Chrissie nog, maar Pieter maak die kampie se hek toe agter die ram en spring op die wa waar die ander seun reeds sit. In ’n verstikkende stofwolk spring die perde weg en Chrissie hoor net Pieter se gejoel bo die geklap van die perdepote uit. Sy tel ’n klip op en gooi so hard as wat sy kan, maar dit plof ver agter die wa in die pad. Vies draai sy om en gaan leun op die hek om die ram aandagtig te bekyk. Sy groot bruin oë staar haar uitdrukkingloos aan en hy maak sy bek oop sodat sy dik tong wys.

‘Bèèèè!’ blêr hy.

‘Bè jouself,’ sê Chrissie. ‘Jy’s nie my Ramlam nie, bly stil!’

Sy is heeltemal seker daarvan. Dis ’n skaap van dieselfde soort as die stoetram, maar dis so ver soos dit gaan. Sy wonder wat sy moet maak en raak al hoe bekommerder.

Rammetjie-uitnek behoort aan niemand en aan almal, hy is ’n kampioen-ram wat die dorp ’n tydjie terug van oorsee af present gekry het. Chrissie se pa is stadsklerk en die ram word by hulle huis aangehou, waarvandaan hy van die een plaas na die ander gekarwei word om sy werk by die ooie te doen. Tussenin vertroetel Chrissie hom soos die hanslam wat hy dink hy is.

Chrissie wens haar pa is by die huis, maar hy moet die aand by ’n vergadering op ’n buurdorp wees, vier ure te perd weg, en hy het reeds gery. Hy bly sommer daar oor en kom eers môre-oggend terug, want Chrissie is mos groot genoeg om na haarself te kyk. Sy is darem al twaalf.

Die skaap kyk nog steeds stip na haar, en hy lyk nes Pieter, besef sy skielik. Sy word sommer weer kwaad as sy aan hom dink. Sy ken hom goed, alhoewel hy heelwat ouer is as sy, minstens agtien, en sy hou net niks van hom nie. Eintlik weet sy self nie hoekom nie, want almal in die dorp praat altyd oor hoe ’n mooi en slim seun hy is, en die meisies is mal oor hom.

‘Gaan vaar, Pieter Tredoux!’ sê sy hardop. Die groot hond wat by haar kom sit het, swiep sy stert heen en weer deur die stof en sy tong hang ver uit sy bek soos hy lag sodat sy nie kan help om ook te lag nie.

‘Ag ja toe, Boel, wat sal ek my nou kwel oor die simpel seunskind,’ en Chrissie stap na die skuur om die skaap se voer te gaan haal.

 · · ·

Die volgende oggend toe Chrissie by die kampie kom, is die ram weg. Die hekkie staan wyd oop en van die skaap is daar geen spoor nie.

‘Hy het seker maar gaan rondloop,’ sê sy vir haarself, ‘ek het altemit nie die hekkie goed toegemaak nie.’

Maar sy weet sy het, want dis ’n vaste gewoonte en geen skaap sal self die draad kan loswoel nie. Tog, hy moes op die een of ander manier uitgekom het, want steel sal niemand hom tog nie? Mense hoef mos net te vra dan leen hulle hom, dus is daar geen rede om hom te wil steel nie.

Chrissie fluit vir Boel en saam begin hulle soek. Sy probeer die hond te kry dat hy spoorsny, maar Boel dink dis ’n oulike speletjie toe sy na die grond wys en sê, ‘Soek!’ en hy blaf en hardloop rond, stert in die wind.

‘Ag, jy!’ Chrissie kan nie help om te lag vir sy manewales nie. Maar dan word sy weer ernstig en begin die werf fynkam, alle hoekies waar die ram kon gaan lê en slaap het en die skuur waar die voer staan. Nêrens is daar egter die welkome gesig van ’n rustig herkouende woldraer nie.

Chrissie besef maar alte goed dat sy diep in die moeilikheid is. Dit gaan min verskil maak dat dit nie die regte skaap was nie, want wie gaan haar glo? Die Tredoux-seuns gaan net sê hulle het die ram afgelewer waar sy by was en almal gaan dink sy jok omdat sy hom laat wegraak het. Soek-soek loop sy ’n ent die veld agter die huis in en eenkeer hardloop sy opgewonde na ’n kant toe waar sy ’n geblêr hoor, net om ’n heel ander skaap te vind wat van sy tropmaats afgedwaal het. Teleurgesteld draai sy weg en stap verder, met Boel agterna.

Na ’n lang en vrugtelose soektog loop Chrissie sleepvoet huis toe om vir haar pa te wag.