GROENHEIDE BOEKE

Boet-Alleen

— Hoofstuk 1 —

‘Die moeilikheid met jou,’ praat Boet met sy perd wat hy besig is om te roskam, ‘is dat mense jou op ’n myl afstand kan eien. Bruin perde is so te sê onsigbaar. Selfs vosse kan nog gaan, maar so geel soos wat jy darem is sê almal onmiddellik, kyk, daar ry Jakobus Delport op Duncan. Hoe dink jy moet ons ongesiens by Beaufort kom as jy so lyk? Hè?’

Die perd antwoord deur sy kop te draai en Boet ’n geniepsige hap in sy ribbes te gee.

‘Eina! Jou derduiwel!’ roep Boet, maar lag terwyl hy die roskam optel wat hy laat val het en vervolg dan, ‘Toemaar, ek was nie ernstig nie. Ek sal jou nie ruil vir enige ander perd in die hele land nie. Jy’s stamboek!’

Toe hy reken die perd is nou blink genoeg om die reis te kan aanpak, gooi Boet die saal op sy rug en trek die buikgord vas. Hy lei hom na die kombuisdeur waar binne op die tafel sy saalsakke gereed lê, gevul met kos en soveel lekkernye as wat Elsabe en Tant Helena Siebrits daar kon inprop.

‘Is jy op pad?’ vra Elsabe.

‘Perd is blink en fiks en opgesaal,’ antwoord Boet. ‘Ek wil net gou nog vir Henning gaan groet.’

Hy stap alleen na die kamer waar Henning plat op sy rug in die bed lê, nog pap van die skietwond wat hy opgedoen het en die swaar koors daarna. Henning hoor hom kom en probeer homself effens orent rig.

‘Bly lê nou maar,’ maan Boet hom. ‘Ek het net kom groet.’

‘Jy’s so erg soos daardie twee vroumense,’ kla Henning. ‘Hoe dink julle moet ek beter word as ek elke keer teruggedruk word op die bed?’

Boet gaan sit op ’n stoel by die bed en betrag die sieke aandagtig. Hy lyk effens beter, reken hy, nie meer so op die randjie van die dood as wat hy die eerste tyd was nie. Hy sou nog gebly het, maar Henning het besluit dat hy genoeg oppassers het en dat Boet so gou as moontlik Beaufort toe moet ry om die dokumente wat hy in die skaapdiewe se brandkas gevind het, vir die magistraat daar te gaan gee.

‘Kimberley is natuurlik die aangewese plek,’ het hy gesê, ‘maar ek dink nie dis gerade vir jou om nou in daardie geweste jou gesig te wys nie.’

Jan en Oom Pieter Siebrits het saamgestem en hoewel Boet geprotesteer het dat hy nie bang is nie, moes hy toegee dat Beaufort se magistraat ’n beter opsie is.

‘Daar weet ek in elk geval waar om te gaan, maar in Kimberley sou ek moes soek,’ het hy gesê, ‘en wie weet waar ek dan sou uitkom.’

‘Jy moet soet jou medisyne drink en jou pappies eet,’ korswel hy nou, ‘onthou Tannie Helena weet die beste.’

‘Om nie te praat van Elsabe nie,’ brom Henning. ‘Soos daardie meisiekind darem ’n mens kan oppiep is erg.’

‘Ag nee man Henning,’ sê Boet ontsteld, ‘kan jy dan selfs op jou sterfbed nie die meisies uitlos nie! Het jy vergeet sy is Jan s’n?’

‘Gaan sê dit vir haar,’ verdedig Henning homself. ‘Ek maak niks, ek lê net. As dit van my afhang het ek nou saam met jou gery, maar ek sweer hulle sal my hier vasbind as ek sou waag om eers daaraan te dink.’

‘Moenie mal wees nie,’ skrik Boet. ‘Jy bly hier lê en as ek terugkom sal ek jou help om op te staan.’

‘Dankie, ek waardeer dit,’ sê Henning gelate en sak terug in die kussings. Hy maak moeg sy oë toe en waai sy een hand. ‘Toe, kry jou ry.’

 · · ·

Jan het vir Boet presies beduie hoe om by die naaste poshalte uit te kom en Henning het hom aangesê om van daar af die pad na die suide te volg.

‘Daar is duidelike spore waar die poskoetse ry,’ het hy gesê. ‘Bly daarop en moenie probeer slim wees en kortpad soek nie.’

Boet het belowe en later knorrig geword toe Henning daarop aandring dat hy die roete ’n paar keer herhaal.

‘Ek sal nie verdwaal nie,’ het hy gesê. ‘Hou op om te maak asof ek onnosel is.’

‘Nou goed, ek sal,’ het Henning geantwoord, ‘maar hou net kop.’

Duncan is vars uitgerus en sit oor in ’n gemaklike kortgalop toe Boet hom die teuels gee. Dit is twee dae se ry tot by die poshalte en hoewel hy so gou as moontlik daar wil uitkom moet Boet noodgewonge kort voor donker stilhou omdat hy nie meer die bakens wat hy moet volg kan sien nie. Hy saal die perd af en kniehalter hom en toe hy begin om ’n vuurtjie aan te pak kom lê die hond hygend by hom, moeg van die dag se draf agter die perd aan.

‘Het jy darem al geëet?’ vra Boet. ‘Seker nie, want daar was nie juis tyd om te jag nie. Jy sal maar met my moet deel.’

Hy is bly oor die hond se teenwoordigheid, want hy voel nie alte gerus so stoksiel-alleen in die oop veld nie. Na die gebeure van die afgelope tyd vertrou hy glad nie die donker nag nie en skrik op elke keer as hy iets hoor voordat hy dit eien as een van die gewone naggeluide waaraan hy gewoond is. Hy haas hom om ’n keteltjie koffie te kook en skop dan die kole toe sodat die gloed hom nie verraai aan moontlike swerwende boewe nie. Met gedempte stem gesels hy met die hond, maar dié raak al gou dikgevreet aan die slaap en Boet besluit teensinnig om dieselfde te doen. Met een van die Mausers wat hulle by die skaapdiewe buitgemaak het langs hom val hy in ’n droomlose slaap.

 · · ·

In ’n plaashuis net buite Kimberley slaan ’n groot fris man so hard met sy vuis op die tafel dat die bekers wat daarop staan rinkel en dreig om om te val.

‘En jy waag om my dit te kom vertel?’ bulder hy. ‘Waarvoor dink jy betaal ek julle?’

Die man aan die oorkant van die tafel krimp inmekaar voor die woedebui en kan geen woorde vind om homself daarteen te verdedig nie. Die ander gluur hom aan en toe sy vraag nie beantwoord word nie, gooi hy sy hande in die lug op.

‘Nikswerd misbaksels, dis wat julle is. Ek moes geweet het julle gaan een of ander tyd opmors.’ Hy dwing homself met moeite tot kalmte. ‘Vertel presies wat gebeur het en bewaar jou siel as jy lieg.’

‘Ons het nie geweet nie, ek sweer, al een wat geweet het wie hy was is Oompie Sys. Dis alles sy skuld.’ Die hele storie van hoe Jakob by hulle aangesluit het en hom voorgedoen het as een van hulle en dat hy selfs hier in Kimberley was word met smaak vertel en afgesluit met, ‘ — en toe het hy vir Dail met ’n mes doodgesteek en sy perd het reggestaan, toe kom hy weg. Ons wou agterna, maar die vreksel het ons perde op hol gejaag en toe kon ons nie. Ek het nog op hom geskiet en ek reken ek het hom geraak ook, maar hy het ewe ontsnap.’

‘En die brandkas?’

‘Die was nog gesluit nes hy altyd was.’

‘Waar’s die sleutels?’

Die ander se gesig verbleek en hy stotter, ‘Ek weet nie.’

‘Het julle gesoek?’

‘Nee, maar Dail het hulle altyd by hom gedra.’

‘Is hulle dus saam met hom begrawe? Ek neem aan julle het hom begrawe?’

Die sarkasme in die stem gaan nie by die ander verby nie en na ’n kort aarseling sê hy sag, ‘Die sleutels was nie daar nie.’

Die groot man vloek en bly ’n rukkie stil om na te dink. Toe sê hy, ‘Nou goed, hier is wat jy doen — ’ Hy gee noukeurige instruksies, waarna hy byvoeg, ‘ — en stuur vir Sys en ’n paar ander om hom te gaan soek. Sys is ’n sleg bliksem, maar hy weet die beste hoe hy lyk. Hy sal op pad Beaufort toe wees want Kimberley is te warm vir hom. Hulle moet enige papiere wat hy by hom het terugkry en vir my bring.’

‘Moet hulle hom doodmaak?’

Die groot man skud sy kop.

‘Nee, dit sal die gereg vir ons doen. Ek bly daar uit.’

‘Die manne sal vir Dail wil wreek en hy sal ook vir ons kan uitken,’ weifel die ander.

Die groot man sit sy hande plat op die tafel en sê dreigend, ‘Maak soos ek sê. Sorg jy dat jy in Kimberley kom en dat ek daardie papiere terugkry.’

Hy staan in sy volle lengte op en loop sonder om die ander nog met ’n blik te verwerdig by hom verby die deur uit. Die ander staan nog ’n oomblik by die tafel en kyk hom met swart oë vol haat agterna, toe draai hy om en stap na buite.

 · · ·

Boet is al verby ’n hele paar poshaltes toe hy die ruiters skuins van agter af na hom toe sien aankom en hoewel hy reken Duncan is vinnig genoeg om van hulle af weg te jaag, sien hy die geweerlope blink en weet dat ’n koeël vinniger is as enige perd. Hy twyfel nie daaraan wie die vier mans is nie. Hulle soek sy bloed en sal geen genade betoon nie. Paniekbevange kyk hy rond en sy oog val op ’n klomp rotse wat darem ’n bietjie skuiling sal kan bied. Hy dwing sy perd soontoe en spring vinnig af net toe die eerste skoot klap. Met die geweer in sy hand koes hy agter die grootste rots in en fluit die hond terug wat blaffend die aanvallers tegemoet storm.

‘Vandag dood ek en jy hier, hond, maar ons sal darem een van hulle kan saamvat,’ sê hy terwyl hy stelling inneem. Hardop roep hy, ‘Staan of ek skiet!’

Die ruiters trek hul perde ’n ent van hom af in en klim haastig af, geweers in die hand.

‘Ons het jou, Jakob,’ roep ’n stem wat Boet herken as Oompie Sys s’n. ‘Gee jou oor.’

‘Nee,’ antwoord Boet. ‘Ek het ’n handvol koeëls, genoeg om julle almal bokveld toe te stuur as julle nie padgee nie.’

‘Jy bluf,’ roep iemand anders. ‘Jy kan nie so vinnig laai nie.’

‘Wil jy probeer?’ vra Boet. ‘Kom gerus, dan wys ek jou!’

Die vier staan besluiteloos en met ’n geprewelde, ‘Hoop dit werk, Henning,’ skiet Boet sy enigste skoot af in hulle rigting. Terwyl die mans vervaard wegspring en platval hoor hulle hoe Boet sy geweer knak en besluit dat veiligheid beter is as heldemoed. ’n Rukkie is net die sonbesies hoorbaar terwyl elkeen die situasie vir homself opsom, tot ewe skielik Oompie Sys se stem dringend klink, ‘Daar hardloop sy perd! Keer hom manne, die goed sal daar wees!’

Die vier spring op van agter hul skuilings en gryp hul perde se teuels. Sonder ’n enkele koeël by hom moet Boet hulpeloos toesien hoe hulle agter Duncan aanjaag en hom ’n ent verderop voorkeer. Een klim af en ondersoek die saalsakke, toe vat hulle die geelperd se teuels en lei hom weg, saam met hulle.

‘Dis ’n stamboek gemors,’ sê Boet verslae. ‘Wat nou, hond? Geen kos, geen geld, geen papiere, geen perd en ver van die huis af met ’n leë geweer — ’

Die hond reik op en lek hom deur die gesig met sy lang tong, staan dan oopbek vir hom en kyk, al asof hy lag.

‘Jy’s reg,’ sê Boet, ‘dit kon erger gewees het. Ek leef nog en het boonop vir jou.’

Hy streel die hond se kop en volg met sy vinger die opgehewe litteken waar Dail hom gesny het.

‘Ons gaan aan,’ sê hy vasberade. ‘Ons kan nie dat Dail wen nie.’