GROENHEIDE BOEKE

Lang Henning en die Poskoetsrowers

— Hoofstuk 1 —

Die pad noorde toe lê vaag en ver deur die Groot Karoo se bossieveld. Die twee ruiters wat op ’n lui stappie van die veld af daarop indraai is half aan die slaap en laat die perde met loshangende teuels hul eie koers vat op die twee wielspore wat deur die jare deur tallose waens in die grond uitgekalwe is. Die son bak op die klippe en die hond wat probeer om in een van die perde se skaduwee te bly se tong hang lank uit sy bek.

Skielik hou Boet sy perd in en styg af. Lang Henning ry nog ’n entjie verder, word dan heel wakker en keer terug na sy metgesel toe.

‘Wat’s verkeerd?’ vra hy.

Boet het die perd se een voet opgetel en krap met sy vingernael op die sool.

‘Hy’s weer kruppel,’ sê hy. ‘Ek moes hom nog laat rus het.’

Lang Henning spring van sy perd en kom bekyk die hoef.

‘Lei hom ’n bietjie dat ek sien,’ sê hy en Boet vat die perd op ’n sukkeldraffie weg en weer terug. Hy is duidelik kruppel en Henning knik sy kop.

‘Hy’s seer,’ bevestig hy. ‘Jy sal hom nie verder kan ry nie.’

Boet lyk nie bra gelukkig by die vooruitsig om te voet verder te gaan nie.

‘Wat gaan ons maak?’ vra hy.

Henning dink ’n rukkie, dan sê hy, ‘Dis verder om terug te gaan Fraserburg toe — as ek reg onthou kom die poskoets môre hier verby op pad Kimberley toe. Ons kamp hier, en môre ry jy verder saam met hulle tot by Wagenaarskraal. Ek sal jou perd lei tot daar en dan bly ons oor tot hy weer heel reg is.’

‘Hoe weet jy al hierdie goed?’ vra Boet.

‘Ek ken die MacRoberts, hulle boer op Wagenaarskraal,’ antwoord Henning.

‘Gawe mense?’

‘Gawe mense,’ beaam Henning.

‘Ek het nog nooit met ’n poskoets gery nie, het jy?’

‘Ja, maar dis nie iets om na uit te sien nie. Dit stamp jou binnegoed op ’n hoop.’

Boet lag.

‘Seker nie so erg nie anders sou niemand mos met hulle reis nie. Moet ’n mens betaal?’

‘Ja maar toemaar, ek het geld,’ stel Henning hom gerus. ‘Die laaste keer wat ek met Abbot kaart gespeel het, het ek gewen.’

‘Jy’s gelukkig,’ is al wat Boet sê. Abbot, ’n opperste swendelaar, se plan was om met sy pokerkaarte die plase van Verlatendal se boere van hulle wen sodat hy alle grond sou besit teen die tyd dat die regering ’n spoorlyn daar begin aanlê. As dit nie was dat Lang Henning betyds ingegryp het nie, sou hy seer sekerlik geslaag het ook.

 · · ·

Later die volgende oggend sien hulle uiteindelik die stofwolkie van die poskoets aankom. Hulle trap die laaste kooltjies van die kampvuur dood en Henning kry die perde reg. Syne saal hy op, maar Boet s’n kry net sy toom op.

‘Jy gaan net stap, nè?’ maak Boet seker. ‘Hy sal nie kan draf nie.’

‘Toemaar, ek sal goed kyk,’ stel Henning hom gerus.

‘En jy sal seker my hond ook by jou moet hou,’ sê Boet half bekommerd. ‘Ek wonder of hy sal bly.’

‘Hy sal, hy’s mos gewoond aan my. Ek sal hom in elk geval eers aan ’n tou vat.’

Boet knik.

‘Dit sal die beste wees,’ stem hy saam, ‘anders hardloop hy sweerlik agter my aan.’

Die poskoets kom vinnig nader en Boet verkyk hom aan die logge swaaiende gevaarte wat agter die sesspan perde aangesleep word. Hoog op die bok sit die koetsier en sy mededrywer en toe die koets naby genoeg is, sien Boet dat dié behalwe ’n groot pistool in ’n holster ook ’n geweer losweg in sy hande hou. ’n Entjie van waar hulle in die pad staan, trek die koetsier die leisels en roep, ‘Hoooo-nou!’ sodat die perde stilhou.

Die koetsier tel ook ’n geweer op en kyk argwanend na Henning wat nader aan die koets beweeg.

‘Wat soek julle?’ vra hy en rig die geweer op Henning. Henning tel sy hande op en paai.

‘Ons soek net ’n saamry tot by Wagenaarskraal,’ sê hy. ‘Een van ons perde is kruppel.’

‘Wie is jy?’

‘Die naam is Henning, en dit is Boet,’ sê Henning terwyl Boet nog probeer inkry dat hy Jakobus Delport is.

Die koetsier beskou hulle, kyk sy maat aan en laat sak dan die geweer.

‘Goed,’ sê hy. ‘Klim dan maar in, daar is nog oorgenoeg plek binne.’

‘Dis net vir hom,’ verduidelik Henning terwyl hy na Boet wys. ‘Ek ry ons perde tot by die volgende uitspan. Dis mos Wagenaarskraal, dan nie?’

Die drywer skud sy kop.

‘Nee, daar’s nog een voor dit. Volg maar net die spore, jy sal wel daar uitkom. Toe Boet, sit jou goed bo-op en klim dat ons aangaan.’

Henning help Boet sy saal en saalsakke bo-op die koets se dak laai en voordat Boet inklim vra hy, ‘Moet ek nou aanry Wagenaarskraal toe?’

‘Nee, net tot by die volgende pos, dan hoef jou perd ook nie so ver te gaan nie.’

‘Reg,’ sê Boet en klim in. ‘Onthou om die hond vas te bind,’ maan hy nog voor die koetsiersmaat die sweep klap en die perde in beweging kom. Henning tel sy hand in groet op en kyk die poskoets agterna terwyl hy wonder hoekom die twee drywers so geredelik gewapen is. Dan skud hy die vae gevoel van onrus van hom af.

‘Kom hond,’ roep hy en die hond volg hom gehoorsaam na waar die perde staan en wag.

 · · ·

Daar is net vyf mense in die poskoets en Boet maak hom tuis langs twee van hulle, ’n man en ’n seun van omtrent sy eie ouderdom. Toe hy eers sit, kyk hy die ander nuuskierig aan. Behalwe die twee langs hom is daar ’n ouer man, ’n jong man en ’n meisie op die oorkantse bank. Al vyf se gesigte is na hom gedraai.

‘Ek is Jakobus Delport,’ stel Boet homself voor en voeg eerliksheidshalwe by, ‘Party mense noem my Boet.’

Die ander antwoord een vir een.

‘Vivejee.’ Die groot man beduie met sy kop na die seun wat tussen hom en Boet sit. ‘Karel.’

‘Jansen,’ kom dit van die ouer man en die jongman volg met, ‘Combrinck. En dis my suster, Elsie.’

‘Aangename kennis,’ sê Boet terwyl hy Elsie Combrinck belangstellend beskou. Klein en fyn en die donker kappie omraam ’n gesiggie waaruit helder blou oë hom vrolik aankyk. Amper so mooi soos Nelie, besluit Boet en vir ’n oomblik gaan sy gedagtes weemoedig terug na die plaas by Beaufort waar ’n pragtige meisiekind bly, onbewus van sy vurige liefde vir haar. Maar hy kom gou terug na die werklikheid. Nelie moet wag, hy en Henning gaan eers sy pa se erfgeweer by die Gariep haal.

‘Gaan jy ook Kimberley toe?’ vra die man wat homself as Jansen voorgestel het. Hy is skraal en selfs soos hy sit kan Boet sien hy is kort. Sy klere is vol stof, maar netjies en van goeie snit. Sy gesig vertoon ’n skaduwee van ’n baard, maar is fynbesnede en sy hande is wit en sonder eelte. Duidelik nie iemand wat gewoond is aan buite werk nie. Wat sou hy op Kimberley se diekens gaan soek?

‘Nee,’ antwoord Boet, ‘ek is op pad Gariep toe, maar my perd het kruppel geraak en my maat vat hom na die volgende pos sodat hy kan rus.’

‘Waar by die Gariep?’ vra Elsie se broer. ‘Ek ken nie hierdie wêreld nie.’

‘Ek is nie seker nie, maar my pa se geweer is laas deur ’n klomp boewe gesteel,’ verduidelik Boet, ‘en ek gaan dit terughaal.’

‘Hoe weet jy dis daar?’ wil Combrinck weet.

‘Henning sê so,’ sê Boet en bloos skielik toe hy besef hoe kinderlik dit klink. ‘Ek bedoel — ’

‘Wie is Henning? Die man wat daar saam met jou was?’ vra Elsie belangstellend. Boet knik en besluit dis raadsaam om die onderwerp te verander. Wat is dit van Henning wat die meisies soos bye na ’n heuningblom toe aantrek?

‘Gaan julle almal Kimberley toe?’ vra hy in die algemeen.

Hierdie keer is dit Vivejee langs hom wat antwoord, ’n lywige oom met ’n rooi gesig en die klere van ’n man wat in die buitelug lewe. Boet wonder of Karel sy seun is. Dié het nog nie ’n woord gesê nie, net gesit en voor hom uitkyk.

‘Ons gaan diamante uitgrawe, nè seun?’ sê hy en stamp die ander in die ribbes met sy elmboog. Karel glimlag floutjies en beaam, ‘Ja, Pa.’

’n Oomblik flits daar iets in sy oë, maar dis so vinnig dat Boet wonder of hy hom verbeel het. Nuuskierig kyk hy die seun aan.

‘Waarvandaan kom julle?’ vra hy. Maar dis Vivejee self wat antwoord voor die seun iets kan sê.

‘Van die Kaap af,’ sê hy.

‘Maar julle het nou net eers opgeklim,’ merk Elsie op. ‘By die vorige uitspanplek. Hoe het julle dan daar gekom?’

‘Met ’n ander koets, maar toe het Karel siek gevoel en ons het oorgebly tot hy beter was,’ verduidelik Vivejee vlotweg. Boet sien dat Karel op sy lip byt en probeer hom weer betrek.

‘Wat het makeer?’ vra hy.

Weer antwoord Vivejee.

‘Appelkoosmaag,’ sê hy en lag spottend, ‘en met so ’n geskittery kan jy nie poskoets ry nie.’

Boet sien Elsie bloos en dat Combrick hom vererg vir die man se kru taal. Vinnig sê hy, ‘Haai, dit laat my mos ewe skielik dink dat ek lanklaas geëet het. Het hulle darem kos by die uitspanne?’

‘Ja, daar bly mense wat vir die perde sorg,’ sê Elsie. ‘Ons staan gewoonlik vir ’n halfuur oor terwyl hulle die perde omruil, maar jy gaan mos daar bly sê jy. Jy kan seker saam met hulle eet. Is jy honger?’

‘Nogal,’ sê Boet en Elsie reik na ’n mandjie wat tussen haar en haar broer staan.

‘Ek het nog ’n bietjie padkos as jy wil hê,’ bied sy aan. ‘Net biltong en beskuitjies en ’n paar hardgekookte eiers, maar dis darem beter as niks.’

‘Het jy dan nog vir julle?’ vra Boet beleefdheidshalwe. ’n Mens eet darem nie iemand se laaste stukkie kos op nie.

‘Dis nog net een pos en dan is ons by Wagenaarskraal,’ stel Elsie hom gerus. ‘Daar bly ons oor vir die nag en kan ons nuwe padkos koop sê hulle.’

Dankbaar neem Boet die kos aan, maar hy eet alleen want die ander bedank almal.

‘Ek is al uitgeëet aan biltong en beskuit,’ kla Combrinck en Jansen knik sy kop.

‘Ja, ek smag na ’n bord gekookte kos,’ sê hy verlangend.

‘Ek ook,’ verseker Boet hom, ‘maar intussen is hierdie ook lekker.’

Hoewel die rit stamperig is, raak die ouer mense weldra lomerig en kort voor lank is nog net Boet, Elsie en Karel wakker. Elsie leun vooroor om met Karel te gesels.

‘Wat gaan julle op Kimberley maak?’ vra sy. Karel trek sy skouers op.

‘Ons sal sien,’ sê hy. Hy lyk nie gretig om te praat nie en dit maak Boet net meer vasberade om nog te wete te kom.

‘Het julle familie daar?’ vra hy.

Karel skud sy kop.

‘Vriende?’ probeer Boet weer.

‘Nee.’

‘Waar gaan julle dan ’n kleim kry? Die hele plek is al vol.’

‘Hoe weet jy?’ vra Elsie.

‘Ons was daar,’ sê Boet. ‘Dis waar ek vir Henning ontmoet het.’ Inwendig krimp hy ’n oomblik inmekaar van skaamte by die herinnering aan hoe hy Henning vals beskuldig het van die moord op sy ouers, maar dan skud hy dit van hom af. Henning self het vir hom gesê dit was ’n redelike misgissing en dat hy nie hoef sleg te voel daaroor nie.

‘Het julle diamante gekry?’ vra Karel, skielik die ene belangstelling. ‘Het jy nog daarvan by jou?’

‘Dink jy ek’s mal?’ snuif Boet minagtend.

‘Dis nie nodig om jou te wip nie,’ wys Elsie hom tereg. ‘Dis ’n logiese vraag aan iemand wat sê hy was kamtig in Kimberley.’

‘Nee, regtig, ek was daar,’ verdedig Boet homself. ‘Ons het net nie gegrou nie. Henning is ’n bokser en ek het hom bygestaan. Ons het hope geld gemaak.’

‘Waar’s dit?’ wil Karel weet.

‘In my saalsakke,’ sê Boet moedswillig. ‘Op die koets se dak.’ Hy wys met sy vinger boontoe. ‘Daar.’

‘Gits, is dit nie gevaarlik om so ’n klomp geld saam met jou te dra nie?’ vra Elsie bekommerd. Boet trek sy skouers op.

‘Wat anders? Ons bly nooit lank genoeg op ’n plek om dit in die bank te sit nie.’ By homself wonder hy hoekom hy nou eintlik so jok. Is dit om vir Karel en Elsie te beïndruk? Skielik sien hy dat Karel se pa nie slaap nie, maar hom dophou deur skrefie-ooglede. Haastig stuur hy die gesprek in ’n ander rigting.

‘Hoe lank ry julle al?’ vra hy. ‘Word die perde nie moeg nie?’

‘Hulle word elke twee ure omgeruil,’ antwoord Elsie. ‘Die uitspanposte is twaalf of so myl uitmekaar, hoor ek.’

‘Sjoe, maar dan is daar mos baie perde so langs die pad,’ sê Boet verbaas.

‘En muile,’ voeg Elsie by. ‘Ons het ook al ’n paar spanne muile gehad.’

‘Ons behoort nou amper daar te wees,’ laat Combrinck van hom hoor waar hy gapend wakker word. Ook Jansen se oë gaan oop terwyl Vivejee hom opsetlik so rek asof hy self vas aan die slaap was. Boet kyk hom ’n oomblik stip aan, maar vind niks wat sy agterdog aanblaas nie. Hy besluit hy het hom seker maar verbeel en leun by die poskoets se venster uit om te sien wat buite aangaan.

 · · ·

Die uitspanning bestaan uit ’n ry stalle, ’n skuur en ’n klein woning vir die poshouer. Agter die geboue is ’n kraal waarin perde staan en hopies hooi kou. Toe die koets stilhou, word die perde onmiddellik uitgespan deur ’n paar mans wat hulle na die kraal vat om koud te lei en te los sodat hulle in die kraal kan rol om droog te word. Daarna word vars perde uit die stalle gehaal en voor die koets gespan.

Boet verkyk hom aan die seepgladde verloop van die hele gebeure. Binne tien minute is die koets gereed om te vertrek.

‘Wil iemand nog vertoef?’ vra die koetsier. Almal skud hulle koppe daar waar hulle by die koets staan en wag. Hulle is haastig om by die laaste uitspan van die dag te kom.

‘Nou goed, kry jou goed af, Boet, dat ons kan ry,’ maan die koetsier hom. Boet aarsel. Toe, op die ingewing van die oomblik, vra hy, ‘Kan Oom ’n oomblik wag?’ en gaan na die poshouer toe wat by die kraal staan en die natgeswete perde deurkyk.

‘Middag,’ groet Boet en toe die man omdraai, ‘Kan ek Oom gou ’n guns vra?’

‘Ek dog jy klim hier af, is dit nie wat die kaptein gesê het nie?’ vra hy. ‘Waar’s jou bagasie?’

‘Nee, ek gaan weer saam, maar ek wil Oom vra om asseblief my vriend ’n boodskap te gee as hy hier aankom. Sal Oom?’

‘As ek kan, alte seker, maar wie is jou vriend en hoekom sal hy hier aankom en hoe sal ek hom ken?’ vra die ander.

‘Dis maklik,’ verseker Boet hom. ‘Hy sal hier aangestap kom met twee perde en hy’s ’n lang ou met rooi hare. Oom sal sommer weet dis hy. En ek sal bly wees as Oom dan vir hom sê dat ek met die koets deurry Wagenaarskraal toe want daar het iets voorgeval.’

‘Jy ry Wagenaarskraal toe want daar het iets voorgeval,’ herhaal die poshouer. ‘Wat?’

‘Nee, maak nie saak nie, hy sal verstaan, sê net hy moet gou maak,’ antwoord Boet. ‘Sal Oom my perd dan hier hou sodat hy vinniger kan agternakom?’

Die poshouer skud verward sy kop.

‘Hoekom moet jou perd hier bly?’

‘Hy’s kruppel. Sal Oom? Asseblief! Ek moet nou klim. Totsiens Oom, en sê groete vir Henning.’

Boet hardloop om in die koets te kom.

‘Henning?’ vra die poshouer vir die koets se agterkant. ‘Wie de duiwel is Henning?’

 · · ·

Toe Boet uitasem in sy plek terugsit, kyk Vivejee hom vorsend aan.

‘Wat het hy vir jou gesê?’ vra hy.

‘Niks belangriks nie. Hoekom?’ wil Boet weet. Hy sien dat Karel ongemaklik lyk en sy hande onder sy sitvlak inskuif. Vivejee se glimlag is meer ’n gryns.

‘Nee, maar net gewonder. Hierdie ding dat die drywers geweers dra — Dit het my net laat dink daar’s dalk iets aan die gang,’ sê hy. ‘Hulle sal mos weet so by die pos.’

Nou is Boet nuuskierig. Wat vermoed Vivejee?

‘Wat weet, Oom?’ vra hy. ‘Hy’t niks gesê van geweers of iets nie. Dink Oom daar’s gevaar voor?’

‘Struikrowers dalk?’ vra Elsie met groot bang oë. Sy skuif nader aan haar broer. ‘Jong, Pieter, daar is mos nou die dag ’n koets helder-oordag voorgekeer, het jy nie so gesê nie?’

‘Waar?’ vra Boet opgewonde.

‘Hierdie selfde roete,’ sê Combrinck. ‘Die koets het ’n klomp goud vervoer en dis alles gesteel.’

‘En die mense?’ wil Boet weet. Combrinck skud sy kop.

‘Nee ek weet nie, maar ek glo nie iemand het seergekry nie. Die rowers was net agter die goud aan.’

‘Kan jy nou meer,’ verbaas Boet hom. ‘Ek’s bly daar’s nie goud op hierdie koets nie.’

Dis Jansen wat antwoord.

‘Ek sou nie so gerus wees as ek jy is nie,’ sê hy onheilspellend.